Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA-mosie verslaan om Ace-hulle voor wetgewer te daag

’n DA-mosie in die Vrystaatse wetgewer dat Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC en voormalige Vrystaatse premier, en ander politici gedagvaar word om hul rol in die omstrede Vredesuiwelprojek te kom verduidelik, is met ’n meerderheid stemme verwerp.

Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie, het Dinsdag in sy mosie gesê die wetgewer het kennis geneem dat ’n gesamentlike komitee van die wetgewer wat saamgestel is om die suiwelprojek te ondersoek, reeds daarteen gestem het dat die betrokke politici voor hom moet verskyn.

Magashule en die voormalige LUR’e vir landbou, Mosebenzi Zwane en Mamiki Qabathe (wat nou die speaker is), moes voor die gesamentlike komitee verskyn om hul rol in die omstrede projek te verduidelik.

Dié komitee is saamgestel uit die provinsiale openbare-rekeningekomitee, en die portefeuljekomitees vir landbou, landelike en ekonomiese ontwikkeling en kleinsake, en vir sport, kuns en kultuur.

Ace MagashuleFoto: City Press/News 24

Jankielsohn het gesê die DA is van mening dat dit baie belangrik is dat dié drie verskyn, en gevolglik versoek hy in die mosie dat die besluit van die gesamentlike komitee dat die politici nie hoef te verskyn nie, omgekeer word en dat Magashule, Zwane en Qabathe gedagvaar word om wel hul rol te kom verduidelik.

Jankielsohn het gesê die ooreenkoms tussen Estina en die Vrystaatse provinsiale regering is in Magashule se premierskantoor geïnisieer, opgestel en onderteken.

“Magashule het na Indië gereis om werwing vir die projek te gaan doen.”

Jankielsohn sê die Vrystaatse regering onder Magashule, die provinsiale tesourie onder die LUR Elzabé Rockman, en die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling, onder die LUR Qabathe, het voortgegaan om geld vir die projek te gee nadat dit duidelik was dat alles nie pluis is daarmee nie.

“Dit was ondanks ’n verslag van die nasionale tesourie wat geldelike wanbestuur blootgelê het en die onttrekking van finansiering deur die nasionale departement van landbou om dieselfde redes.”

Hy sê Zwane was ’n argitek van die projek en het probeer om die beweerde toekenning van R30 miljoen van die Vrede-projek vir die Gupta-troue in Sun City toe te smeer. Hy het dieselfde probeer doen met die onwettige landing van ’n vliegtuig met Gupta-gaste by die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria.

“Die begunstigdes is nooit in die projek ingesluit nie, wat die rede vir die bestaan van die projek as ’n legitieme landbouprojek ongedaan gemaak het.

“Die Vredemelkplaas was nie opgerig om koeie te melk nie, maar die belastingbetaler,” het Jankielsohn gesê.

Sy mosie is egter met 18 stemme teen sewe verslaan.

Die Vredemelkplaas was nie opgerig om koeie te melk nie, maar die belastingbetaler.

Die DA, VF Plus en EFF het die mosie ondersteun.

“Skaam julle, skaam julle!” het Jankielsohn die ANC-wetgewerlede toegevoeg toe hulle teen sy mosie gestem het.

Jankielsohn het vroeër in die sitting ’n beroep op wetgewerlede gedoen om die mosie te ondersteun omdat dit die integriteit en waardigheid van die wetgewer sou herstel.

Thabo Meeko, ANC, het later op ’n ander punt gesê “die DA-mosie wat ingedien is, dui daarop dat die DA die demokratiese prosesse van ondersoek na die projek wil ondermyn”.

“Die Vredesuiwelprojek dien tans voor die Vrystaatse hooggeregshof en die saak is by die Valke, die spesialisondersoekers van die polisie, ingedien.”

Jankielsohn meen dit is nie reg dat die politici wat die projek geïnisieer en in werking gestel het, skotvry wegstap terwyl amptenare alleen die spit moet afbyt nie.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Vrede-Suiwelprojek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.