Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA: Verskeie het interim-pos in die oog

Die interne stryd om ’n nuwe tussentydse DA-leier en tussentydse nasionale voorsitter te kies is aan die gang en veldtogte sal na verwagting binnekort in alle erns begin.

John SteenhuisenFoto: Melinda Stuurman

John Steenhuisen, nuutverkose parlementêre leier van die DA, Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse DA-leier, sowel as Makashule Gana, lid van die DA in die Gautengse wetgewer, gaan sake om die pos as tussentydse DA-leier uitspook.

Vier DA-lede het ook hul name in die hoed gegooi om tot tussentydse DA-voorsitter verkies te word – dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR vir landbou, Dharmesh Dhaya, hoofsweep van die DA in die Buffalo City-metroraad, Khume Ramulifho, DA-lid in die Gautengse wetgewer, en dr. Nomafrench Mbombo, Wes-Kaapse LUR vir gesondheid.

Die poste is vakant nadat Mmusi Maimane as DA-leier en Athol Trollip as die DA se nasionale voorsitter bedank het.

Tussentydse leiers sal op 17 November deur die sowat 150 lede van die DA se federale raad gekies word.

Steenhuisen, die voormalige DA-hoofsweep, is verlede naweek deur die DA-koukus tot parlementêre leier verkies. Hy het homself Maandag beskikbaar gestel as die tussentydse DA-leier, sowel as die permanente leier wat in April aanstaande jaar op die party se leierskongres verkies word.

Steenhuisen, wat Vrydag nie dadelik vir kommentaar opgespoor kon word nie, het Maandag gesê: “Ek dink ek het iets om te bied. Ek dink ek het ’n visie van waarheen die party moet gaan, veral in die 20 maande in die aanloop tot die munisipale verkiesing.”

Madikizela het Vrydag gesê daar is DA-lede wat glo hy kan as tussentydse leier ’n verskil maak.

“Ek glo ons moet drie dinge doen – ons moet in gesprek tree met ons kiesers en strukture en die rekord regstel oor die onlangse gebeure in die party wat kiesers dalk kon verwar. Tweedens moet ons ons strukture gereed kry ter voorbereiding vir die leierskongres. Derdens moet ons verseker dat waar ons regeer, ons dit goed doen,” het Madikizela gesê.

Gana glo die 17 jaar wat hy in verskillende poste in DA-strukture gedien het, het hom genoeg ervaring vir die pos gegee. “Ek bring vars idees en denke en nie die ou manier van politiek nie. Ek glo Suid-Afrikaners het vir ons ’n boodskap gestuur dat ons moet verander. Die omgewing het verander en die denkwyses moet volg. Ons kan nie aanhou om op die ou manier te dink nie.”

Hoofsaaklik leiersfigure in die federale raad gaan die tussentydse leiers kies. Die meeste afgevaardigdes na die leierskongres sal egter swart wees.

Hy beywer hom vir maatskaplike en ekonomiese geregtigheid en ekonomiese insluiting.

Theo Venter, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, sê Steenhuisen is die “voor die hand liggende” keuse vir die tussentydse leier.

“Ek neem aan die ander kandidate het waarskynlik hul name in die hoed gegooi om blootstelling te kry in die lig van die leierskongres van 2020.

“Hoofsaaklik leiersfigure in die federale raad gaan die tussentydse leiers kies. Die meeste afgevaardigdes na die leierskongres sal egter swart wees.

“Hoewel Steenhuisen die natuurlike keuse as tussentydse leier is, sal dit dus nie noodwendig die geval in 2020 wees nie gegewe die samestelling van die afgevaardigdes na die kongres.”

Hy het daarop gewys dat die DA skadebeheer toepas. “In só ’n geval kies jy leiers wat jou deur die bruisende maalstroom gaan vat. Hulle wil deur die stroom kom en die klimaat vir ’n behoorlike verkiesing bepaal.”

Venter het oor die tussentydse voorsitter gesê dié rol is nie so omvangryk nie – dit is hoofsaaklik ’n seremoniële pos. “Die DA loop die gevaar om ’n leliewit tussentydse leierskap te hê. Dit is nie goeie politiek nie. Ek dink dus die voorsitter sal waarskynlik ’n kompromis-kandidaat wees.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.