Die DA het nóg ’n versoek by die parlement ingedien om adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), uit haar amp te verwyder.
Natasha Mazzone, DA-hoofsweep, het Vrydag gesê haar party het weer aan Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering (NV), geskryf en haar versoek om die verwyderingsprosedures teen Mkhwebane weer in te stel.
Dít volg nadat die NV die afgelope week ’n amptelike stel reëls aanvaar het oor hoe om ’n sittende OB of enige ander hoof van ’n hoofstuk 9-instelling uit sy of haar pos te verwyder.
Volgens Mazzone het die DA Modise versoek om die parlementêre proses om Mkhwebane te verwyder so gou moontlik te begin nadat die parlement ná die Desembervakansie sy werksaamhede hervat.
Mazzone het in ’n verklaring gesê die DA was van die begin gekant teen die aanstelling van Mkhwebane as OB en dat “ons haar verwydering as ’n dringende kwessie beskou”.
“Sy het oor en oor bewys dat sy ongeskik is om die amp te beklee, het deurgaans ’n onvermoë getoon om haar werk onafhanklik te doen en het ’n swak begrip van sowel die wet as haar mandaat as openbare beskermer getoon.
“Erger nog, het Mkhwebane se gedrag onmeetbare skade aan die eens gerespekteerde reputasie van die OB-kantoor aangerig.”
Volgens Mazzone is hulle met die aanvaarding van die nuwe reëls die afgelope week ’n stap nader om Mkhwebane te verwyder en om haar “met ’n bekwame en onafhanklike OB te vervang”.
John Steenhuisen, tussentydse DA-leier, het in sy dae as DA-hoofsweep ook verskeie versoeke aan die parlement gerig om Mkhwebane, veral na ’n reeks verdoemende hofuitsprake teen haar, uit haar amp te verwyder.
Die parlement het toe egter nog nie reëls gehad oor hoe dit gedoen moet word nie. Dit het egter daartoe gelei dat die parlement spesifieke reëls in dié verband ingestel moes kry.