Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA se omstrede reklamebord in Jhb gevandaliseer

Die DA is nie van plan om sy nuwe buitelug-reklamebord in Johannesburg met onder meer die name van die Life Esidimeni-slagoffers daarop te verwyder.

Dit is ondanks die feit dat die reklamebord skaars ’n dag ná die onthulling daarvan gevandaliseer is. Die boodskap op die reklamebord lui: “Die ANC vermoor ons.”

Die DA se omstrede reklamebord in die Johannesburgse middestad is reeds gevandaliseer nadat dit Woensdag onthul is.Foto: Felix Dlangamandla

Die name van slagoffers van Marikana, Life Esidimeni en puttoilet-tragedies word dan gelys.

Solly Malatsi, nasionale DA-woordvoerder, sê die reklamebord gaan nie verwyder word nie.

Die reklamebord is gevandaliseer enkele ure nadat dit Woensdag in die Johannesburgse middestad onthul is.

“Die beskadiging van ’n reklamebord is ’n misdaad. Ons sal die wetstoepassingsowerhede nader,” sê Malatsi.

Sommige familielede van die oorledenes het hul woede oor die reklamebord uitgespreek.

Volgens Christine Nxumalo, woordvoerder van die komitee wat Life Esidimeni-families verteenwoordig, het die DA nooit hul toestemming gevra om die name te gebruik nie. “Selfs as hulle toestemming gevra het, sou ons dit nie gegee het nie.”

Malatsi sê die DA het nie vir toestemming gevra nie omdat die name reeds deur talle media-instellings gepubliseer is en dit dus in die openbare domein is.

Die DA se reklamebord voordat dit gevandaliseer is. Foto: Felix Dlangamandla

Nxumalo meen egter dit is kultureel verkeerd.

Sy sê die ergste is dat die geraakte families nie by Woensdag se onthulling van die reklamebord was nie. “Ons het nie eens daarvan geweet nie. Dis nie die eerste keer dat Mmusi Maimane (DA-leier) so iets doen nie.”

Maimane het in Maart verlede jaar ’n gedenkplaat by die Talisman-stigting vir mense met geestesongesteldheid in Johannesburg onthul. Dit is opgerig ter nagedagtenis aan die pasiënte wat in die Life Esidimeni-tragedie dood is.

Nxumalo sê sy wou omval toe sy die DA se reklamebord op sosiale media gesien het.

“Ek kon nie slaap nie. Ek is woedend. Die DA probeer nog die heeltyd om die Esidimeni-tragedie deel van hul verkiesingsveldtog te maak. ’n Reklamebord word vir bemarking gebruik. Ons het gesê ons wil nie politiek in hierdie saak betrokke hê nie.”

Marie Collitz, wie se man in die tragedie dood is, sê sy is baie ontevrede oor die reklamebord. Dit het haar laat besluit dat sy nie vanjaar in die verkiesing gaan stem nie.

“Niemand doen iets nie. Hulle almal maak beloftes, maar kom dit nie na nie. Die geld wat ons gekry het, beteken vir ons niks nie.”

Die gedenkplaat wat die DA verlede jaar by die Talisman-stigting in die suide van Johannesburg onthul het. Foto: Reneilwe Dhludhlu

Sy sê in die bemiddelingsverhoor was dit erg genoeg om uit te vind hoe haar man dood is. Collitz sê sy sou die DA dalk toegelaat het om haar man se naam te publiseer indien hulle toestemming daarvoor gevra het.

Nxumalo sê hulle moet nog as families bymekaarkom om te besluit hoe hulle teen die DA gaan optree.

“Vir nou eis ons dat hulle die reklamebord verwyder.”

Intussen het pres. Cyril Ramaphosa Donderdag ’n proklamasie onderteken vir ’n ondersoek na die Life Esidimeni-tragedie en 28 nieregeringsorganisasies (NRO’s) waar minstens 144 psigiatriese pasiënte dood is.

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) sal die ondersoek behartig.

Khuselo Diko, Ramaphosa se woordvoerder, sê dit sal die SOE in staat stel om uit te vind of onregmatighede gepleeg is deur amptenare of werknemers in die Life Esidimeni-sage.

Die DA verwelkom die ondersoek. Jack Bloom, DA-woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, sê hy is egter bekommerd dat dit ’n eindelose ondersoek kan wees in plaas daarvan dat die skuldiges vervolg word.

Bloom sê David Makhura, Gauteng se premier, moet regstappe instel ten einde Qedani Mahlangu, voormalige provinsiale LUR vir gesondheid, en ander voormalige senior gesondheidsamptenare te dwing om uit hul eie sakke vir die vergoeding van miljoene rande vir die Life Esidimeni-slagoffers te betaal.

“Ek het Makhura al herhaaldelik gevra om dit te doen, maar dit lyk asof hy Mahlangu nog in hierdie saak beskerm. Geregtigheid moet geskied en dié wat bloed op hul hande het, moet aanspreeklik gehou word.”

Nxumalo sê die families verwelkom die ondersoek deur die SOE.

Meer oor:  Jack Bloom  |  Solly Malatsi  |  Johannesburg  |  2019-Verkiesing  |  Anc  |  Reklamebord  |  Politek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.