Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA-raadslid in pekel oor WhatsApp-katgevegte

’n DA-raadslid van die Midvaal-munisipaliteit het haar so vervies vir ’n inwoner se geteem dat sy hom ’n “idioot” genoem, ’n paar keer die f-woord gebruik en hom glo as ’n “moffie” uitgekryt het.

Salomé Janse van Rensburg, die DA-raadslid.

Salomé Janse van Rensburg, ’n raadslid van Vereeniging in dié DA-beheerde munisipaliteit, het met haar uitbarstings haar ’n boete van R6 300 – ’n kwart van haar maandelikse salaris – op die hals gehaal. Die munisipaliteit het haar die afgelope week skuldig bevind aan ’n oortreding van die gedragskode vir raadslede.

Sy moet ook ’n openbare verskoning uitreik.

Die VF Plus het haar verkla.

Die drama het in Junie begin toe woonbuurte van Midvaal, wat dorpe soos Meyerton en Henley-on-Klip insluit, twee dae lank nie water gehad het nie.

‘Ek het genoeg gehad van julle k*k.’

Janse van Rensburg, ’n eiendomsagent wat al twee jaar as raadslid dien, het in ’n Whats­App-groep genaamd “Midvaal Wyk 2 – dienste” aan inwoners terugvoering gegee oor die probleem. Volgens haar was dit ’n waterpyp van die aangrensende Emfuleni-munisipaliteit (Vereeniging, Vanderbijlpark en Drie Riviere) wat gebars het.

Sy het op die WhatsApp-groep in ’n stemnota laat weet: “Ry uit na Blackwoodstraat, daar bo by Fourways. Dit is ELM (Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit) en Randwater wat ons die probleem gee,” verduidelik sy in Engels, voordat sy hoorbaar al hoe heftiger raak.

Rudy Francis, wat by ’n kinderhuis in Meyerton werk, se geduld was op. “Toe ry ek soontoe – en hulle sê dis Midvaal se pyp,” sê Francis aan Rapport.

Hy laat weet toe dadelik vir die inwoners op die WhatsApp-groep dit is eintlik Midvaal se skuld. Dít het Janse van Rensburg laat kop verloor.

In ’n stemnota aan die inwoners trek sy te velde: “Ons het 12 000 f*kken liter water aan (die)bleddie Midvaal-hospitaal gegee, want f****n ANC Emfuleni het geen f*kk*n water nie en almal op die groep wil my k*k gee. Ek het genoeg gehad van julle k*k. (As) julle dienslewering wil hê, gaan woon in f****n bleddie Drie Riviere!”

Rudy Francis

Francis woon op die grens tussen dié twee munisipaliteite. Janse van Rensburg is sy raadslid, maar sy straat se dienste word eintlik deur Emfuleni gelewer.

Francis sê hy kon nog die geskel hanteer, maar Janse van Rensburg se homofobiese uitlatings was die laaste strooi.

“Sy het vir my gesê: ‘Ag, jou f****n moffie, go play with your cars on the highway.’”

Dit het toe tot verdere katgevegte op WhatsApp gelei.

Janse van Rensburg het teenoor Rapport erken dat sy haar humeur verloor het, maar ontken ten sterkste dat sy Francis ’n “moffie” genoem het.

“Ek het vir hom gesê: Gaan speel in die verkeer!

“Ons kom goed oor die weg met die LGBTIQ-gemeenskap.”

Sy sê Francis het die verkeerde inligting vir ander inwoners gegee. Terwyl die water af was, het verskeie inwoners Janse van Rensburg gebel. “Saterdagoggend 04:00 het ’n tannie my gebel en die dag vantevore het ’n vrou my baie sleggesê.” Sy sê sy besef dis deel van haar werk as raadslid dat mense ongewone ure bel. “Ek het baie geduld. Ek het in twee jaar (as raadslid) nooit op iemand geskree nie. Ek werk my g*t af en hy (Francis) sê my sleg.”

Janse van Rensburg sê sy gaan die VF Plus dagvaar vir laster weens die bewerings wat hulle oor haar gemaak het.

Kobus Hoffman, die VF Plus se onderleier in Gauteng, sê hulle is tevrede met die skuldigbevinding en wag vir Janse van Rensburg se verskoning.

Hoffman het in ’n stemnota aan Janse van Rensburg dié raad: “Salomé, as raadslid kry jy altyd mense wat jou vloek en jou slegsê. Die trick is om nie tot op daardie vlak te daal nie. Nederigheid is die antwoord. Sterkte daar.”

Bongani Baloyi, DA-burgemeester van Midvaal, sê die etiekkomitee het die saak hanteer. “Ek vind die optrede van raadslid Salomé teleurstellend en ’n verleentheid vir Midvaal en die DA.” Hy sê die DA oorweeg nog of verdere stappe deur die party gedoen moet word.

Meer oor:  Midvaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.