Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA soek oneerlike ministers se koppe
James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad. Foto: Lindile Mbontsi

Dit is “onmoontlik om te begryp” hoe twee ministers wat al deur ’n hof as “leuenaars” bestempel is, as gepas beskou kan word om Suid-Afrika se welstand te bevorder.

James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, voer dié argument aan in die party se hofaansoek teen pres. Cyril Ramaphosa se besluit om Bathabile Dlamini, minister van vroue in die presidensie en Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, in sy kabinet te behou.

Die party vra die hooggeregshof in Pretoria vir ’n bevel om sy besluit om dié twee ministers te behou, as “onwettig, ongrondwetlik en ongeldig” te verklaar en ter syde te stel.

Die DA se aansoek oor Dlamini hou verband met ’n beslissing in September deur die konstitusionele hof dat Dlamini persoonlik 20% van die regskoste moet betaal in Freedom Under Law en Black Sash se aansoek oor Cash Paymaster Services se kontrak om die land se maatskaplike toelaes te mag betaal.

Die hof het bevind dat sy inligting van die hof weerhou het en ontwykend was. Die Nasionale Vervolgingsgesag moet ook besluit of sy van meineed aangekla behoort te word.

Selfe merk in hofdokumente op: “In wese is bevind dat me. Dlamini oneerlik opgetree het om haar eie belange te dien in plaas van die belange van Suid-Afrika en sy mense.

“Daar is bevind haar optrede stel die welstand van die ‘mees behoeftiges in ons samelewing’ in gevaar wat op maatskaplike toelaes staatmaak. Tog bly sy deel van die uitvoerende gesag – só bepaal deur die president.”

DA

Die DA se aansoek oor Gigaba spruit uit ’n uitspraak deur die hooggeregshof in Desember wat bevind het dat hy tydens se vorige termyn as minister van binnelandse sake onder eed gejok het.

Dit hou verband met Fireblade Aviation se aansoek teen hom. Die maatskappy het die hof gevra om te bevind dat die goedkeuring vir ’n aankomssaal by die OR Tambo-lughawe – wat glo deur Gigaba toegestaan is – nie teruggetrek kan word nie.

Gigaba het na bewering die goedkeuring wat hy oorspronklik toegestaan het, onder druk van die omstrede Gupta-familie teruggetrek.

“In wese is bevind dat Gigaba meineed gepleeg en die Grondwet geskend het.

“Die gevolgtrekking van onbehoorlikheid, oneerlikheid en ’n gebrek aan goeder trou aan die kant van me. Dlamini en mnr. Gigaba is onomstootlik. Dit is nie gegrond op agterdog of bespiegeling nie, maar op onweerlegbare bevindinge deur die hof.

“In die lig daarvan is hulle ongetwyfeld ongeskik om onderskeidelik as minister van vroue en as minister van binnelandse sake te dien of hoegenaamd as deel van die nasionale uitvoerende gesag,” lui Selfe se stukke.

Hy is ook erg krities oor Ramaphosa se gebrek aan optrede en sê dit kom neer op die president se skending van die Grondwet en sy pligte wat daarin vervat is.

“Die president se besluit van geen optrede ondanks die drastiese en verreikende bevindinge deur dié hof en die konstitusionele hof ondermyn die oppergesag van die reg en demokrasie.”

Meer oor:  James Selfe  |  Da  |  Korrupsie  |  Ministers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.