Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA sal grondverslag ‘tot in hoogste hof’ beveg

Die parlement se aanvaarding van ’n verslag wat grondonteiening sonder vergoedig aanbeveel, sal “tot in die hoogste hof in die land” beveg word.

Die DA het dié aankondiging Dinsdag op ’n mediakonferensie by die parlement gedoen kort voordat die Nasionale Vergadering (NV) die verslag van die parlementêre grondwetlike hersieningskomitee om 14:00 sou debatteer en daaroor stem.

John Steenhuisen, DA-hoofsweep, Thandeka Mbabama, DA-LP, adv. Glynnis Breytenbach, DA-LP, dr. Annelie Lotriet, DA-LP, en Vusi Magwebu, DA-LP, wat op die komitee gedien het, het die mediakonferensie bygewoon.

Dié komitee het op 15 November sy finale verslag aanvaar ná ’n maande lange proses waartydens openbare sittings gehou is en honderde skriftelike voorleggings ontvang is.

Die verslag oor die skriftelike voorleggings is nie gefinaliseer nie, tog het die ANC en die EFF die finale verslag goedgekeur. Dit is ’n aanduiding dat die proses bloot ’n rookskerm was vir wat uiteindelik ’n uitkoms was wat vooraf bepaal is.
Adv. Glynnis Breytenbach, DA-LP

Dit baan die weg vir die wysiging van art. 25 – die eiendomsklousule van die Grondwet – om grondonteiening sonder vergoeding duidelik uit te stippel.

Mbabama het gesê die DA is gereed vir die regstryd. “Die DA is verbind daartoe om die stryd tot in die hoogste hof in die land te neem as die parlement nie die verslag terugstuur na die komitee nie.

“Ons het die komitee tydens die hele proses gewaarsku dat die wysiging aan die Handves van Menseregte vereis dat behoorlike prosesse gevolg moet word.

“Die DA het met ons regspan gekonsulteer en ons verstaan wat die proses is wat gevolg moet word. Sou die ANC en die EFF stem om die gebrekkige proses in die NV, sowel as die Nasionale Raad van Provinsies, te aanvaar sal die DA nie huiwer om die howe te nader nie,” het Mbabama gesê.

Sy het bygevoeg dat AfriForum in sy hofgeding misluk het omdat hy nie die parlement die geleentheid gegee het om sy prosesse af te handel nie.

Breytenbach het gesê die verslag bevat “ernstige prosedurele gebreke, veral wat betref die proses van openbare deelname.

“Die ANC en die EFF was vasberade om die skriftelike voorleggings wat teen die wysiging van art. 25 gekant was, te ignoreer. Meer as 80% van die skriftelike voorleggings was daarteen gekant.

“Die verslag oor die skriftelike voorleggings is nie gefinaliseer nie, tog het die ANC en die EFF die finale verslag goedgekeur. Dit is ’n aanduiding dat die proses bloot ’n rookskerm was vir wat uiteindelik ’n uitkoms was wat vooraf bepaal is,” het sy gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.