Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma: ‘Daar is etniese diskriminasie teen my’

Die hof is verplig om “beslis en behoorlik” te handel met die bewyse dat daar in sy vervolging etnies teen hom gediskrimineer word.

In ’n beantwoordende verklaring wat by die hooggeregshof in Pietermaritzburg ingedien is, sê oudpres. Jacob Zuma sy vervolgers het onder meer na hom as ’n “Zulu boy” en ’n “Zulu bastard” verwys.

Hy sê ook die hof is grondwetlik verplig om die nasionale vervolgingsgesag (NVG) aan vervolging te onderwerp oor sy samewerking met buitelandse intelligensie-agentskappe soos die Amerikaanse geheimediens (CIA) in sy vervolging.

Die hof mag hom ook nie blind hou vir die bewyse van misdade deur senior lede van die NVG om die politieke belange van sy politieke mededingers te bevorder nie.

PIETERMARITZBURG, SOUTH AFRICA - MAY 17: Former SA
Oudpres. Jacob Zuma toe hy sy ondersteuners op 17 Mei vanjaar buite die hooggeregshof in Pietermaritzburg toegespreek het. Foto: Gallo Images

Hy wil ook hê die hof moet die besluite ondersoek om hom nie destyds op dieselfde tyd as Shabir Shaik te vervolg nie, asook ander strategiese en taktiese besluite van die NVG wat ’n invloed op sy reg op ’n geregverdige verhoor kan hê.

Zuma se beantwoordende verklaring volg op dié van adv. Billy Downer, SC, aanklaer in die saak waarin die oudpresident en die Franse wapenvervaardiger Thales in die hooggeregshof op 16 aanklagte van korrupsie, bedrog, geldwassery en rampokkery teregstaan.

Downer se beantwoordende verklaring het gevolg op Zuma se spesiale pleitrede, wat hy ingevolge art. 106 (1)(h) van die Strafproseswet gebring het.

Zuma wil hê Downer moet as aanklaer aan die saak onttrek word. Downer staan sy aansoek teen.

Zuma voer aan sy spesiale pleitrede is nie ’n aansoek dat die saak teen hom laat vaar word, soos Downer te kenne gee, nie.

Die oudpresident voer aan sy pleitrede is eerder ’n aansoek dat die hof moet bepaal of Downer hom op grond van sy “titel”, oftewel sy bevoegdheid, aan die saak moet onttrek.

Zuma se verweer is dat hy nie ’n billike verhoor sal kry as Downer die aanklaer in dié saak is nie.

Hy voer aan Downer se optrede in die verlede wys dat hy “nie voldoen aan die vereistes van onafhanklikheid en neutraliteit wat nodig is vir ’n aanklaer in ’n regmatige vervolging nie” – al beskik hy oor die nodige kwalifikasies.

Die oudpresident sê sy spesiale aansoek kan wel ’n invloed hê dat die saak teen hom teruggetrek word.

Hy is geadviseer dat hy afsonderlik kan vra dat die saak teen hom teruggetrek word. Daar is egter nog nie aan hom gesê in watter stadium van die saak hy só ’n aansoek kan bring nie.

“Ek eis dat ek vrygespreek word op grond daarvan dat die staat sy grondwetlike mag verloor het om getuienis in gevolge ’n regverdige verhoor teen my in te dien.

“Kragtens wet is die hof verplig om sulke bewyse te toets.

“Ek moet vrygespreek word omdat daar geen getuienis is wat die staat wettig aan die hof kan voorlê as die staat (die aanklaer) sy ‘titel’ verloor om te vervolg nie,” voer Zuma aan.

Downer het in sy beantwoordende verklaring daarop gewys dat Zuma drie jaar gelede in dieselfde hof ’n aansoek gebring het dat die saak teen hom laat vaar word.

Hy was onsuksesvol.

Die appèlhof het dit ook verwerp en Zuma het ’n soortgelyke aansoek by die konstitusionele hof verlede jaar teruggetrek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.