Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA skuif mediakonferensie in Kimberley oor veiligheid
John Steenhuisen Dinsdag in Kimberley. Foto: Charné Kemp

Die DA het Dinsdag inderhaas ’n mediakonferensie wat hulle op straat voor die ANC se hoofkantoor in Kimberley beplan het, weens veiligheidsredes na die wetgewergebou verskuif.

John Steenhuisen, DA-hoofsweep en woordvoerder vir die DA se verkiesingsveldtog One South Africa for All, sou saam met Harold McGluwa, Noord-Kaapse DA-voorsitter, en Boitumelo Babuseng, DA-LW, oor korrupsie in die Noord-Kaapse regering praat.

Deshi Ngxanga, die ANC se provinsiale sekretaris, het ANC-ondersteuners versoek om ook voor die gebou bymekaar te kom.“Ons kan nie waarborg wat sal gebeur nie. Die DA wil ons uitlok, en hulle sal verantwoordelikheid moet aanvaar.”

Steenhuisen sê dit was nie ’n publisiteitsfoefie nie.

“Ons wil net bewys hoe korrup die ANC werklik is,” het hy op die mediakonferensie in die wetgewergebou gesê.

Steenhuisen glo die Noord-Kaapse ANC is deur faksiegevegte en korrupsie verlam, wat tot voordeel van die DA in die komende verkiesing gaan strek.

McGluwa meen die ANC is baie meer verdeeld as met die vorige verkiesing.

“Diegene in beheer beskerm die korruptes om die mag te behou. Dit is hoekom die LUR’e nie optree nie, want hulle moet mekaar teen hul vyande binne die party beskerm.

Van links is John Steenhuisen, DA-hoofsweep, Harold McGluwa, Noord-Kaapse DA-voorsitter, en adv. Boitumelo Babuseng, DA-LW, op Dinsdag se mediakonferensie in Kimberley. Foto: Charné Kemp

“Ons as die opposisie het al meer as 1 000 sake van korrupsie aanhangig gemaak. Dit is hoekom ons lede geteiken word.”

Steenhuisen sê Babuseng is einde verlede jaar deur ’n vermeende tenderpreneur aangerand omdat hy op sosialemediaplatforms oor korrupsie gepraat het.

Babuseng beweer geld is by die Noord-Kaapse Jeugsakekamer (NCYCCI) misbruik. Dié geld sou glo vir die ANC se veldtog vir die komende verkiesing gebruik word.

“Babuseng is op 29 Desember 2018 voor sy kinders voor ’n supermark geslaan. Hy het reeds klagte by die polisie ingedien. Sy interdikaansoek teen die betrokke persoon word op 1 Februarie in die Noord-Kaapse hooggeregshof aangehoor.”

Babuseng is na bewering ook in April verlede jaar aangerand nadat hy oor korrupsie by die Diamonds and Dorings-musiekfees en die Flamingo Park-perdewedren van 2017 gepraat het.

“Die DA het reeds 89 klagte van bedrog en korrupsie by die polisie in Kimberley ingedien oor bewerings dat die Noord-Kaapse regering se betrokkenheid by die wedren ’n korrupte spul was.

“Ons verneem dat die Valke se ondersoek na die perdewedren binnekort na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) verwys sal word.

“Ten spyte van Ramaphoria is die ANC steeds dieselfde rammelende bus, net met ’n ander bestuurder.

“Die leuenaars en plunderaars is steeds in beheer. Dit sal nooit onder ANC-beheer uitgeroei word nie.”

Steenhuisen sê sy party sal dit regstel.

Meer oor:  Kimberley  |  Da  |  Anc  |  Konferensie  |  Politiek  |  Veiligheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.