Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Daar is baie wat soos Kallie dink’

Die hartseer van Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, se uitlating dat apartheid nie ’n misdaad teen die mensdom is nie, is dat Kriel nie die enigste een is wat so dink nie.

Dit was die reaksie van die politieke ontleder Ralph Mathekga oor Kriel se uitlating vandeesweek op Talk Radio 702.

“Is daar ’n verskil tussen wat Kallie Kriel gesê het en Helen Zille se omstrede uitlating ’n jaar of wat gelede dat alles in die land se kolonialistiese verlede nie verkeerd is nie?”

Kriel het aan Eusebius McKaiser se program deelgeneem. Hulle het oor plaasmoorde gepraat.

McKaiser het later op Twitter gesê: “Kallie Kriel sê vir my ‘ek dink nie apartheid was ’n misdaad teen die mensdom nie’. WTF.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.Foto: Argief

Kriel het by navraag gesê hy het aan McKaiser gesê apartheid is verkeerd omdat dit mense se waardigheid geskend het.

“Ek stem nie saam dat dit ’n misdaad teen die mensdom was nie. In 1973 was daar ’n debat in die Verenigde Nasies (VN) in New York.

“Die Amerikaanse ambassadeur het in dié debat gesê ingevolge bestaande internasionale reg, steun hy nie apartheid nie, maar hy beskou dit nie as ’n misdaad teen die mensdom nie.

“Hy het dit vergelyk met wat byvoorbeeld in die Tweede Wêreldoorlog in Hitler se konsentrasiekampe in Duitsland gebeur het, waar miljoene mense doodgemaak is, en wat onder kommunisme gebeur het, waarin miljoene mense ook dood is,” sê Kriel.

“Die punt wat ek gemaak het, is dat die ANC se alternatief vir apartheid wat hy destyds (1973) voorgestel het, kommunisme was.

“Dit is die konteks van my standpunt. Nou maak hulle asof ek sê apartheid was ’n briljante stelsel. Dit is ’n verdraaiing van die konteks waarin ek dit gesê het.

“Ons by AfriForum probeer nie voorhou dat die Afrikaners die beste mense in die geskiedenis was nie. Ons is maar soos enige ander volk wat foute én goeie dinge het.

“Daar is nou pogings om ons geskiedenis te kriminaliseer. Sonder om te maak asof ons foutloos is, moet ons dit wat in die verlede gebeur het, sien in die konteks van die tyd waarin dit gebeur het.”

Prof. Pieter Labuschagne, ’n politieke en regskenner van Unisa, sê die werklikheid is apartheid het mense in dié land van hul menswaardigheid gestroop.

“Dit is iets waarvan dié land nog lank die letsels sal dra, nie net vir dekades nie, maar vir eeue,” sê Labuschagne.

“My opposisie teen die wandade onder die vaandel van apartheid is ongekwalifiseerd. Apartheid was verkeerd en ons moet dit erken en vorentoe beweeg.”

Meer oor:  Ralph Mathekga  |  Kallie Kriel  |  Afriforum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.