Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA wil met Paia Denel se kontrak met Tsjad blootlê

Die DA sê hy sal die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) gebruik om agter die kap van die byl te kom van ’n ooreenkoms tussen die staatsbeheerde wapenmaatskappy Denel en Tsjad in Sentraal-Afrika wat glo versuur het.

Die Gupta-maatskappy VR Laser was glo betrokke by die transaksie, waarvolgens Denel R250 miljoen se weermagvoertuie aan Tjad sou verskaf.

Tsjad het in 2017 ’n deposito van R100 miljoen vir 40 militêre Casspirs betaal.

City Press het Sondag berig dat die maatskappy dit nie kon lewer nie omdat Denel-amptenare gekibbel het oor die eienaarskap van die waardevolle intellektuele eiendomsregte (IP) om die voertuie te bou.

Die IP is vroeër gratis aan die Gupta-familie gegee.

Tsjad het sedertdien die kontrak gekanselleer en die deposito teruggeëis van Denel, wat in ’n kontantknyptang is.

Denel sê in ’n ondersoek wat hy ná die kontrak begin het, is bevind dat die kontrak onregmatig met Tsjad gesluit is. Sekere amptenare word deur ’n tugverhoor in die gesig gestaar en ’n strafsaak is by die polisie aanhangig gemaak.

Die maatskappy sê hy werk ook aan die terugbetaling van die deposito aan Tsjad.

Pamela Malinda, Denel-woordvoerder, het aan City Press gesê Denel se ondersoek toon dat die transaksie “buite Denel se interne bestuursprosesse begin en gesluit is”.

’n Groot hoeveelheid van die belastingbetalers se geld is op dié ondernemings gemors waarvoor hulle weinig terugkry.

Natasha Mazzone, die DA se woordvoerder oor openbare ondernemings, het Maandag in ’n verklaring gesê dit is in die openbare belang dat die bevindinge van die ondersoek openbaar gemaak word.

“Dit sal help voorkom dat die vingerwysing in die verslag na senior amptenare en politici ’n stille dood sterf.”

Mazzone sê Denel is een van verskeie openbare ondernemings wat die laaste paar jaar weens wanbestuur en korrupsie onder die ANC-regering noustrop trek.

“ ’n Groot hoeveelheid van die belastingbetalers se geld is op dié ondernemings gemors waarvoor hulle weinig terugkry.”

Mazzone sê die DA sal ook parlementêre vrae aan Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, rig om uit te vind of daar ook ander soortgelyke kontrakte is wat Denel nie kan nakom nie.

Volgens City Press sê ingeligtes oor die transaksie dat ’n diplomatieke twis ontstaan het. Tsjad het gedreig om Suid-Afrika en Denel voor die internasionale hof van justisie te sleep wat oor regsgeskille tussen lande beslis.

Pres. Cyril Ramaphosa se hulp is nou ingeroep om die diplomatieke twis af te koel.

Die Tsjadiërs wou die Casspirs gebruik in hul teenterreur-gevegte in Mali en in die Sahel-streek.

Die Guptas het VR Laser in 2014 uitgekoop. Dennis Mlambo, Denel se voormalige verskaffingskettingbestuurder, het in Januarie 2018 in ’n e-pos aan Douglas Masuku, Denel Land Systems se aankopebestuurder, geskryf dat VR Laser nie aangestel behoort te word nie.

Dié pleidooi het geen gehoor gevind nie.

VR Laser is in sakeredding geplaas nadat die Guptas landuit gevlug het. Die sakeredders het die maatskappy se bates in September verlede jaar verkoop.

Meer oor:  Paia
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.