Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA veg vir 7 begunstigdes van Parys-blommeprojek

’n Algehele toestand van verwaarlosing en bossiebegroeide tonnels vir die kweek van blomme het twee DA-lede van die Vrystaatse wetgewer die afgelope week begroet met hul oorsigbesoek aan ’n blommeprojek in Parys. Dit is ’n projek van die distriksmunisipaliteit en wat veronderstel om vroue van hier te bemagtig en ’n inkomste vir hulle te verseker.

Dr. Roy Jankielsohn en Mariette Pittaway, DA-lede van die Vrystaatse wetgewer, in ’n onkruidbegroeide tonnel vir die kweek van blomme by die Parys-blommeprojek.

Dit volg nadat klagtes ontvang is oor die toestand van verwaarlosing waarin die gerief verkeer terwyl sewe vrouebegunstigdes van die projek weer eens deur die ANC-regering sonder enige voordele gelaat is.

Só sê dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, en Mariëtte Pittaway, DA-wetgewerlid, wat die projek die afgelope week besoek het.

Hulle sê die Fezile Dabi-distriksmunisipaliteit het die blommeprojek op 2 Augustus 2017 begin waarvoor R3,3 miljoen bestee is aan die oprigting van twee tonnels en ’n aangrensende baksteengebou vir die kweek van blomme.

“Die projek was bedoel om ’n inkomste aan sewe vrouebegunstigdes te verskaf, wat die DA se besoek van die afgelope week baie relevant gemaak het in die lig van Vrouemaand.

Verteenwoordigers van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), het ook in Oktober 2017 die projek besoek en hul kommer uitgespreek dat die begunstigdes vrywilligers is met geen eienaarskap van of inkomste uit die projek nie.

Jankielsohn en Pittaway sê dit was ook bedoel dat die vroue tuinbou- en sakeopleiding kry.

“Die rose wat by die projek geplant is, was bedoel om ’n inkomste deur plaaslike verkope te genereer, en die jaarlikse Madeira-blommefees wat in Parys gehou word, van blomme te voorsien.”

Jankielsohn en Pittaway sê met hul besoek is gesien dat die projek erg skipbreuk gely het oor die afgelope klompie jare en dat die tonnels waarin die blomme gekweek moes word, nie in stand gehou is nie.

Die roosplante is net so verwaarloos, sê hulle.

Die gebied rondom die projek toon ook tekens van onlangse oorstromings wat die gevolg moes gewees het van ’n gebarste pyp of ’n besproeiingskakelaar wat nie afgesit is nie.

Hulle sê daar was geen teken van enige aktiwiteit of begunstigdes by die projek nie en die infrastruktuur word nie teen moontlike vandalisme beskerm nie.

Die verwaarloosde blommeprojek vir die bemagtiging van vroue in Parys.

“Die infrastruktuur toon nie waarde vir die bedrag geld wat aan die projek bestee is nie.

“Dit is ’n bekende feit dat infrastruktuurontwikkeling by projekte in die Vrystaat ’n winsgewende onderneming is vir die implementering van agente en hul kaders in die regering.”

Weer eens het die hoop op ’n veilige en gereelde inkomste vir die begunstigdes van die Parys-blommeprojek nie gerealiseer nie.

Dit word ’n handelsnaam van alle projekte in die Vrystaat waar groot somme geld aan infrastruktuur bestee word sonder ekonomiese volhoubaarheid of langtermynvoordele vir die begunstigdes, sê Pittaway.

Die grootste misdaad wat ANC-regerings pleeg, is om mense hoop te gee op ’n lewenskragtige toekomsbron en dan om die hoop deur verwaarlosing te verpletter, sê Jankielsohn.

Die infrastruktuur toon nie waarde vir die bedrag geld wat aan die projek bestee is nie.

“Die DA sal voortgaan om die projek te monitor en sal veg vir die regte van alle begunstigdes van projekte in die Vrystaat, asook vir die beleggings deur belastingbetalers se geld.”

“Ons vroue verdien beslis beter,” sê Jankielsohn en Pittaway.

Die burgemeester van Fezile Dabi, Moketsi Moshodi, is verskeie kere om kommentaar gebel, maar het nie een van haar twee telefone beantwoord nie.

Dit is nie duidelik wat nou met die projek beoog word nie, aangesien die Parys-blommefees ook vanjaar weens Covid-19 afgelas is.

William Bulwane, LUR vir landbou en landelike ontwikkeling, sê hy gaan ondersoek instel oor wat aan die gang is by die projek en sal hierna aan Netwerk24 antwoorde gee.

In die verlede is gesê dié departement sal die Fezile Dabi-distriksmunisipaliteit bystaan met die Parys se blommeprojek.

Meer oor:  Roy Jankielsohn  |  Mariëtte Pittaway  |  Parys  |  Projek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.