Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA stry oor EFF-plan

Die DA, ’n party in stryd met homself ná ’n rampspoedige verkiesingsveldtog, gaan in die komende dae nóg verder beproef word deur reuse-onenigheid oor moontlike samewerking met die EFF.

Solly Msimanga, nuwe voorsitter van die DA-koukus in die Gautengse wetgewer, gesels op stemdag met Bettie Naudé van die Emily Hobhouse-outehuis. Foto: Deaan Vivier

Dit kom nadat die EFF-leier Julius Malema Donderdag die knuppel in die DA-hok gegooi het deur te sê dat die EFF graag een van hul lede as burgemeester van Tshwane wil sien en in ruil daarvoor Herman Mashaba se voortgesette burgemeesterskap van Johannesburg sal steun.

“As die DA weier, is daar ander opsies. Sover praat ons en ons sien geen vyandigheid oor die moontlikheid van magsdeling nie,” het Malema gesê.

John Moodey, DA-leier in Gauteng, het onmiddellik vasgeskop teen dié eis, maar dit is duidelik dat daar binne die DA erge verdeeldheid hieroor is. Dit is duidelik dat Mashaba ’n baie goeie werksverhouding met die EFF het. Hy het die afgelope week teenoor Rapport bevestig hy sal bedank as die DA nie sy bande met die EFF versterk nie.

Mashaba het gesê as die DA en EFF nie tot ’n vergelyk kom nie, “is ek uit die openbare diens”. Op ’n vraag oor sy posisie as die EFF en ANC ’n koalisie sluit en hom vra om aan te bly, het hy gesê hy sal besluit wat om te doen as dit gebeur.

‘Om stemme te verloor is nooit ’n wenstrategie nie.’

’n Veteraan-DA-figuur wat gereeld in kontak met die huidige leierskap is, het Vrydag aan Rapport gesê: “As die party ’n ooreenkoms met die EFF aangaan, kan hy nog een miljoen stemme verloor. In 2016 het (so ’n ooreenkoms) sin gehad, nie nou meer nie.”

Paul Boughey, uitvoerende hoof van die DA, het aan Rapport gesê Maimane het uitdruklik verklaar “dat hy nie die burgemeesterskap van Tshwane (aan die EFF) sal oorhandig nie; dit is nie op die tafel nie. Maar ons kan gesels.”

Moodey het inwoners van Tshwane Vrydag verseker Stevens Mokgalapa van die DA sal burgemeester bly. Die probleem is dat dit net met die EFF se samewerking kan gebeur.

Athol Trollip, DA-voorsitter, het Vrydag gesê die DA sal slegs koalisies oorweeg met “partye wat ons waardes en beginsels deel”.

Maar Solly Msimanga, nuwe voorsitter van die DA-koukus in die Gautengse wetgewer, het volgens Eyewitness News gesê die kwessie oor die Tshwane-burgemeester word reeds op nasionale vlak bespreek.

“Die federale leiers sal met die EFF en ander opposisiepartye vergader om ’n koalisieregering saam te stel.”

Msimanga het nie Saterdag sy foon beantwoord nie. Moodey het gesê hy is verkeerd aangehaal en het vir ’n regstelling gevra.

James Selfe, voorsitter van die party se uitvoerende federale raad, het aan Rapport gesê daar sal in die komende week ’n vergadering met die EFF wees oor die eis. Nog ’n Gautengse lid van die provinsiale wetgewer het dit bevestig. Volgens Selfe het die DA egter nog niks amptelik van die EFF gehoor nie. “Daar was ’n samewerkingsooreenkoms met die EFF sedert 2016. Dit verander nie tot dit verander. Dit sal die onderwerp van bespreking wees.”

Die EFF se eis kon nie op ’n slegter tyd gekom het nie vir ’n party wat boonop onderling met mekaar baklei oor die ware redes vir hul rampspoedige verlies van ’n halfmiljoen kiesers op 8 Mei.

d
d

Maar terwyl die DA se verlies aan wit steun goed gedokumenteer is, het ’n verslag van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) Woensdag gewys dat die party boonop steun in talle groot townships en bruin gebiede verloor het (sien grafika hierbo).

Die party gaan daarom nou sy “strukture en strategie” herbekyk.

Tony Leon, voormalige DA-leier, het Vrydag gerugte ontken dat hy formeel genader is om deel van die ondersoekspan hierna te wees.

Ryan Coetzee, die strateeg wat Leon se groot suksesse as DP- en DA-leier help beplan het, se naam word ook genoem as een van dié wat nou moet kom help. Coetzee het uit Londen gesê Rapport moet met Maimane se kantoor praat oor of hy genader is.

“Sover ek weet, is niks nog formeel besluit nie en is niemand nog formeel genader nie. Dis voortydig om daarop kommentaar te lewer.”

Toe Rapport by Boughey wou weet of die party met Coetzee praat, het hy gesê: “Ek is nie in ’n posisie om oor enige individu kommentaar te lewer nie. Die idee is om die regte mengsel van mense te kry wat die party en die land ken. Die party het drasties verander sedert Ryan se dae. Hy het ’n baie goeie begrip van die DA en die land, maar sedert 2016 het die DA ’n veel sterker aktivistiese struktuur.”

Oor die DA se verkiesingsuitslae het Leon Vrydagaand aan Rapport gesê ’n krisis soos dié kan lei tot “geleenthede of rampspoed, maar jy kan nie stilstaan nie”.

“Wanneer jy 500 000 stemme verloor, is dit ’n kritieke oomblik. ’n Halfmiljoen kan ’n miljoen word.

“Ná die verlies aan honderdduisende wit stemme en steun wat met slegs 0,5% toegeneem het in die swart gemeenskap noem party mense dit ’n wen-verloor,” sê Leon.

“Maar om stemme te verloor, is nooit ’n wenstrategie nie. Ek glo die situasie kan reggeruk word. Maar dit sal afhang van besliste optrede op kort termyn.”

Thomas Walters, adjunkvoorsitter van die DA se federale raad, sê die DA doen eerlik en nederig introspeksie.

“Dis broodnodig vir ’n organisasie wat die mag wil oorneem. Ons wil die land ’n beter plek maak, so ons wil leer uit die resultate. Die DA gaan met groot omsigtigheid en groot nederigheid kyk na ons interne en eksterne omgewing en ons gaan die nodige doen om sukses te bereik.”

Meer oor:  Julius Malema  |  Solly Msimanga  |  Tshwane  |  Da  |  Verkiesing 2019  |  Burgemeester  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.