Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Daar was ’n poging om Selebi te help,’ getuig Hofmeyr

’n Poging is aangewend om die voormalige nasionale polisiekommissaris Jackie Selebi met sy korrupsieklagte te help, het Willie Hofmeyr, adjunk- nasionale direkteur van openbare vervolgings, Dinsdag voor die Mokgoro-kommissie getuig.

Willie Hofmeyr Foto: Verskaf

Hofmeyr lewer nou getuienis voor die kommissie in Pretoria oor die bekwaamheid van twee geskorste advokate, Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi, om hul amp te beklee. Adv. Ally Ramawele, vir Mrwebi, het Hofmeyr se “afleiding” bevraagteken dat Mrwebi bygedra het tot die inhegtenisneming van adv. Gerrie Nel in 2008. Dit is volgens Hofmeyr gedoen om die aanklagte teen Selebi te vertraag.

Ramawele wou by Hofmeyr weet waarop hy sy feite grond wanneer hy aanvoer dat Mrwebi in die Selebi-saak ingemeng het.

“As ek reg kan onthou, het hy notules van ’n vergadering by die direktoraat vir spesiale operasies aan Selebi gegee om hom te help,” het Hofmeyr gesê.

Die notules is ook in ’n verklaring ingesluit wat deur Mrwebi ingedien is om Selebi te ondersteun. Volgens Hofmeyr is die verklaring gebruik om Selebi met die aanklagte teen hom te help.

Nel is in 2008 in verband met korrupsie-aanklagte in hegtenis geneem terwyl hy Selebi vervolg het.

“Dit was vermoedelik ’n strategie om te verseker dat Nel in aanhouding is en nie kon bydra tot die opstel en teenstaan van dié aansoek nie,” het Hofmeyr gesê.

Hy het bygevoeg dat Nel se inhegtenisneming later omgekeer is omdat aanklaers geen gronde daarvoor kon vind nie.

Hofmeyr het ná Nel se inhegtenisneming probeer uitvind waar hy aangehou word in ’n poging om hom by te staan. Hy het Nel uiteindelik by die Moot-polisiekantoor gevind waar hy gereël het dat hy op borgtog vrygelaat word. Van die polisiebeamptes het geweier om aan hom bekend te maak waar Nel aangehou word. “Daar is geen twyfel nie dat daar iets sinisters agter Nel se inhegtenisneming was,” het Hofmeyr gesê.

Dit was vermoedelik ’n strategie om te verseker dat Nel in aanhouding is en nie kon bydra tot die opstel en teenstaan van dié aansoek nie.

Volgens hom het Jiba ’n persoonlike vete teen Nel gevoer omdat hy haar man vervolg het. “Haar renons in hom kon ’n rol in Nel se inhegtenisneming speel, maar daar kon ook moontlik politieke inmenging gewees het.”

Selebi is in 2008 van korrupsie aangekla en uiteindelik tot 15 jaar tronkstraf gevonnis. Hy is in 2015 oorlede nadat hy in 2013 op mediese parool vrygelaat is.

Hofmeyr se kruisverhoor voor die Mokgoro-kommissie word Donderdag voortgesit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.