Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA soek antwoorde by Gigaba
Malusi GigabaFoto: Lindile Mbontsi

Die DA sê hy sal Malusi Gigaba, minister van finansies, in die parlement dwing om vrae te beantwoord oor die groot aantal personeellede in sy kantoor.

Dit volg ná ’n berig in City Press en Rapport dat Gigaba “net 17 personeellede saam met hom na die tesourie gebring het” nadat hy vroeër vanjaar in die plek van Pravin Gordhan in dié pos aangestel is.

Dié koerante het berig senior regeringsamptenare sê Gigaba is besig om die nasionale tesourie te kaap deur die mag van sy direkteur-generaal te verwater en ’n parallelle administrasie te skep wat deur sy vertrouelinge beheer word.

David Maynier, die DA se woordvoerder oor finansies, sê in ’n verklaring hy sal met skriftelike vrae in die parlement vra Gigaba moet die name van die meer as 20 mense in sy kantoor verskaf, hul postitels, posbeskrywings en die salarisvlakke van elk lid van die personeel van sy kantoor.

Gigaba moet ook sê waar en wanneer is die organisatoriese struktuur van sy kantoor deur die minister van staatsdiens en administrasie goedgekeur soos deur die ministeriële handboek vereis word.

Kragtens die bepalinge in dié handboek moet die kern-personeel in sy kantoor uit nie meer as tien personeellede bestaan nie, sê Maynier.

Luidens die berigte in die twee koerante het verskeie senior amptenare in die tesourie en twee ander topregeringsamptenare aan City Press gesê Gigaba, wat ’n gereelde gas by die Guptas se huis in Saxonwold was, is besig om die tesourie te stuur in ’n rigting wat radikaal verskil van dié van sy voorgangers.

Hy konsulteer glo nie met die adjunk-direkteurs-generaal en ander tegnokrate oor sy besluite nie.

Belangrike dokumente word aan Gigaba se personeelhoof, Saki Mofokeng, sy regsadviseur, Kholeka Gcaleka, en sy politieke adviseur, Thamsanqa Msomi, gestuur vir kommentaar nog voordat die direkteur-generaal in die tesourie, Dondo Mogajane, dit gesien het.

Verskeie senior tesourieamptenare het aan City Press gesê hulle wou aanvanklik bedank toe Gordhan as minister van finansies afgedank is.

Die adjunk-direkteurs-generaal is volgens die bronne nie geken voordat die reddingsboei van R3 miljard Vrydag aan die SAL toegeken is nie.

Die bronne sê hoewel Gigaba nié dié skuif geïnisieer het nie, is dit ’n voorbeeld van hoe die tesourie gekaap is.

Vroeër vandeesmaand is Gigaba daarvan beskuldig dat hy probeer om ontslae te raak van amptenare wat na aan Gordhan was toe hy Schalk Human van sy pos as waarnemende hoof van verkryging onthef het.

Gigaba se woordvoerder het dié aantyging ontken.

Die kabinet het vroeër vandeesmaand aangekondig dat die proses van begrotingstoewysing volgende jaar van die tesourie na die presidensie verskuif word.

Dié proses is glo in 2015 begin toe Nhlanhla Nene, voormalige minister van finansies, afgedank is.

Die bronne sê hoewel Gigaba nié dié skuif geïnisieer het nie, is dit ’n voorbeeld van hoe die tesourie gekaap is.

Die skuif sal beteken die tesourie se hande is afgekap en daar sal geld wees vir alles wat Zuma wil hê, sê ’n tesourieamptenaar.

Die begrotingsproses vereis hoogs tegniese navorsing waarvoor daar nie kapasiteit by die presidensie is nie, het ’n amptenaar aan City Press gesê.

Mayihlome Tshwete, Gigaba se woordvoerder, sê die minister het net “17 personeellede saam met hom na die tesourie gebring”.

Tshwete ontken ten sterkste dat Gibaba toelaat dat die tesourie “gekaap” word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.