Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA, VF Plus kap herlewing van komitee oor onteiening

Met die ekonomie wat bloei, speel die ANC-regering met vuur deur voort te gaan om grondonteiening sonder vergoeding te laat ondersoek.

Dít is die reaksie van die DA en die VF Plus nadat ’n meerderheid LP’s in die nasionale vergadering (NV) Dinsdag op ’n sitting besluit het om die ad hoc-komitee oor die wysiging van art. 25 van die Grondwet weer in die lewe te roep.

Die DA en die VF, wat albei teen die herinstelling van die komitee gestem het, meen die hernude klem op grondonteiening sonder vergoeding sal in die huidige ekonomiese krisis beleggers verder afskrik.

Die VF Plus het selfs sover gegaan deur te sê die nuwe komitee stuur ’n sterk boodskap dat Suid-Afrika op pad is om ’n tweede Zimbabwe te word.

“Die regering stuur die boodskap aan die wêreld se beleggers hulle is welkom om in die land te kom belê, maar hulle moet weet hul eiendom kan sonder vergoeding afgeneem word,” lui ’n verklaring deur die VF Plus.

Navraag is Woensdag aan Pule Mabe, woordvoerder van die ANC, gerig. Sy kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

Volgens die NV het die uitbreking van die Covid-19-pandemie veroorsaak dat die ad hoc-komitee op 29 Mei verval het sonder dat sy mandaat deur die NV verleng is.

“Die NV het gestem om die komitee met dieselfde samestelling en magte as sy voorganger te hervestig en het hom opdrag gegee om al die werk van die vorige komitee te inkorporeer,” lui ’n verklaring deur die parlement.

Die komitee moet teen die spertyd van 31 Desember aan die parlement verslag doen.

Wat ’n ongelooflike verwydering van die werklikheid. Die laaste ding wat Suid-Afrika nou kan bekostig, in ’n pandemie en ’n ekonomiese krisis wat al 26 jaar lank aankom en deur die inperking vererger is, is om te fokus op grondonteiening sonder vergoeding.

Die DA sê in ’n verklaring dit is ironies dat Tito Mboweni, minister van finansies, verlede week in sy aanpassingsbegroting ’n somber prentjie oor die vooruitsig vir die ekonomie geskets het, maar dat die ANC-regering terselfdertyd wil voortgaan met die omstrede idee.

“Wat ’n ongelooflike verwydering van die werklikheid. Die laaste ding wat Suid-Afrika nou kan bekostig, in ’n pandemie en ’n ekonomiese krisis wat al 26 jaar lank aankom en deur die inperking vererger is, is om te fokus op grondonteiening sonder vergoeding.”

Magnus Heystek, ’n beleggingstrateeg en direkteur by Brenthurst Wealth, sê die dreigement van grondonteiening sonder vergoeding speel ’n groot rol in waarom kapitaal sedert die termyn van pres. Cyril Ramaphosa die land verlaat.

“Die afgelope vyf jaar het sowat R500 miljard uit die land gevloei. Hulle sê altyd nuwe beleggings kom die land in op die voorblaaie van koerante, maar verlaat ’n land op die agterblaaie. Wat ek daarmee bedoel, is dat baie kapitaal die afgelope jare stilletjies by die land uitvloei.

“Die dreigement van grondonteiening sonder vergoeding en ook ander onteieningswetsontwerpe soos dié oor intellektuele eiendom is ’n gevaarlig vir die res van die wêreld,” sê Heystek.

Die NV het in Desember 2018 die verslag van die grondwetlike hersieningskomitee aanvaar wat aanbeveel dat art. 25 gewysig moet word om grondonteiening sonder vergoeding eksplisiet moontlik te maak.

Die EFF het Maandag in ’n verklaring ander politieke partye geloof wat ook in die NV gestem het dat die komitee weer in die lewe geroep word.

“Hierdie partye het die belangrikheid van die vraag na grond bevestig.

“Dit dui verder op die onbetwisbare honger onder Afrikane en swart mense in die algemeen dat verdere uitstel nie meer geduld sal word nie,” lui die EFF se verklaring.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.