Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA se daling by stembus raak moontlik poste, bonusse
Sommige DA-personeellede kan moontlik hul werk verloor.

Die DA se swakker prestasie by die stembus in Mei het sy geldsake so deurmekaar gekrap dat sy administratiewe personeel vanjaar hul bonusse kwyt is.

En daarby kan sommige DA-personeellede moontlik hul werk verloor.

Paul Boughey, uitvoerende hoof van die DA, het personeellede na wat berig word verlede week per brief ingelig dat die party weens die stand van sy geldsake nie in staat is om vanjaar bonusse te betaal nie.

Die DA se stempersentasie in die Mei-verkiesing het tot 20,77% gedaal teenoor die 22,23% wat dit in die 2014-verkiesing behaal het. Dit het beteken dat die getal setels wat die party in die Nasionale Vergadering hou van 89 tot 84 verminder het. Setels is ook in sommige wetgewers afgestaan.

Boughey het Maandag by navraag gesê die party is tans besig met ’n proses om te verseker dat die party “ten volle voorbereid” is om aan 2021 se munisipale verkiesing te kan deelneem. Deel hiervan is om te verseker dat die party vorentoe finansieel sterk bly.

As deel van ’n herstruktureringsproses in die party ná die Mei-verkiesing kan sommige poste volgens Boughey verlore gaan.

“Dit is ’n normale deel van die omgewing ná ’n verkiesing. Ons was in staat om aansienlike bedrae oor die afgelope twee verkiesings in te samel en die 2019-veldtog was ten volle befonds. Ons is diep dankbaar vir ons skenkers vir hul ondersteuning nou en in die verlede.

“Ons het besluit dit is verstandig om nie bonusse te betaal nie om te help om ons finansiële welstand vorentoe te verseker, binne die konteks van die verskriklike ekonomiese omgewing,” lui sy antwoord.

Die DA se stempersentasie in die Mei-verkiesing het tot 20,77% gedaal teenoor die 22,23% wat dit in die 2014-verkiesing behaal het.

Op ’n vraag oor presies hoeveel poste op die spel is en of berigte akkuraat is dat sekere skenkers hul rug op die party gedraai het, het Boughey geantwoord dat die verkiesing ten volle befonds was en dat “proaktiewe” maatreëls geneem word om die ekonomiese klimaat te help bestuur.

“Ons behou baie hoë vlakke van skenkervertroue. Ons is besig met konsultasies en dit is slegs ’n klein minderheid personeel wat moontlik geraak kan word.”

Solly Malatsi, DA-woordvoerder, het die moontlike afleggings en niebetaling van bonusse toegeskryf aan die DA se prestasie by die stembus waarin die party nie so goed gedoen het soos verwag is nie en wat tot ’n verlies in die aantal setels in die NV, sowel as verskillende wetgewers, gelei het.

Die toedrag van sake is ook weens die “werklikheid van die huidige finansiële mark in die land.

“Die party hersien op ’n gereelde grondslag en ná ’n verkiesing sy bedryfsomgewing. Dit is om meer doeltreffend te wees en om te verseker dat ons ons hulpbronne optimaal gebruik om teikens in enige gegewe stadium te bereik.”

Meer oor:  Bonusse  |  Da  |  Poste  |  Stembus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.