Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA soek antwoorde ná besluit oor behuising

Provinsies moet onmiddellik hul laekostebehuisingsprojekte weens die land se benarde ekonomiese situasie afskaal.

Dié opdrag deur die nasionale departement van menslike nedersettings, water en sanitasie het die DA op die oorlogspad en die party gaan eis dat die minister, Lindiwe Sisulu, die redes vir dié “verontrustende” besluit aan Suid-Afrikaners moet verduidelik.

Volgens Emma Powell, DA-woordvoerder oor water, sanitasie en menslike nedersettings, kan dit tot verdere maatskaplike onluste en grondvergrype lei “soos wat desperate Suid-Afrikaners die slagoffers van meer leë ANC-beloftes word”.

Powell het Donderdag dié besluit aan die groot klok gehang toe sy saam met Tertius Simmers, Wes-Kaapse LUR vir menslike nedersettings, en Malusi Booi, burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings in die Kaapstad-metro, ’n nuuskonferensie daaroor gehou het.

Powell het gesê dit is duidelik dat Sisulu hierdie besluit verkondig voordat die kabinet of die parlement dit nog aanvaar het.

“Hierdie beleidsverandering is ’n regstreekse gevolg van jare lange korrupsie, plundering en die ANC se reddingsboeie aan zombie-staatsentiteite soos Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens.”

Die besluit kom nadat die nasionale departement se begroting in Julie vanjaar met R2,26 miljard besnoei is.

Alle departemente se begrotings is weens die Covid-19-pandemie erg gesny.

Hierdie beleidsverandering is ’n regstreekse gevolg van jare lange korrupsie, plundering en die ANC se reddingsboeie aan zombie-staatsentiteite soos Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens.

Volgens Powell ly basiese dienslewering die ergste daaronder omdat die geld vir die bou van laekostehuise, die opknapping van informele nedersettings en die landwye titelakte-program gebruik moes word.

“In plaas daarvan om huise met titelaktes aan Suid-Afrikaners te belowe, belowe die ANC nou grond aan landsburgers om hul eie huise daarop te bou.”

Sy het bygevoeg dat provinsiale behuisingsdepartemente nou hul sakeplanne vir volgende jaar moet hersien en dat hulle net ondersteuning van die nasionale regering sal kry vir behuisingsprojekte wat bejaardes, militêre veterane, gestremdes en huishoudings waar kinders die hoofde is, prioritiseer.

Simmers het bevestig dat die opdrag van die nasionale departement behuising gaan raak.

“Dit beteken dat provinsies nie van 1 April 2021 af nuwe kontrakte vir staatshuise kan aangaan nie.”

Volgens hom blyk die besluit daarop te dui dat die nasionale departement besluitneming oor behuisingsprojekte in alle provinsies wil sentraliseer.

“Baie gemeenskappe wag al jare op behuisingsprojekte en nou moet dit hersien word.”

Simmers meen die onlangse begrotingsbesnoeiings, sowel as die beleidsverandering moet in die konteks van aansienlike dalings in provinsies se begrotingstoekennings sedert 2016 gesien word.

So het die Wes-Kaap se behuisingsbegroting tussen 2016 en vanjaar van R2 miljard tot R1,4 miljard gekrimp.

Baie gemeenskappe wag al jare op behuisingsprojekte en nou moet dit hersien word.

Volgens Booi het die Kaapstad-metro die afgelope maande reeds sporadiese en opportunistiese grondvergrype gesien wat goed beplande behuisingsprojekte erg ontwrig het.

“Grondvergrype net vir vanjaar bedreig behuisingsprojekte van gesamentlik R1,3 miljard.”

Dit het die metro baie tyd in die howe gekos om daardie kwessies op te los.

Volgens Booi is die metro se behuisingsbegroting sedert 2018 ook al met meer as R550 miljoen gesny, wat ’n negatiewe uitwerking op talle behuisings- en ander kritieke diensleweringsprojekte gehad het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.