Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA wis wat hy doen met koalisies

Die DA was terdeë bewus van waarvoor hy hom inlaat toe die koalisieregerings ná die 2016-munisipale verkiesings in die verskeie metro’s gevorm is en glo die party vaar “taamlik goed” in die omstandighede.

Dit was Sondag James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, se reaksie by navraag oor die toekoms van dié koalisies.

Sunday Times het berig dat ’n plan van ’n groep DA-lede om die partyleierskap verlede week op sy dringende federale uitvoerende komiteevergadering te oortuig om aan hul koalisie-ooreenkomste met die EFF in Tshwane en Johannesburg te onttrek, onsuksesvol was.

James Selfe, die voorsitter van die DA se federale uitvoerende raad. Foto: Morapedi Mashashe

Toenemende ongelukkigheid heers glo onder sekere DA-lede oor die EFF se rol in die koalisies, veral wanneer dié party dreig om die DA uit beheer te stel wanneer die twee partye nie ooreenstem nie. Kommer heers glo oor Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, wat skynbaar altyd geredelik toegee tot die EFF se eise.

’n Poging deur die ANC en die EFF verlede week om Solly Msimanga, uitvoerende burgemeester van Tshwane, uit sy amp te verwyder, het Donderdag platgeval.

Die speaker van die raad het geweier om die mosie in te dien omdat die EFF nie die dringendheid daarvan skriftelik gemotiveer het nie. Omdat die EFF nie later in die dag na die raadsaal teruggekeer het nie, was daar nie ’n kworum toe die ANC hul mosie van wantroue wou indien nie.

Dié stap het gekom nadat die EFF verlede Maandag gehelp het om Athol Trollip as burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro in Port Elizabeth deur ’n mosie van wantroue uit sy pos verwyder. Hy is deur Mongameli Bobani, UDM-raadslid, vervang.

Selfe het egter Sondag gesê die party is daartoe verbind om te verseker dat die koalisies werk en dat dit samebindend bly.

Herman Mashaba. Foto: Argief

“Niemand ontken dat die koalisie-ooreenkomste in al daardie munisipaliteite nie op ’n kwessie-grondslag bestaan nie. Onderhandelinge in koalisies is waarskynlik, maar ons glo solank as wat ons vennote verbind is daartoe om werk te skep, korrupsie te beveg en basiese dienste te lewer, is daar genoeg in gemeen vir ’n suksesvolle koalisieregering.”

Geen minderheidsregering is ooit stabiel nie, het hy uitgewys. “Dit is die aard daarvan. Die EFF het dit juis van die begin af duidelik gemaak dat hy ons op ’n kwessie-grondslag sal ondersteun.”

Die DA het geweet waarvoor hy hom inlaat.

“Toe ek die koukusse van die metro’s waar ons in koalisieregerings was vir die eerste keer toegespreek het, het ek vir hulle gesê dié reëling kan vyf dae, vyf weke of vyf maande duur. Hopelik sal dit vyf jaar duur. Dit was altyd my beskouing dat ons van kwessie na kwessie leef. Sover dink ek vaar ons taamlik goed in die omstandighede,” het hy gesê.

Meer oor:  Herman Mashaba  |  James Selfe  |  Solly Msimanga  |  Koalisieregering  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.