Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘DA steun wel die Khoi- en San-gemeenskap’

Die Khoi- en San-gemeenskap sal ingevolge ’n nuut aanvaarde wetsontwerp steeds nie soos ander tradisionele gemeenskappe in Suid-Afrika die volle erkenning kry wat hulle verdien nie.

Khoi- en San-leiers Donderdag by die parlement. Foto: Llewellyn Prince

So het Masizole Mnqasela, DA-LPW en voorsitter van die staande komitee oor plaaslike regering en regeringsoorsig in die Wes-Kaapse wetgewer, Vrydag gereageer nadat die DA-beheerde Wes-Kaap die enigste provinsie was wat Donderdag nie die Wysigingswetsontwerp op Tradisionele en Khoisan-leierskap gesteun het toe dit in die Nasionale Raad van Provinsies aanvaar is nie.

Prominente Khoi- en San-leiers wat die sitting Donderdag in die parlement bygewoon het, het die aanvaarding daarvan as ’n “historiese mylpaal” en ’n “groot, groot oorwinning” vir die Khoi en San beskryf.

Dit moet nou nog net deur pres. Cyril Ramaphosa as wet bekragtig word.

Ook die ANC in die Wes-Kaap het die DA gekritiseer omdat die DA nie die wysigingswetsontwerp gesteun het nie.

Faiez Jacobs, provinsiale ANC-sekretaris, het in ’n verklaring gesê die DA het “sy teenstand ten toon gestel omdat die Khoisan-mense ’n Huis van Tradisionele Leiers sal kry. Die DA is anti-Khoisan”.

“Ons is verheug dat die Khoisan erken sal word as inheemse mense en is dankbaar vir die ANC daarvoor. Dit is ’n goeie dag om Khoisan te wees. Ja, te midde van die vreugde onthou ons die pyn, lyding en die volksmoord van ons mense,” het Jacobs gesê kort nadat die wetsontwerp aanvaar is.

Mnqasela het egter Vrydag in ’n verklaring gesê dat die DA wel die Khoi- en San-gemeenskap steun, sowel as die bedoeling om hulle met die wysigingswetsontwerp die volle erkenning te gee wat hulle verdien.

“Dit is daarom teleurstellend dat die huidige wetsontwerp nie die Khoi en San ten volle sal erken soos wat ander tradisionele groepe erken word nie. Ons kon daarom nie die wetsontwerp in sy huidige vorm steun nie.”

Volgens hom het die DA in die Wes-Kaapse wetgewer in Maart 2018 ’n aantal griewe aan die departement van plaaslike regering en tradisionele sake oor die huidige wetsontwerp voorgelê en aanbeveel dat dit met openbare verhore reggestel word.

Dit erken net twee leiers om die Khoi- en San-gemeenskap te verteenwoordig, in teenstelling met vier vir ander tradisionele gemeenskappe.

“Ons het openbare verhore in 30 munisipaliteite gehou en dit was oral in die provinsie duidelik dat mense dit verwerp en selfs met ’n apartheidsera-wetsontwerp vergelyk.

“Die ANC-regering het en behandel steeds die Khoi en San as tweedeklasmense, soos wat die apartheidsregering gedoen het.”

Volgens hom is twee afdelings van die huidige wetsontwerp veral problematies.

“Dit erken net twee leiers om die Khoi- en San-gemeenskap te verteenwoordig, in teenstelling met vier vir ander tradisionele gemeenskappe.

“Tweedens loop dit die werk vooruit van die kommissie oor Khoi- en San-aangeleenthede wat nog gestig moet word.”

Volgens Mnqasela is daar verskeie ander klousules in die wetsontwerp wat dit ook moeilik vir die Khoi en San sal maak om erken te word en bevestig dit dat die ANC steeds hierdie gemeenskappe soos “stiefkinders” behandel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.