Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA vra opnuut dat OB uit haar pos verwyder word

’n Hernieude versoek van die DA om prosedures vir die verwydering van adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), te begin, sal ingevolge die nuwe parlementêre reëls oorweeg word.

Dié besluit kom nadat Natasha Mazzone, DA-hoofsweep, aan Thandi Modise, speaker van die nasionale vergadering (NV), geskryf het om te versoek dat die parlement in die nuwe jaar met die proses begin om Mkhwebane uit haar pos te verwyder.

Nuwe reëls vir die verwydering van ’n hoof van ’n hoofstuk 9-instelling, wat die kantoor van die OB insluit, is op 3 Desember deur die NV aanvaar.

Die DA het vroeër vanjaar ook versoek dat ’n proses begin word om die OB uit haar pos te verwyder, maar daar was toe geen reëls waarvolgens so ’n proses aangepak kon word nie.

Moloto Mothapo, parlementêre woordvoerder, het Woensdag in ’n verklaring gesê die DA se versoek en substantiewe mosie vir die verwydering van die OB sal ingevolge die nuwe reëls oorweeg word.

Kragtens die nuwe reëls kan enige LP ’n verwyderingsproses teen die hoof van ’n grondwetlike instelling begin deur ’n substantiewe mosie wat die presiese grondslag van die wangedrag, onbekwaamheid of onbevoegdheid uiteensit.

Die speaker van die NV moet hierna só ’n mosie en ondersteunende dokumente na ’n onafhanklike paneel verwys vir ’n voorlopige ontleding en die NV en die president daarvan in kennis stel.

Dié paneel, wat uit drie geskikte Suid-Afrikaners sal bestaan, moet gesamentlik oor die nodige regs- en ander bevoegdhede sowel as ervaring beskik om die ontleding te kan doen. Die speaker mag ná raadpleging met die hoofregter ook ’n regter op die paneel aanstel.

Politieke partye moet ook ’n redelike tyd kry om kandidate vir die paneel te benoem. Die paneel moet sy werk binne 30 dae nadat dit aangestel is, afhandel en aanbevelings aan die speaker doen. Die aanbeveling van die paneel moet aan die NV voorgelê word vir goedkeuring.

Indien die NV besluit dat die ondersoek moet voortgaan, moet die kwessie na ’n spesiale komitee ingevolge art. 194 van die Grondwet verwys word vir ’n formele ondersoek. Dié komitee, wat dieselfde magte as dié van ander parlementêre komitees sal hê, moet die formele ondersoek doen en aan die NV verslag doen daaroor. Die komiteeverslag wat bevindings, aanbevelings en redes moet bevat, moet aan die NV voorgelê word vir dringende debat.

Indien die verslag aanbeveel dat die openbare ampsdraer uit sy of haar pos verwyder moet word, moet die NV daaroor stem en as die vereiste meerderheid ten gunste daarvan stem, moet die president oor die besluit ingelig word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.