Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA sal druk dat dié uitgawes streng beperk word

Die DA gaan alles in sy vermoë doen om te verseker dat die beoogde hersiening van die ministeriële handboek, wat uitspattige voordele vir ministers voorskryf, dié keer so spoedig moontlik afgehandel én aansienlik afgeskaal word.

Senzo Mchunu. Foto: Witnessmedia

Die nuwe weergawe van die handboek, wat pres. Cyril Ramaphosa op 8 Junie afgeteken het, lê onder meer riglyne neer oor watter motors ministers en adjunkministers mag aankoop, hoeveel reiskoste hulle mag aangaan en hoeveel geld aan die opknapping van veiligheidsmaatreëls aan hul private wonings bestee mag word.

Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie, het verlede week in sy departement se begrotingsrede in die parlement gesê hoewel die handboek hersien is, “is daar nog gedeeltes wat ons aandag geniet”.

Hy het ook aangekondig dat Ramaphosa vir hom, Tito Mboweni, minister van finansies, en Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, aangestel het om geïdentifiseerde gebiede soos beperkings op die aankoop van ampsmotors, tariewe op private motors en veiligheidsopknappings te hersien.

“Daar mag ander kwessies wees waarna die drie ministers sal kyk. Ons sal dit binne twee maande afhandel en aan die kabinet verslag doen,” het Mchunu gesê.

Vroeër is berig hoe ministers ingevolge die ou handboek voertuie van tot R1,6 miljoen koop, eersteklas vlieg en in vyfsterhotelle tuisgaan.

Dr. Leon Schreiber, DA-LP en woordvoerder oor staatsdiens en administrasie, het Sondag in ’n verklaring gesê Mchunu se aankondiging oor die hersiening kom ná volgehou druk deur die DA in die portefeuljekomitee oor staatsdiens en administrasie.

Hy sê die DA is baie bekommerd oor die onverskillige wyse waarop die regering dié belangrike kwessies hanteer.

“Pres. Ramaphosa het net onlangs nog die hersiene handboek afgeteken wat op 8 Junie gepubliseer is. Net ’n maand later wil hy dit weer laat hersien.”

Volgens Schreiber dui dié chaos op ’n kommerwekkende gebrek aan leierskap en koördinasie van Ramaphosa en gee dit te kenne dat die president dit nie deeglik oorweeg het toe hy die nuwe weergawe ’n maande gelede goedgekeur het nie.

“Die DA gaan alles in sy vermoë doen om te verseker dat die handboek dié keer met dringendheid gehanteer word en betekenisvol afgeskaal word. Deur die voorbeeld van die Wes-Kaap te gebruik, sal ons druk vir streng bestedingsperke op voertuie, vir ministers en hul adjunkte om ekonomiese klas te vlieg, om vyfsterhotelle te vermy, om ministeriële ondersteuningspersoneel te halfveer en om die huidige voorsiening aan voormalige ministers van ’n leeftyd van eersteklas-vlugte af te skaf.”

Pres. Ramaphosa het net onlangs nog die hersiene handboek afgeteken wat op 8 Junie gepubliseer is.

Schreiber het bygevoeg dat daar hierdie keer geen rede is om die hersieningsproses te vertraag nie. Dit omdat die DA 12 jaar baklei het om die eerste handboek te laat hersien nadat dit in 2007 aanvaar is.

Die DA sal daarom in die portefeuljekomitee voorstel dat die nuwe, afgeskaalde handboek binne drie maande in werking gestel word. “Staatsgeld moet gebruik word om voorspoed vir die mense te skep en nie om Porsche-motors vir politici te koop nie,” het Schreiber gesê.

Meer oor:  Senzo Mchunu  |  Cyril Ramaphosa  |  Leon Schreiber
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.