Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Steenhuisen: 'DA was soos blou drillerige jellie'

Die DA wat soos “groot, blou drillerige jellie” in die Mei-verkiesing na links en regs geneig het, moet sy ruggraat terugkry.

Dít was die woorde van John Steenhuisen, nuwe tussentydse DA-parlementêre leier, wat Maandag die Kaapstadse persklub toegespreek het.

Hy het erken dat “onstuimige gebeure” in die party die laaste paar weke – waaronder die bedanking van Mmusi Maimane, as DA-leier, Athol Trollip as DA-voorsitter en Herman Mashaba as burgemeester van Johannesburg – ’n aansienlike slag vir die party se doelwitte was.

Voorspellings van die DA se dood is egter volgens Steenhuisen “grootliks oordrewe”. Die DA het vroeër terugslae beleef, maar hul waardes en beginsels het die party en sy voorgangers deur goeie en slegte tye volhoubaar gehou.

Hy stem nie saam met diegene wat glo dat die DA nie meer die voertuig vir verandering in Suid-Afrika is nie. “Inteendeel, die DA is die enigste lewensvatbare voertuig vir demokratiese verandering en ons beste hoop vir die toekoms. Dit sê egter nie dat die voertuig nie aandag vereis nie.”

Steenhuisen het daarop gewys dat die verslag van die hersieningspaneel, wat ná die verkiesing aangestel is, nie ’n dodelike slag vir die DA was nie, maar dat dit ’n “rare geleentheid” in die politiek is om te “hergroepeer, te ontleed en die party weer te verbind tot die stryd vir ’n beter Suid-Afrika”.

Hy het dit reguit gestel dat die Mei-verkiesing ’n terugslag vir die DA was. “Geen party wil terugsak in ’n verkiesing nie. Geen party wil setels in die Nasionale Vergadering verloor nie en ek, soos baie van my mede partylede, is bitter teleurgesteld in die verkiesingsuitslag.”

Die partye wat in die verkiesing gegroei het – die EFF en VF Plus – se boodskappe was duidelik. “Hulle was duidelik oor wie hulle is, waaroor hulle staan en waarvoor hulle veg.

ns moet onsself weer anker in ons kernwaardes en ons moet nierassigheid selfversekerd evangeliseer... Ons moet dringend weer kontak maak met ons kiesers wat voel dat ons hul agtergelaat het en kiesers wen wat ons nooit vertrou het of vir ons gestem het nie.

“In teenstelling daarmee het jy die DA gehad wat in die middel van alles gestaan het – die groot, blou drillerige jellie, met absoluut niks wat dit regop gehou het nie. Ons dril na links en dril na regs, gestoot deur die winde van verandering in die politiek . . . Ons taak in die weke en maande wat kom, is duidelik – ons moet weer ons ruggraat vind.

“Ons moet onsself weer anker in ons kernwaardes en ons moet nierassigheid selfversekerd evangeliseer... Ons moet dringend weer kontak maak met ons kiesers wat voel dat ons hul agtergelaat het en kiesers wen wat ons nooit vertrou het of vir ons gestem het nie.”

Filosofies moet die DA se keuse wees om die vakuum in die nierassige middelgrond van Suid-Afrika se politieke sentrum te vul. “Ons moet onbeskaamd opstaan vir ons waardes. Ons moet opstaan teen die radikale raspopulisme aan die linkerkant en aan die regterkant.”

Steenhuisen het gesê ’n refleksreaksie om konserwatiewe wit kiesers na te jaag, sal ’n fout wees wat die DA sal lei na onverkiesbaarheid en kwalik ’n geloofwaardige opsie vorentoe. “Laat ek duidelik wees. Ek is baie hartseer oor Maimane se vertrek uit die DA - hy was nie net die leier nie, maar hy is ook ’n persoonlike vriend.“

Ek wil ook die idee uit die weg ruim dat ons gaan terugkeer na ’n tipe oranje brigade... dit is ’n doodskoot vir die DA as ons dit doen.

So ons gaan nie terug na ons kernkiesers soos die vraag gelui het nie. Ons gaan terug na ons kernwaardes,” het hy gesê.

Oor sy verhouding met Helen Zille, nuutverkose voorsitter van die federale raad, het hy erken dat hulle twee verskil het oor haar twiet oor kolonialisme en dat dit die DA by die stembus seergemaak het. Sy is egter demokraties verkies en het “taamlik oortuigend” gewen. Sy het haar ook daartoe verbind om in haar baan te bly, maar hy sien uit daarna om van tyd tot tyd die ander lyne uit te wys.

“Op die oomblik is ons prioriteit om die politieke selfmoord in die DA te staak, om mekaar uitmekaar te trek in die openbaar... om die ingewande uit te trek om vir almal te wys, en om te begin om gedissiplineerd en gefokus te wees. Ek dink mense is moeg om te hoor oor die interne twiste in die DA . . .”

* Steenhuisen, voormalige DA-hoofsweep, het Maandag aangekondig dat hy homself verkiesbaar sal stel om in November as die tussentydse nasionale leier en in April aanstaande jaar by die party se kongres as die permanente DA-leier verkies te word.

“Ek dink ek het iets om te bied. Ek dink ek het ’n visie van waarheen die party moet gaan, veral in die twintig maande in die aanloop tot die munisipale verkiesing.”

Meer oor:  Da  |  John Steenhuisen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.