Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA sit druk op Makhura oor e-tol-beloftes

Solly Msimanga, DA-koukusleier in Gauteng, sê indien premier David Makhura nie die e-tolkwessie in die provinsie teen Augustus opgelos het nie, sal die party ’n mosie indien dat hy ’n interregeringsdispuut oor die tolstelsel verklaar.

Makhura se beloftes om e-tol in die provinsie te skrap, raak nou leeg, het Msimanga Maandag gesê.

David Makhura, premier van Gauteng. Foto: Argief

Indien daar teen Augustus nog nie konkrete planne is nie, sal die DA in September vra dat Makhura die dispuut met die ministers van finansies en vervoer verklaar om e-tol te skrap.

“Ons is moeg van vergaderings wat nooit materialiseer nie. Hy verkoop leuens aan Gauteng se mense.”

Makhura het vroeër die oggend in sy provinsiale staatsrede in Soweto gesê dat daar nie ’n manier is waarop e-tol deel van die provinsie se toekoms sal wees nie. Hy sê die Gautengse regering het onderneem om van sy eie geld by te dra om e-tolskuld te delg sodat die stelsel geskrap kan word.

Msimanga sê egter dat belastingbetalers waarskynlik dié rekening sal moet betaal.

“Hy (Makhura) stel voor dat belastingbetalers deel van die e-tolskuld moet betaal. Hy soek ’n manier om belastingbetalers te laat opdok,” sê Msimanga.

Solly Msimanga. Foto: Gallo Images

Makhura het gesê dat hy later Maandag met Fikile Mbalula, minister van vervoer, sou vergader om oor maniere te praat om die skuld rakende e-tol te vereffen.

“Die waarheid is dat die kwessie in die nasionale regering se hande is. Ek en die minister van vervoer het al gepraat oor maniere om die president se werk aangaande e-tol vorentoe te neem en daar sal binnekort groot vordering wees. Ek vergader vandag met Mbalula, nie oor ’n 100 dae nie,” het Makhura gesê.

Die organisasie teen belastingmisbruik (Outa) se woordvoerder, Rudie Heyneke, sê dit is nou hoog tyd dat Makhura optree en nie net praat nie.

“Ons hoor dit al jare lank. Hy moet sê wanneer hy met die kabinet en die president gaan vergader, want dit is uiteindelik hul besluit.”

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep, sê dit is nie wenslik dat die plaaslike regering in die huidige finansiële klimaat van sy eie geld gee om die e-tolskuld te betaal nie.

“Die laaste keer toe ek gekyk het, was die skuld R20 miljard. Ek weet nie waar die geld vandaan sal kom nie. Die minister van finansies sal dit ook moet goedkeur.”

Vusi Mona, Sanral se woordvoerder, kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Sanral  |  Solly Msimanga  |  David Makhura  |  Provinsiale Rede  |  E-Tol  |  Politiek  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.