Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘DA se probleme sal nie verdwyn as hy van Mmusi ontslae raak’

Die DA se probleme sal nie verdwyn deur bloot van Mmusi Maimane, DA-leier, ontslae te raak nie.

Boonop is hy is demokraties op ’n partykonferensie verkies en hy kan slegs op ’n demokratiese konferensie uit sy amp verwyder word.

Minstens vier provinsiale DA-leiers, wat bankvas agter Maimane staan, het Sondag dié mening uitgespreek.

Die DA se federale uitvoerende raad het Vrydag, na berig word, ’n aanbeveling van ’n hersieningspaneel dat Maimane van sy pos afstand doen, verwerp.

Die verslag van die hersieningspaneel onder leiding van Ryan Coetzee, strateeg en oud-DA-LP, is Vrydag in Kaapstad deur die sowat 25 lede van die federale uitvoerende raad bespreek.

Die ander lede van die paneel is Tony Leon, voormalige DA-leier, en Michiel le Roux, medestigter van die Capitec-bank. Die paneel moes die party se strukture en beleid hersien.

Hulle het ook die Mei-verkiesing, waarin die DA se steun tot 20,77% van 22,23% in die 2014-verkiesing afgeneem het, in oënskou geneem.

Ek glo nie deur Mmusi te verwyder, gaan ons al die probleme in die party oplos nie. Die probleme is groter as hy. As daar mense is wat glo dat hy nie meer hul steun geniet nie, laat ons ’n konferensie hou.

Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse partyleier, het Sondag gesê dit was altyd sy mening dat leiers op ’n konferensie verkies word en dat ’n konferensie hulle verwyder.

“Ek glo nie leiers kan bloot gevra word om te bedank nie. Dit is so dat die party sekere uitdagings het, maar dit gaan nie opgelos word deur een persoon te verwyder nie.

“Ek glo nie deur Mmusi te verwyder, gaan ons al die probleme in die party oplos nie. Die probleme is groter as hy. As daar mense is wat glo dat hy nie meer hul steun geniet nie, laat ons ’n konferensie hou,” het hy gesê.

Ofskoon Zwakele Mncwango, leier van die DA in KwaZulu-Natal, nie Vrydag se vergadering bygewoon het nie, het hy die beginsel waarvolgens DA-leiers verkies word verdedig.

“Dit was altyd die provinsiale leiers se mening dat leiers demokraties op ’n konferensie verkies word. Afgevaardigdes moet dus weer deur ’n demokratiese proses ’n nuwe leier kies. Daar is geen manier waarop ons die verwydering van ’n leier kan aanvaar buite konferensies nie. Dit is ondemokraties.”

Hy het daarop gewys dat ’n federale partyleier ingevolge die grondwet van die party elke drie jaar verkies word. “Nêrens sê die grondwet dat as ’n leier nie so goed vaar hy verwyder moet word nie.”

Daar moet gewaak word teen ’n sekere kultuur wat in die party kan posvat. “Ons moet die kultuur van die party beskerm, vir nou en in die toekoms. As ons dit nou toelaat, kan dit ’n kultuur word en daarom moet ons as leiers dit stopsit. Ons vra diegene wat ontevrede is met die partyleier om die demokratiese prosesse te volg om hom te verwyder. Hulle moenie kortpaaie gebruik nie,” het Mncwango gesê.

Ook Nqaba Bhanga, Oos-Kaapse partyleier, het Sondag gesê hy glo om ’n leier sommer te verwyder is “ondemokraties”.

“Jy verwyder nie ’n leier in ’n demokratiese party op daardie wyse nie. Ons kan dit nie aanvaar nie. Dit is verkeerd. Die enigste manier waarop jy ’n leier verwyder, is deur middel van ’n verkiesing. Dit gaan nie oor een persoon nie, maar oor die hele struktuur. As jy die leier verwyder, moet jy die hele struktuur verwyder omdat die probleme deur almal veroorsaak is. Dit kan nie net Mmusi wees nie.”

Ook Andrew Louw, Noord-Kaapse partyleier, glo dat Maimane nie net op grond van die aanbevelings in die verslag uit sy pos moet bedank nie.

“Ons moet onthou dat Mmusi nie aangestel is nie, maar dat hy verkies is. As daar sprake is van ’n vroeë konferensie, laat dit gebeur sodat die mense hul mandaat kan herbevestig. Dan kan enigeen wat hom wil uitdaag, na vore kom. Dit kan alleenlik deur ’n verkiesing gedoen word.”

Meer oor:  Da  |  Mmusi Maimane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.