Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA vol hoop nuwe beleid gaan kiesers trek

Suid-Afrikaners kan oorreed word om in te koop by die DA se nuwe beleidsposisie waarmee dié party hom finaal van rasgegronde regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging distansieer, én om volgende jaar vir dié party in die plaaslike verkiesings te stem.

So het Gwen Ngwenya, DA-beleidshoof, Maandag gesê toe sy saam met Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, die media toegespreek het oor die party se nuwe beleidsrigting wat die afgelope naweek op sy aanlyn beleidskonferensie aanvaar is.

Zille moes ook vure doodslaan en het ten sterkste ontken dat sy ’n suiweringsveldtog in die DA dryf wat tot die uittog van swart senior voormalige DA-leiers, soos Mmusi Maimane, Herman Mashaba en John Moodey gelei het, asook agter die voortdurende ondersoeke teen ander swart provinsiale DA-leiers sit.

Intussen het Tony Leon, voormalige DA-leier, Maandag gesê dat die DA se nuwe beleidsrigting ’n “stap in die regte rigting” is, veral omdat die party se beleidsposisie die afgelope jare “deurmekaar en verwarrend was en die party tot ’n mate as ’n ‘ANC-lite’ beskou is”.

Helen Zille Foto: Lerato Maduna
Gwen Ngwenya Foto: Leon Sadiki

Oor die suiweringsveldtog het Zille gesê die DA se federale raad en veral sy het Maimane gevra om nie te bedank nie. Hy het verkies om te bedank.

“John Moodey het geweet hy word deur baie ernstige klagte in die gesig gestaar. Hy het verkies om te bedank. Net so het Herman Mashaba besluit om te bedank.

“Daar is geen suiweringsveldtog teen swart DA-lede nie en daar sal nooit een wees nie. Swart mense kan net soos wit mense hul eie besluite neem. As wit mense nie herverkies word vir DA-LP-posisies nie, hoor ons nie mense sê daar is ’n suiweringsveldtog teen wit mense in die DA nie.”

Volgens Zille is dit ’n mite dat ses uit die nege swart DA- provinsiale leiers aangekla word of dat nog ’n uittog van swart leiers uit die DA verwag word, soos Sondag berig is.

Sy meen net een provinsiale leier, “wat nie swart is nie”, word aangekla.

Volgens Zille word daar uit beginsel en nie velkleur nie, teen DA-lede opgetree.

Oor of die nuwe beleidsrigting steun vir die DA in die verkiesing gaan lok, het Ngwenya gesê Suid-Afrikaners kan deur goeie argumente oorreed word en dít is wat die DA sal doen.

My gevoel is dat die DA daarmee die wit steun wat dit in die laaste verkiesing aan die VF Plus afgestaan het, wil terugwen. Die beleid gaan die party egter stemme in swart gemeenskappe kos.

Volgens haar wys studies die meeste Suid-Afrikaners meen die huidige rasgegronde bemagtigingsbeleide het hulle nie bevoordeel nie.

Sy sê baie Suid-Afrikaners is verbind tot nierassigheid en om deel van die ekonomie te word. Die DA-beleid maak dit moontlik.

Zille het bygevoeg dat die ANC ook “net ras gebruik as ’n lisensie om te plunder”.

Leon het verder gesê die meeste Suid-Afrikaners het eerder ’n obsessie met werkskepping en armoedeverligting as met ras.

“Die DA kan hom met sy nuwe beleidsrigting as party hervestig en duideliker sê waarvoor hy staan. Intern kan DA-ampsdraers voortaan uit een mond oor party-ideologie praat, terwyl die party na buite ’n sterk aanbod aan kiesers kan maak.”

Dr. Ntsikelelo Breakfast, politieke ontleder by die Nelson Mandela-Universiteit, sê ’n nierassige beleidsrigting vir enige party is onrealisties, oneerlik en onprakties gegewe Suid-Afrika se geskiedenis.

“My gevoel is dat die DA daarmee die wit steun wat dit in die laaste verkiesing aan die VF Plus afgestaan het, wil terugwen. Die beleid gaan die party egter stemme in swart gemeenskappe kos.”

Hoekom ras nie meer sentraal in DA-regstelbeleid is nie:

Gwen Ngwenya, DA-beleidshoof, sê die debat oor ras is byna “asof ons met ’n strooimannetjie moet argumenteer omdat daar tans niks bewyse is wat aandui dat dit die gevoel van die meeste Suid-Afrikaners is dat ons moet kies tussen nierassigheid en regstellende aksie nie”.

“Ek hoor eerder baie Suid-Afrikaners is verbind tot nierassigheid in die sin dat hulle erken rasklassifikasie self is ’n nalatenskap van apartheid en dat baie mense wil wegbeweeg van al dié nalatenskappe van apartheid en eerder ingesluit wil word by die ekonomie.

“Daar is geen bewyse dat Suid-Afrikaners nie ’n beleid sal ondersteun wat sowel nierassig is as ekonomiese insluiting bewerkstellig nie.”

Volgens Ngwenya sal so ’n beleid die materiële probleme van benadeeldes oplos.

Sy meen die DA wil met sy beleid meer weet as die feit dat iemand net swart en arm is. “Ek wil weet of mense ver weg van werkplekke woon, watter gesondheidsorgdienste hulle het, of hulle aan wanvoeding ly, of so ’n persoon ’n werk het. Dit is waarom ons sê nie net ras kan bepaal watter materiële omstandighede mense ervaar nie. As ’n mens daardie omstandighede wil hanteer, moet jy meer weet van mense as net wat hul ras is.”


Meer oor:  Verkiesing  |  Da  |  Gwen Ngwenya  |  Helen Zille  |  Kiesers  |  Beleid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.