Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA paai Schweizer voor verkiesing

Die DA het sy groot kanonne gestuur om sake met kiesers in Schweizer-Reneke te gaan regstel kort voor die Noordwes-dorp sy hele munisipale raad herkies.

Elana Barkhuizen, die Schweizer-Reneke-onnie wat verkeerdelik van rassisme beskuldig is. Foto: Deon Raath

Nog voordat John Steenhuisen, tussentydse leier van die party, Vrydag aan deure gaan klop het op dié dorp in Noordwes, het Helen Zille, voorsitter van die federale raad, Woensdagaand met sowat 60 genooide gaste vergader om te gesels oor die party se aandeel in die debakel verlede jaar waartydens ’n laerskoolonderwyseres, Elana Barkhuizen, verkeerdelik van rassisme beskuldig is.

’n Spesiale tussenverkiesing word Woensdag gehou om ’n nuwe raad vir die plaaslike Mamusa-munisipaliteit te kies. Die provinsiale regering het die munisipaliteit verlede jaar in Mei onder administrasie geplaas, maar dié ingryping het geen vrugte afgewerp nie en die Mamusa-raad is in Oktober ontbind. Voor die ontbinding het die ANC 11 raadslede gehad, die Forum for Service Delivery drie, die EFF twee, en die DA en die VF Plus een elk.

Zille het aan die gaste verduidelik dat die DA se federale hoofkantoor opgetree het volgens advies van die politieke strateeg Stan Greenberg, wat gelei het tot die party se duur flater op Schweizer-Reneke. Greenberg het oudpres. Bill Clinton van die VSA, Tony Blair, voormalige eerste minister van Brittanje, en die ANC in 1994 geadviseer. Hy is in 2013 deur die DA in diens geneem.

‘Dis tyd vir aksie, nie woorde nie.’

Greenberg het aanbeveel dat die DA “sagte ANC-kiesers” drasties teiken deur “dramatiese, simboliese en katalitiese oomblikke” te gebruik om te wys dat die DA nie ’n “wit party” is nie, aldus ’n senior DA-bron.

Zille sê Greenberg het nie spesifiek oor die hantering van die Schweizer-voorval advies gegee nie, maar eerder oor die DA se hele strategie in die aanloop tot die verkiesing.

Drie DA-bronne het verlede jaar beweer die party se voormalige uitvoerende hoof, Paul Boughey, was verantwoordelik vir die verklaring en optrede van die federale jeugleier, Luyolo Mphithi, wat gelei het tot die beskuldigings teen Barkhuizen.

Boughey ontken egter hy was betrokke.

Die Schweizer-herrie is ontketen nadat ’n foto versprei is van wit en swart kinders wat by verskillende tafels sit in ’n kollega van Barkhuizen se gr. 1-klas. Die kinders is vanweë taalverskille geskei.

Op Twitter het Mphithi geskryf: “Dit is hoekom ek nie sal ophou totdat ons ’n gelyke samelewing het nie. Dit is ’n skool in Noordwes. Dit breek my.”

Die DA se hantering van die saak het die party heelwat stemme gekos, het ’n interne ondersoek bevind. Die party het sedertdien nog ’n ondersoek na die voorval gelas, waarvan die bevindings reeds op Zille se lessenaar lê voordat die party se federale uitvoerende raad dit tussen 19 en 23 Januarie gaan bespreek.

Rapport verneem Barkhuizen het nie Woensdagaand se vergadering bygewoon nie, al het die DA verskeie kere na haar uitgereik.

Steenhuisen het Vrydag deur die strate van Schweizer-Reneke geloop en verskeie huise besoek.

“Die situasie in Schweizer-Reneke is benard, inwoners is gefrustreerd. Daar is geen skoon, lopende water nie, riool loop in die strate af en werklose jong mense sing in die straat sonder enige werksgeleenthede om hulself en hul gesinne te bemagtig.

“Dis tyd vir aksie, nie woorde nie,” het Steenhuisen ná sy besoek getwiet.

Meer oor:  Helen Zille  |  John Steenhuisen  |  Schweizer-Reneke  |  Da  |  Tussenverkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.