Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA-toplui vergader, gaan Maimane bedank?

’n Vergadering van die DA se federale uitvoerende raad, waar Helen Zille vir die eerste keer as voorsitter optree, vind tans in Johannesburg plaas te midde van spekulasie dat Mmusi Maimane, partyleier, moontlik kan bedank.

Die vergadering bespreek die verslag van die beleidshersieningskomitee wat onder meer gekyk het hoekom die party se steun afgeneem het in die nasionale verkiesing vroeër vanjaar, en ook in tussenverkiesings wat intussen in die metrorade plaasgevind het.

In die verslag, wat saamgestel is deur Tony Leon, ’n voormalige DA-leier, die strateeg Ryan Coetzee en die voormalige bankbaas Michiel le Roux, is voorgestel Maimane moet die tuig neerlê.

Die verslag het ook aanbeveel James Selfe moet as voorsitter van die federale raad bedank, en so ook Paul Boughey, uitvoerende hoof van die party.

Selfe, wat die pos vir 19 jaar lank beklee het, en Boughey het gevolglik bedank en Zille is verlede Sondag tot nuwe voorsitter van die federale raad verkies.

Die verslag het bevind daar is “beduidende interne verdeling oor ras” in die party.

Maimane en Zille het Woensdagoggend by Nkululeko-huis, die party se hoofkwartier in Bruma, Johannesburg, aangekom.

Later is John Moody, leier van die DA in Gauteng, en Makashule Gana, ’n voormalige parlementslid en tans ’n lid van die provinsiale wetgewer (LPW) in Gauteng, ook opgemerk.

Gana het oudpres. Thabo Mbeki Woensdagoggend in ’n twiet aangehaal: “Diegene wat die hele pad stap, doen dit slegs omdat hulle hulself nie daarvan oortuig dat die pad wat voorlê te lank, die opdraandes te styl en die eensaamheid onuithoudbaar is nie en betwyfel nie die waarde van die beloning nie.”

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het Maandag as burgemeester en DA-lid bedank, in reaksie op Zille se verkiesing as voorsitter van die federale raad. Mashaba het die verwikkeling beskryf as ’n bewys dat “regsgesinde elemente” die party oorneem.

Mashaba se bedanking is van 27 November af van krag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.