Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA vra skerp vrae oor prestasiebonusse aan hoës

Skerp vrae word gevra oor prestasiebonusse vir die Mangaung-metro se stadsbestuurder, adv. Tankiso Mea, en sy departementshoofde.

Volgens wet mag hulle tussen 5% en 14% van hul salaris bykomend as prestasiebonusse kry indien hul doelwitte behaal is.

Adv. Tankiso Mea (regs), stadsbestuurder van die Mangaung-metro in Bloemfontein. Hy het by navraag gesê hy en sy departementshoofde het geen prestasiebonusse vanjaar geneem nie.Foto: Netwerk24

Dirk Kotzé, ’n DA-raadslid, het gesê dit is ongehoord dat die metro-munisipaliteit se hoës aan hulself prestasie-bonusse toeken terwyl dienslewering in die stad ’n laagtepunt bereik het.

“Die Rosestad lyk soos ’n varkhok omdat vullissakke nie verwyder word nie.”

Maar Mea en Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie van die metro, het Vrydag albei afsonderlik ontken dat die bonusse toegeken en geneem is.

Kotzé het op die raadsvergadering gesê in die lig van wat Tito Mboweni, die minister van finansies, vandeesweek oor die begroting gesê het, het hy vrae oor dié prestasiebonusse.

Mboweni het gesê in Suid-Afrika is 27 000 staatsmiljoenêrs – amptenare wat almal meer as R1 miljoen per jaar verdien – geskep wie se salarisse afwaarts aangepas moet word.

“Dit is die prestasiebonusse waarop Mea en sy departementshoofde, almal wat regstreeks aan hom verslag doen, jaarliks geregtig is indien hulle sekere prestasies in hul prestasie-beoordelings behaal het, terwyl hul salarispakkette reeds meer as R1 miljoen per jaar is.

“Ek het aan Thembeni Ngcangisa, die nuwe Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), en die parlement hieroor geskryf,” het Kotzé gesê.

Prestasiebonusse word gewoonlik in Julie uitbetaal.

“Die DA wil weet watter prestasiehersienings gedoen is en watter bonusse uitbetaal is. Ons wil weet of die metro se polisiehoof, Israel Kgamanyane, wat al langer as ’n jaar dié pos beklee en ’n salarispakket van R1,62 miljoen per jaar verdien, ook ’n prestasiebonus gekry het, terwyl daar nog geen polisiemag onder hom aangestel is nie.”

Hy het ook vrae gevra oor die finansiële herstelplan van die metro wat lyk asof dit nie in werking gestel word nie, en wou ook weet watter stappe teen Mea gedoen is omdat Moody’s, die internasionale kredietgradeerder, die metro die afgelope jaar vier kerwe afgradeer het en die finansiële herstelplan nog nie in werking gestel is nie.

Hy wou ook weet hoekom Mea van 2016 af nog nie ’n metropolisiemag vir Mangaung op die been gebring het nie.

Kotzé het gesê Mea moes volgens sy KPA (kritieke prestasie-areas) die invorderingskoers van munisipale skuld van 86% tot 91% verhoog het, maar hy twyfel of dit gebeur het.

Hy het ook vrae gevra oor die gekwalifiseerde oudit-mening wat die metro vanjaar van die OG gekry het, wat ’n verswakking in die boekhoustelsel van die metro vergeleke met die vorige jaar is.

Kotzé het Donderdag gesê die oudit-aksieplan is aan Donderdag se raadsvergadering onttrek terwyl dit duidelik rigting moes gee oor wat gedoen moet word om bevindings van die OG reg te stel.

“Dit was belangrik dat die raadslede hieroor moes praat. Mea moes my op die skriftelike vrae hierbo geantwoord het, maar dit het nog nie gebeur nie. Die ANC het boonop ook nie op die raadsvergadering hierop geantwoord nie.”

Meer oor:  Mangaung-Metro  |  Adv. Tankiso Mea  |  Da  |  Amptenare  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.