Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA-verdeling ‘dui op groter rasverdeeldheid’

Die DA wou met die verkiesing van Mmusi Maimane politiek relevant wees met ’n swart leier, maar het soos alle ander partye nooit waarlik die onderliggende rasseprobleem in Suid-Afrika aangespreek nie.

Mmusi Maimane. Foto: Elizabeth Sejake

Dit het nou, ná Helen Zille se hertoetrede tot ’n sleutelpos in die party, kookpunt in die DA bereik.

Só het dr. Zwelinzima Ndevu, politieke ontleder by die Universiteit Stellenbosch (US), Dinsdag gesê in reaksie op die rasverdeeldheid in die DA wat ook in die openbaar neerslag gevind het ná Zille se verkiesing Sondag as voorsitter van die party se federale raad.

Dít het tot die bedanking Maandag van Herman Mashaba as DA-lid en burgemeester van Johannesburg gelei. Dit word as ’n bevestiging beskou van die vervreemding van die swart koukus en ’n stygende rassespanning in die DA.

Mashaba het in sy bedankingstoespraak onder meer gesê dat hy hom nie met die DA-groep kan vereenselwig wat Zille herkies het nie, omdat hulle glo dat ras in 2019 irrelevant in die debat oor ongelykheid en armoede in Suid-Afrika is.

Nóg ’n politieke ontleder, prof. André Duvenhage van die Noordwes-universiteit (NWU), meen dat die rassespanning in die DA simptomaties is van hoe die groter Suid-Afrikaanse samelewing ook politiek, ekonomies en maatskaplik rasverdeeld is.

Ndevu het gesê politieke partye ignoreer die raskwessie sedert 1994.

“Dit het in die DA egter nou kookpunt bereik en kan nie langer geïgnoreer word nie.

“En klaarblyklik weet die party nie hoe om dit op te los nie. Daarom word ou leiers soos Zille herwin.”

Hy meen die hemelhoë ongelykheid in die land is nog ’n kwessie wat politieke partye nog nie regstreeks hanteer het nie.

“Daarom wys verkiesingsuitslae dat swart en wit mense steeds op grond van ras vir partye stem wat hulle dink hul belange kan bevorder.”

En klaarblyklik weet die party nie hoe om dit op te los nie. Daarom word ou leiers soos Zille herwin.

Prof. Bheki Mngomezulu, politieke ontleder by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), meen Suid-Afrikaanse politiek kan nie sonder ras bespreek word nie.

“Baie partye is reeds rondom ras georganiseer. Kyk byvoorbeeld na die PAC, die VF Plus en die EFF.”

Volgens hom gaan rassepanning in die DA vererger met die wit liberale faksie aan die een kant – wat verlore wit steun wil terugwen – en die progressiewe swart koukus aan die ander kant – wat die DA in ’n “breër kerk soos die ANC” wil omskep.

Duvenhage meen die sogenaamde nie-rassigheid wat veral die ANC verkondig, “is die grootste mite sedert 1994”.

“Niks bewys dit beter nie as die stempatrone sedert 1994 waar elke verkiesing ’n raspatroon gehad het.”

Duvenhage meen die DA was sedertdien ’n uitsondering met nie-rassigheid, “maar skynbaar het daardie boot ook nou op die rotse geloop”.

Volgens hom is “rassespanning op sy ergste nog”.

“Ons is ’n baie diep verdeelde land, omdat nie een van die politieke partye maatskaplike samehorigheid bevorder nie.”

Duvenhage meen politieke partye se organisering rondom ras is egter in lyn met die internasionale neiging waar identiteitspolitiek ook al hoe sterker na vore getree het.

Hy voeg by dat daar benewens ras ook nog ideologiese verskille in die DA woed tussen die “ANC Light”-benadering, waarheen Maimane die party wou stuur, teenoor die klassieke liberale benadering en waardestelsel wat sy teenstanders aanhang.

“Die DA wil met Zille terugbeweeg na laasgenoemde waardestelsel. Dit bly egter ’n vraag of Zille verlore tradisionele DA-kiesers kan teruglok, veral omdat wit Afrikaanse kiesers reeds ’n element van vervreemding teenoor die DA ervaar.”

Meer oor:  Da  |  Mmusi Maimane  |  Helen Zille  |  Herman Mashaba  |  Ras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.