Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA wil weet wie stem vir Jhb se 1ste burger
Drama gister. Foto: Felix Dlangamandla

Die DA-raadslede wie se “hoogverraad” daartoe bygedra het dat Geoff Makhubo van die ANC tot burgemeester van Johannesburg verkies is, is deel van die “toksiese kultuur” in die party die afgelope twee jaar.

John Steenhuisen, tussentydse DA-leier, het Donderdag op ’n mediakonferensie in die parlement gesê die party ondersoek Woensdag se verkiesing, maar dit gaan moeilik wees omdat dit ’n geheime stemmery was.

Herman Mashaba, gewese burgemeester, het  in ’n verklaring gesê die feit dat DA-raadslede vir Makhubo gestem het en nie vir hul eie kandidaat nie, bewys waarom hy die DA móés verlaat.

“Die DA van vandag is duidelik nie die DA waarby ek aangesluit het nie – nie wanneer hulle iemand steun wat blykbaar korrup is nie.”

Steenhuisen het gesê hy is uiters teleurgesteld met die DA-raadslede se gedrag en dat Johannesburg “weer vir die wolwe gegooi is”.

“Ek is as leier van plan om dit trompop te pak. Kiesers is moeg daarvoor om te sien hoe DA-mense teen mekaar baklei pleks van om vir die kiesers te veg.”

Volgens hom het hy dit aan alle DA-topstrukture en -koukusse duidelik gemaak dat interne swak dissipline die party se grootste hindernis is op die pad om ’n nasionale regering te word.

John Steenhuisen, DA-leier. Foto: Felix Dlangamandla
Geoff Makhubo, nuwe burge-meester van Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

Steenhuisen het gesê voortaan gaan baie sterk opgetree word teen enige DA-lid wat hom of haar aan swak dissipline skuldig maak.

“Ons kan eenvoudig nie voortgaan met daardie kultuur nie.”

Hy het gesê hy het hom verbind tot “veilige plekke” in alle DA-strukture waar gegriefde DA-lede hul kommer openlik kan uiter. So wil hy keer dat DA-lede optree soos in Johannesburg. Dit is nie net skadelik vir die DA-koukus nie, maar ook vir die inwoners van die gebied.

Hy het gesê daar is “magte wat saamspan om Tshwane ook terug te vat” – wat toe later gister die geval was.

“Maar soos in Johannesburg gaan ons daardie regering ook verlaat met ’n paar suksesse soos die finansiële regruk van die metro en die stabilisering van die dienslewering daar.”

Volgens Steenhuisen is die DA nie bereid om net te regeer ter wille daarvan om te regeer nie.

“As ons uitgestem word, sal ons uit die opposisiebanke steeds doen wat van ons vereis word.”

Oor 2019, waar Mmusi Maimane as partyleier en Mashaba as Johannesburgse burgemeester bedank het, het Steenhuisen “eerlik en reguit” gesê “dit was nie ’n goeie jaar vir die DA nie”.

“Maar ons kan in ’n hoekie gaan sit en die jaar betreur of ’n streep daardeur trek en aanbeweeg. Ons gaan egter aanpas en hard werk om die party te hervorm tot ’n moderne, progressiewe organisasie wat slaggereed vir die plaaslike verkiesings in 2021 sal wees.

“Dit is my doelwit as DA-leier om ’n oog te hou oor waar ons moet wees en wat die beste manier is om daar te kom.”

Meer oor:  Da  |  Geoff Makhubo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.