Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA vra Cyril om NMB-metroraad te ontbind

Daar is ’n moontlikheid dat die Nelson Mandelabaai-metroraad ontbind kan word weens politieke onstabiliteit wat dreig om die metro in duie te laat stort.

Die metro word die afgelope jaar verlam deur korrupsiebewerings teen die burgemeester, Mongameli Bobani, en sy regerende koukus, wanadministrasie en klagtes oor ernstige diensleweringsprobleme in Port Elizabeth.

Bobani het vandeesweek die vyfde poging om hom by wyse van ’n wantrouemosie uit die kussings te lig oorleef.

Die DA in die metro het homself Donderdag tot pres. Cyril Ramaphosa gewend. Hulle wil hê hy moet by wyse van art. 139 van die Grondwet die metroraad ontbind.

Art. 139 laat die provinsiale regering toe om die metro onder administrasie te plaas of om die raad te ontbind.

“Die enigste manier om die metro te red is om die raad te ontbind. Ons kan dan weer ’n verkiesing hou om te kyk wie die kiesers wil aanstel,” het Nqaba Bhanga, die DA se provinsiale leier, gesê.

Mongameli Bobani Foto: Lulama Zenzile

Bhanga sê elke DA-lid is bereid om hul werk en salaris prys te gee, want hulle is gereed vir ’n herverkiesing.

“Dit wat nou aan die gang is, is nie waarvoor die mense in 2016 gestem het nie. Daar moet dringend ingegryp word om dié koalisie van korrupsie aanspreeklik te hou.”

Athol Trollip sê die DA-koukus bespreek al die afgelope ses maande die moontlikheid van ’n herverkiesing.

“Ons gaan nie agteroor sit en salarisse kry, maar nie die werk doen nie. Die kiesers moet besluit wie hulle wil hê.

“Bobani is soos ’n kanker in die stad wat verantwoordelik is vir die stad se ineenstorting,” sê Trollip.

Bhanga het Xolile Nqatha, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), gevra om die metro dadelik onder administrasie te plaas.

Nqatha het reeds die groen lig gekry om by die metro in te gryp weens Bobani en sy raadslede se versuim om die poste van uitvoerende direkteure te vul, weens die aanstelling van ’n ongekwalifiseerde munisipale bestuurder en die metro se versuim om vergaderings te hou.

Die nasionale tesourie het die metro ook in een van vele skrywe ingelig dat hy bykans R3,2 miljard van sy geïntegreerde busvervoerstelsel (IPTS)-toelae moet terugbetaal. Dié bedrag is gelykstaande aan 27% van die metro se bedryfsbegroting, en sowat drie jaar se billike aandeel.

In ’n verdoemende verslag wat die ANC se Rory Riordan, die party se hoofsweep, vir die komitee vir begroting en tesourie saamgestel het (in reaksie op die skrywe van die nasionale tesourie), word die geskiedenis van die IPTS se wanbestuurder blootgelê.

In dié verslag erken die ANC die projek is uit die staanspoor gekenmerk deur omstredenheid en dat miljoene rande vermors is. Voorstelle oor hoe die ANC die probleme gaan oplos, sluit die verwyding van Bobani in.

Bobani het vandeesweek opnuut gesê Cogta span die kar voor die perde en dat dit geensins nodig is vir enige ingryping in die metro nie, want alles verloop glad.

Daar is nog geen aanduiding wanneer die volgende raadsvergadering gaan plaasvind nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.