Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA stem saam met OB se bevindinge oor Vrede-projek

Die DA stem saam met die openbare beskermer (OB) dat Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal, en ander Vrystaatse politici destyds die begunstigdes van die Vrede-suiwelprojek net as dekmantel gebruik het om tot R380 miljoen van belastingbetalers se geld in dié projek te pomp.

Dr. Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaat, het Dinsdag so gesê toe hy namens sy party adv. Busisiwe Mkhwebane, die OB, se verdoemende bevindings teen veral Magashule en oudminister Mosebenzi Zwane, destydse LUR vir landbou in die Vrystaat, verwelkom het.

Dr. Roy Jankielsohn Foto: Argiewe

Jankielsohn meen Mkhwebane se verslag steun ook die gronde vir die strafregtelike klagte wat die DA vroeër teen Magashule, Zwane en ander politici oor dié projek ingedien het. Terwyl die doel van die projek was om arm, swart opkomende melkboere te bemagtig, het die meeste van die geld in die omstrede Gupta-familie se sakke beland.

Mkhwebane het onder meer bevind dat Magashule en die ander polities by die projek ingemeng het, en dat mense wat na aan die Gupta’s was ook ’n onbehoorlike invloed van buite op die betrokke Vrystaatse politici gehad het.

Sy het bevind dat Magashule en Zwane veral met die projek misluk het om hul toesighoudende verantwoordelikhede daaroor ingevolge die Grondwet uit te voer en dat hul gedrag daarom op wanadministrasie en onbehoorlike optrede neerkom.

Ander Vrystaatse politici wat deur Mkhwebane ook by onreëlmatighede met die projek betrek word, is Mamiki Qabathe, Zwane se destydse opvolger en tans ’n LUR, en Elzabé Rockman, wat die direkteur-generaal in Magashule se destydse premierskantoor was en later LUR vir finansies.

Mkhwebane het haar verslag ook na die Valke verwys, wat strafregtelike klagte uit haar bevindinge moet ondersoek. Die huidige Vrystaatse premier moet ook binne 30 werksdae die verslag voorlê aan die Vrystaatse wetgewer vir oorweging, terwyl die premier ook in dieselfde tydperk ’n verslag by die OB moet indien oor beplande optrede.

Die huidige LUR vir landbou in die Vrystaat moet ook binne 30 werksdae amptelik die begunstigdes om verskoning vra omdat die departement hulle nie ingevolge die Batho Pele-beginsels behandel het en hulle by die projek betrek het nie.

“Binne 30 dae van hierdie verslag moet die LUR vir landbou ook verseker dat ’n oudit gedoen word van die begunstigdes van die projek, sodat ’n databasis oor hulle, en die erfgename van diegene wat jammerlik reeds oorlede is, saamgestel kan word.

“Daar moet ook verseker word dat die projek binne 60 dae herleef en dat die begunstigdes 51%-aandeelhouers moet wees en ten volle deelneem, in ooreenstemming met die Mohoma Mobung-visie soos die destydse Vrystaatse regering dit voorsien het toe dit die Vrede-suiwelprojek destyds as vlagskipprojek bekend gestel het,” het Mkhwebane verder aanbeveel.

Luidens die verslag het Magashule in reaksie op die voorlopige bevindinge teen hom onder meer aan Mkhwebane gesê dat daar geen verdienste in enige bevinding teen hom is nie, omdat hy geen verantwoordelikheid vir enigiets met betrekking tot Estina gedra het nie. Sy het sy volgehoue ontkenning van sy rol in die projek as “kommerwekkend” beskryf.

Magashule het ook ontken dat hy kennis gedra het van die Guptas se betrokkenheid by die projek of dat hy geweet het dat Ashok Narayan, wat hy as spesiale raadgewer in sy kantoor aangestel het, bande met die Guptas gehad het.

Meer oor:  Da  |  Roy Jankielsohn  |  Ob
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.