Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA sal nie weer ‘populistiese kortpaaie’ kies
John Steenhuisen Foto: Lindile Mbontsi

Onder sy leierskap sal die DA nie weer van sy kernbeginsels afwyk nie, sê John Steenhuisen wat Sondag amptelik in dié posisie verkies is.

Steenhuisen is verkies nadat hy Mbali Ntuli, wat hom teengestaan het vir die leierskap, uitgestof het deur sowat 80% van die stemme op die DA se federale kongres op hom te verenig.

Steenhuisen het in sy aanvaardingstoespraak erken dat die DA in die verlede foute begaan het deur “populistiese kortpaaie” te kies. Die party kon nie duidelike en beginselvaste leierskap bied nie.

Die party het op sy kongres die naweek “beleggersvriendelike” beleidsbeginsels bevestig, nadat hy op sy onlangse beleidskonferensie die beginsel van nierassigheid aanvaar het.

“Oor die afgelope jaar het ons ’n reis van introspeksie onderneem om dít te herstel wat in ons party gebreek was. Ek staan voor julle as die leier van ’n hernude Demokratiese Alliansie, en om jou ’n rede te gee om jou oë weer van die grond af op te slaan,” het Steenhuisen gesê.

Taai teenstander

Hy het Ntuli gelukgewens omdat sy ’n taai teenstander was wat die stryd nie vir hom maklik gemaak het nie.

“Jy het my met elke stap beveg en nooit opgegee nie. Jy het gehelp om ’n trotse demokratiese tradisie in die party te vestig. Ons bekroon nie ons leiers nie; ons verkies hulle.”

Volgens Steenhuisen is die land in groot moeilikheid. Die ellendige situasie is volgens hom veroorsaak deur ’n onbevoegde en korrupte staat wat te veel beheer uitoefen.

“In die afgelope kwarteeu is jy beroof van dit wat jou beskore is, en jou drome is gyselaar gehou deur burokrate en sentrale beplanners.”

Pleks daarvan dat die regering afsien van sy planne, wil hulle volgens Steenhuisen die beheer van die staat verder uitbrei. Tekenend daarvan is grondonteiening sonder vergoeding, die nasionale gesondheidsversekering en moontlike staatsinmenging in pensionfondse.

“Die regering is nie meer tevrede om jou te beheer nie; hy wil jou besit. Hy kom vir jou eiendom, vir jou gesondheid en jou spaargeld.”

'Mense soek mag en vryheid.'

Steenhuisen meen egter mense is moeg daarvoor om deur die regering voorgeskryf te word en wil nou op hul eie voete staan. Hulle soek mag en vryheid om hul eie keuses uit te oefen.

“Daarom moet mense by die stembus opdaag en vir die DA stem om die mag by die regering af te rokkel en dit weer in die hande van die mense te plaas. Daar is baie probleme in Suid-Afrika, maar die mense van die land is nie een daarvan nie.

“Mense smag na goeie skole, skoon drinkwater, ’n volhoubare veiligheidsnet vir die weerloses en betroubare kragvoorsiening sodat hulle hul eie drome in die lewe kan najaag.”

Volgens Steenhuisen sal die DA veg om ongeag hul agtergrond mag en geleenthede aan die mense van die land te gee. Die party is ’n tuiste vir almal wat ’n lewe vir hulself wil bou, aldus hom.

Die DA se taak is nou om te bewys dat sy beleid 30 miljoen mense uit armoede kan ophef deur onder meer dienslewering te verbeter. Die fokus op die munisipale verkiesing in 2021 sal verskerp word.

“Deur ’n beginselvaste stryd te voer om die mag aan die mense te gee, sal ons die momentum aan die brand skop om die mag by die ANC af te neem,” sê hy.

Meer oor:  John Steenhuisen  |  Populisme  |  Verkiesing  |  Da Leier  |  Da  |  Kiesers  |  Stemme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.