Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA: Ramaphosa moet OB se saak self betaal

Die DA sê as pres. Cyril Ramaphosa in die toekoms sou besluit om adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), se verslag oor sy bande met Bosasa in die hof op hersiening te neem, moet hy sy eie geld gebruik.

cyril ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Jaco Marais

Die OB ondersoek nog die saak.

Mmusi Maimane, DA-leier, sê dit is die president se volste reg om die verslag op hersiening te neem as dit nodig sou wees, maar daar kan nie van Suid-Afrikaanse belastingbetalers verwag word om daarvoor te betaal nie.

Ramaphosa moet self betaal omdat hy die saak in sy persoonlike hoedanigheid hof toe neem, sê Maimane.

Die DA-leier sê hy het Dinsdag in ’n brief aan Ramaphosa gevra om die onderneming te gee dat hy uit sy eie sak sal betaal.

Die president moet Suid-Afrikaners ook verseker hy sal nie die staatsprokureur gebruik of van dié verwag om te betaal nie.

Maimane sê die land kan nie meer bekostig om miljoene rande aan Ramaphosa te gee om sy persoonlike regsake te beveg nie.

Die OB ondersoek die R500 000-“skenking” wat Ramaphosa van Gavin Watson, uitvoerende hoof van Bosasa, ontvang het en die moontlike belangebotsing tussen Ramaphosa, sy seun, Andile, en Bosasa.

Die DA meen die skenking is nie toe aan die president, wat destyds nog adjunkpresident was, gedoen nie, maar aan ’n private burger wat ANC-president wou word.

Maimane sê die hooggeregshof in Pretoria het in 2017 die presedent geskep toe hy beslis het die staat het nie nodig gehad om oudpres. Jacob Zuma se hersieningsaak teen adv. Thuli Madonsela, die vorige OB, te finansier nie. Zuma moes self betaal.

Khusela Diko, die president se woordvoerder, het by navraag gesê die DA moet eers wag vir die OB se verslag en nie probeer om met die proses in te meng deur “spekulatiewe en afgebroke kommentaar in die openbaar” nie.

Adv. Busisiwe Mkhwebane. Foto: Daily Sun

Diko wys ook daarop die klagte wat die DA by die OB oor die saak ingedien het, het sy ontstaan gehad in wat Ramaphosa — in sy hoedanigheid as staatshoof — geantwoord het in reaksie op ’n vraag van die DA in die parlement.

“Die beantwoording van vrae in die parlement is ’n fundamentele deel van die president se verantwoordelikhede as staatshoof.

“Die DA het sy vrae aan die president gerig as president van die republiek — en nie as president van die ANC nie. Dit is omdat die opposisie probeer het om die integriteit van die president van die land te bevraagteken.”

Diko sê dit is dieselfde DA wat die regering gereeld waarsku om nie staat en party as een te sien nie.

Meer oor:  Da  |  Ob  |  President  |  Cyril Ramaphosa  |  Mmusi Maimane  |  Busisiwe Mkhwebane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.