Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA verloor beheer oor Tshwane

tswhane
Raadslede van die Tshwane-metroraad raak hardhandig met mekaar op die spesiale raadsvergadering. Die gestampery het uitgebreek toe DA-raadslede probeer keer dat 'n Cogta-amptenaar oorneem as tydelike speaker. Foto: Sarel van der Walt

Die DA het ook die beheer oor die Tshwane-metroraad verloor toe die ANC en die EFF op ‘n chaotiese en rumoerige spesiale raadsvergadering Donderdagaand in Pretoria daarin geslaag het om ‘n mosie van wantroue in Stevens Mokgalapa, burgemeester, en Rachel Mathebe, die speaker, deur te voer.

Dit volg net ‘n dag nadat die DA en sy koalisievennote die beheer oor die Johannesburg-metro verloor het.

Die DA sê dit wat gebeur het, is onwettig en hy sal die saak dringend in die hof beveg.

Omdat dit wat volgens hom gebeur het, onwettig was, het die lede van die DA en sy koalisievennote nie aan die stemmery deelgeneem nie. Al die lede van die burgemeesterskomitee moet nou bedank.

“Ons het reeds ons advokate gekonsulteer en sal selfs vannag nog hof toe gaan as dit moontlik is,” het John Moodey, die Gautengse leier van die DA, Woensdagaand gesê.

“Ek glo ons sal suksesvol wees."

Die EFF het die mosie teen die speaker ingedien en die ANC dié teen die burgemeester.

Die drama het vroegmiddag begin toe die EFF en die ANC geweier het dat Mathebe haarself kort nadat sy die vergadering geopen het, verskoon. Mathebe wou onttrek omdat sy gemeen het dit is ‘n belangebotsing as sy aanbly terwyl ‘n mosie van wantroue in haar aangehoor word.

Die ANC en die EFF wou ook nie toelaat dat Zweli Khumalo, ‘n ander DA-raadslid, by haar oorneem as waarnemende speaker nie. Khosi Maepa, ANC-leier in die Tshwane-raad, het selfs beweer Khumalo is onder die invloed en ruik na drank.

Moodey het dit later ten sterkste ontken en die ANC daarvan beskluldig dat hy ‘n bespotting maak van demokrasie. Toe Khumalo na die speaker-stoel gestap het om by Mathebe oor te neem, het lede van die EFF en die ANC hom gekeer.

Later het ‘n adjunkdirekteur-generaal van die departement  van samewerkende regering en tradisionele sake, in opdrag van die Gautengse regering die speakerskap oorgeneem. Toe dié beampte na die speakerstoel gestap het, het DA-lede hom probeer keer.

Ons wil hê Suid-Afrikaners moet weet wat vanaand hier gebeur het is ‘n bespotting van ons demokrasie. Die demokrasie is vanaand hier getroef. My vrees is dat ons baie vinnig besig is om ‘n piesangrepubliek te word.

Dit het uiteindelik gelei tot ‘n fisieke onderonsie tussen lede van die verskillende partye. Nadat die vergadering hervat is, is die EFF se Obakeng Ramabodu tot waarnemende speaker verkies. “Dis onwettig, dis onwettig!” het DA-lede uitgeroep.

“Jy is nie die speaker nie!”

“Wie is jy? Wie is jy?” het deurlopend uit DA-geledere oor die raadsaal opgeklink.

Toe het die EFF-raadslede stilgesit en was dit die DA se beurt om die lawaai te maak. 

Hulle het in ‘n stadium met hul hande op die banke voor hulle geklap. Later ook met leë plastiekbottels.

Die DA sê die aanwys van Ramabodi tot waarnemende speaker was onwettig. Die party sê Mathebe het korrek opgetree.

“Ons wil hê Suid-Afrikaners moet weet wat vanaand hier gebeur het is ‘n bespotting van ons demokrasie.

“Die demokrasie is vanaand hier getroef.

“My vrees is dat ons baie vinnig besig is om ‘n piesangrepubliek te word,” het Moodey gesê.

“Dit wat vanaand binne in die raadsaal gebeur het, was niks anders nie as ‘n boendoesitting.

“Dis die administratiewe hoofstad dié, regtig? En dan gebeur sulke onwettighede hier.”

Die ANC en EFF het volgehou dat hul optrede wettig was.

Die raad sal binne 14 dae byeenkom om 'n nuwe burgemeester en speaker te kies.

Lees ook: Tshwane kry 'n EFF-burgemeester met ANC-hulp, sê Malema

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.