Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA vra weer dat parlement OB onthef van pos
Thandi Modise Foto: Daily Sun

Die onlangse verdoemende hofuitspraak teen adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), in die Estina-suiwelprojek-geding is ’n hoofrede waarom die DA weer die parlement vra om haar geskiktheid vir haar pos te ondersoek, sê John Steenhuisen, die DA-hoofsweep.

Steenhuisen het Sondag bygevoeg dat daardie hofuitspraak weer eens bewys het dat Mkhwebane “onbevoeg” as OB is.

Die hooggeregshof in Pretoria het in Mei onder meer bevind dat Mkhwebane haar plig versuim het om die Estina-suiwelprojek in Vrede in die Vrystaat te ondersoek en daaroor verslag te doen.

Die hof het in dié aansoek, wat die DA en die grondwetwaghond Casac verlede jaar teen Mkhwebane ingedien het, haar verslag daaroor ongrondwetlik verklaar en ter syde gestel.

Steenhuisen het Sondag gesê hy het die DA se nuutste poging om Mkhwebane se geskiktheid deur die parlement te laat ondersoek ingedien kort nadat Thandi Modise as die nuwe Speaker van die Nasionale Vergadering verlede maand aangewys is.

Modise het Saterdag in ’n verklaring bevestig dat haar kantoor op Steenhuisen se nuutste versoek gereageer het.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer, Vrydag op die rooi tapyt tydens die staatsrede by die parlement. Foto: Edrea du Toit

“In terme van die reëls van die parlement is die Speaker verplig om so ’n versoek na ’n gepaste struktuur van die parlement vir oorweging te verwys. Advies word tans versoek oor die gepaste manier om met die DA se versoek te handel gegewe die feit dat sekere strukture van die sesde parlement nog nie gestig is nie,” lui ’n verklaring van Modise.

“Voorheen het die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste ’n soortgelyke versoek oorweeg, maar dit het in Februarie (vanjaar) besluit om aan die Nasionale Vergadering aan te beveel om nie die versoek om die prosedures om die OB te verwyder, te bespoedig nie. Dit omdat so ’n verwydering voortydig sou wees.”

Bogenoemde besluit het gevolg nadat Steenhuisen verlede jaar vir die eerste keer die parlement versoek het dat die proses om Mkhwebane uit haar pos te verwyder bespoedig word. Dit was kort op hakke van die negatiewe bevindinge wat die hooggeregshof in Pretoria ook teen Mkhwebane in die Absa/CIEX/Reserwebank-aangeleentheid gemaak het.

Mkhwebane was onlangs weer in die nuus toe sy bevind het dat Pravin Gordhan, die minister van openbare ondernemings, destyds met die Ivan Pillay-aftreesage ook onbehoorlik en ongrondwetlik opgetree het.

Gordhan het verlede week ’n dringende aansoek ingedien om die verslag teen hom te laat hersien. Mkhwebane het aangedui dat sy dit sal teenstaan.

  • Intussen het die parlement Sondag ook aangekondig dat hy in die komende week die prosesse sal begin om al sy stelsels en strukture reg te kry vir sy grondwetlike funksies van oorsig, wetmakery en die fasilitering van openbare deelnameprosesse vir die volgende vyf jaar.

“Dit volg ná pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging van sy kabinet en die president (wat vroeër) vir Modise en Amos Masondo, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, geadviseer het dat hy sy staatsrede op 20 Junie tydens ’n gesamentlike sitting van die parlement sal lewer,” lui die parlement se verklaring.

Die verskillende portefeuljekomitees in die parlement sal ook geherstruktureer word nadat Ramaphosa in sy nuwe kabinet die aantal departemente verminder en sommige saamgevoeg het.

Meer oor:  Busisiwe Mkhwebane  |  John Steenhuisen  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.