Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA wil nou aankla ná mosie in Makhura misluk

Die DA wil klagte van moord, poging tot moord en nalatigheid aanhangig maak, ná sy onsuksesvolle mosie van wantroue Dinsdag in die Gautengse premier, David Makhura.

John Moodey, die DA se provinsiale leier in Gauteng, sê die klagte sal ingedien word teen almal wat in die Life Esidimeni-saak geïmpliseer word, “en dit kan die premier insluit”.

David Makhura, premier van Gauteng. Foto: Mary-Ann Palmer

Die DA, wat die mosie in die Gautengse wetgewer gedebatteer het, meen die premier moet verantwoording doen vir die 144 psigiatriese pasiënte “wat in die ergste menslike tragedie in post-apartheid Suid-Afrika” gesterf het.

Die EFF het ook in die mosie gestem – nadat hulle in 2016 ’n soortgelyke mosie gebring het wat ook nie geslaag het nie.

News24 berig dat Makhura die mosie oorleef het met 38 stemme teenoor 27.

Moodey het Dinsdagmiddag gesê die publiek moet onthou dié mosie was maar die eerste ronde van die geveg.

“Ek voel tevrede dat ons ons verpligtinge as openbare verteenwoordigers nakom. Almal wat in hierdie sage geïmpliseer word, moet rekenskap gee,” sê Moodey.

Hy sê die DA berei met regshulp ’n “stewige saak” voor.

“Ons sal voortgaan met die petisies. Ons kan nie toelaat dat ’n openbare verteenwoordiger hom bo die wet ag nie.”

Die DA meen in ’n verklaring dat Makhura – “wat geweet het van die kansellasie van die Life Esidimeni-kontrak en die besluit om psigiatriese pasiënte na ongeregistreerde organisasies te verskuif” – van sy amp moet afstand doen.

John Moodey, provinsiale leier van die DA in Gauteng. Foto: Nelius Rademan

“Benewens dat hy sê hy neem verantwoordelikheid vir die tragedie, het hy nog niks anders gedoen as om die krake in sy eie beeld te pleister nie,” lui die verklaring.

Die ANC het die mosie in hul verklaring as “skandelik” bestempel. “Ons is met afgryse vervul deur die politieke opportunisme en windmakerigheid van die DA. Dit is ’n desperate poging van die DA wat bevestig dat hy wanordelik is en so laag sal daal om die Life Esidimeni-tragedie te gebruik om politieke relevansie na te jaag.”

“Ná afloop van die Life Esidimeni-tragedie het kameraad Makhura en die provinsiale regering van Gauteng volle rekenskap gegee en verantwoordelikheid daarvoor aanvaar, in plaas daarvan om die vlugbenadering te volg.” lui die verklaring.

Die ANC wys ook op verslae deur Malegapuru Makgoba, die gesondheidsombudsman, en die afgetrede adjunkhoofregter Dikgang Moseneke wat “nié kon fout vind” met die premier se optrede nie.

“Ons herhaal dat staatsinstellings en wetstoepassingsowerhede nie verder moet sloer in hul ondersoek na die omstandighede wat tot die Life Esidimeni-tragedie gelei het nie. Daar moet toepaslik opgetree word teen diegene wat die wet oortree het.”

Meer oor:  Life Esidimeni  |  John Moodey  |  David Makhura  |  Gauteng  |  Misluk  |  Mosie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.