Die DA staan onomwonde vir nierassigheid.
Dié beginsel is waarmee die meer as 200 afgevaardigdes by dié party se eerste aanlyn beleidskonferensie saamgestem het toe hulle Saterdagoggend ’n beleidsvoorstel daaroor as DA-beleid aanvaar het.
Dit was op die eerste dag van die twee dae lange beleidskonferensie waar partylede tans verskeie beleidsvoorstelle bespreek en wysig met die doel om dit as deel van die party se beleidsdokument oor waardes en beginsels te aanvaar.

John Steenhuisen. Foto: Lindile Mbontsi
Netwerk24 Foto: Lindile Mbontsi
Die beleid oor nierassigheid lui onder meer dat nierassigheid neerkom op die verwerping van ras as ’n wyse om mense veral met betrekking tot wetgewing te kategoriseer en te behandel.
“Die aanname dat iemand se ras mense verteenwoordig wat dieselfde dink en voel of wat dieselfde ervaring van gedeelde gebeurtenisse het gegrond op hul fisieke voorkoms, is vals.
“Alhoewel daar wetenskaplike konsensus bestaan dat ras self nie bestaan nie, bestaan rassehaat en rassisme en het dit ’n diepgaande en skadelike impak op die lewe van individue en die samelewing. Dit is afskuwelik en verfoeilik.
“ ’n Groot mate van skade was aangerig en word steeds aangerig op grond van die vals oortuiging oor rasverskille. Maatskaplike groepe gegrond op faktore soos kultuur, godsdiens, politiek en taal bestaan. Mense wat egter met mekaar vereenselwig op hierdie basis, moet nie in smal raskassies gedruk word wat uit ons verdeelde verlede oorgeërf is nie.”
Die DA-beleid lui verder dat nierassigheid daarom ’n verbintenis is om nie net rassehaat en rassisme te verwerp nie, maar ook om vir die dekonstruksie van ras en die herkonstruksie van ’n nierassige toekoms te veg.
Die beleidskonferensie duur voort.
*Volg Netwerk24 vir meer oor die berig.