Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Daar was niks verkeerd met CR17-veldtog, sê Cyril in NV

Pres. Cyril Ramaphosa het beklemtoon dat daar “geen kwaaddoenery, misdadigheid, misbruik van openbare geld of hulpbronne” was wat betref sy CR17-veldtog om ANC-president te word nie.

Hy het Donderdag dié versekering in vraetyd in die Nasionale Vergadering gegee nadat hy deur Julius Malema, EFF-leier, uitgevra is oor die besonderhede van individue in die presidensie en die kabinet wat betrokke was by die geldinsameling vir dié veldtog.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Jaco Marais

Groot openbare belangstelling heers die afgelope tyd in die CR17-veldtog nadat adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), in Julie bevind het dat Ramaphosa die parlement in November mislei het oor ’n skenking van R500 000 van die omstrede dienstemaatskappy, Bosasa, vir die veldtog.

Die besonderhede van sekere skenkers aan die veldtog het onlangs ondanks ’n aansoek deur Ramaphosa in die hooggeregshof dat sekere dokumente verseël word, steeds uitgelek. Onder diegene aan wie geld uit die CR17-veldtog betaal is, is Khumbudzo Ntshavheni as minister van kleinsakeontwikkeling, Thembi Siweya as adjunkminister in die presidensie, Fikile Mbalula as minister van vervoer, en Zizi Kodwa, adjunkminister van staatsveiligheid.

Twee EFF-LP’s, Tebogo Mokwele en Nkagisang Mokgosi, het vandeesweek bedank nadat dit aan die lig gekom het dat hulle elkeen R80 000 van die CR17-veldtog ontvang het.

Ramaphosa het gesê ’n debat is nodig oor die finansiering van politieke partye. Hy self het reeds met so ’n bespreking in die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die ANC begin.

Diegene wat geld aan die veldtog geskenk het, hetsy hulle organiseerders, vrywilligers, diensverskaffers of skenker soos hyself was, het dit uit “opregte kommer” vir die toekoms van die land gedoen.

As lede van die uitvoerende gesag daarvan deel was, het hulle dit gedoen as individuele partylede. “Hulle skuld geen verskoning vir wat hulle gedoen het nie.”

Soos dinge tans staan is daar geen reëls of regulasies vir die bekendmaking van skenkings vir interne leierskapsveldtogte nie.

Daar is ook nie ’n bepaling in die gedragskode vir die uitvoerende gesag of die etiese kode vir die bekendmaking van ledebelange daarvoor nie. Hoewel Ramaphosa die Wet op die Finansiering van Politieke Partye vroeër vanjaar onderteken het, strek sy reikwydte daarvan nie tot interne leierskapsveldtogte van partye nie.

Malema wou by Ramaphosa weet waarom hy die howe genader het om die dokumente te verseël wat die OB in haar ondersoek teen hom gebruik het, en vir hoeveel EFF-lede hy geld gegee het.

Wat mense in watter veldtog gedoen het, of die rol wat hulle gespeel het, het niks te make met die rede waarom hulle aangestel is nie.

Ramaphosa het geantwoord dat die dokumente verseël is omdat dit die besonderhede van veral bankrekeninge bevat het wat sover terug as 2014 dateer “toe daar geen CR17-veldtog was nie”. Wat die veldtog geraak het was die vertroulikheid van baie mense, veral omdat bankrekeninge “sensitief en taamlik private” inligting is.

Oor die geld aan die twee EFF-LP’s het Ramaphosa gesê die kwessie van menslikheid was ter sprake toe hy dié twee gehelp het. Hy het dit “uit vrygewigheid” gedoen toe die twee lede groot moeilikhede ervaar en hulp benodig het “soos ek met ander ook gedoen het” – diegene is egter nie aan die kant van Malema nie, het Ramaphosa verseker.

Mmusi Maimane, DA-leier, het gevra of Ramaphosa die kwessie van rasionaliteit oorweeg het toe hy Siweya, Ntshavhendi, Mbalula en Kodwa in sy kabinet aangestel het. “Was dit ’n beloning vir die veldtog wat hulle gelei het?”

Ramaphosa het “nee” geantwoord. “Ek tree nie so op nie. Die kwessie van bedrae wat in mense se bankrekeninge betaal is, het verskeie redes gehad. ’n Aantal van hulle was aktiewe deelnemers aan die veldtog en dit was bedoel vir suiwer wettige doelwitte om te verseker dat die veldtog vorentoe beweeg.

“En ten opsigte van die kollegas waarna jy verwys – daar was geen verwagting van erkenning of enige terugbetaling nie. Die besluit om mense in die uitvoerende gesag aan te stel is ’n proses waarby die leierskap van die ANC betrokke raak en wat die president baie versigtig oorweeg.

“Wat mense in watter veldtog gedoen het, of die rol wat hulle gespeel het, het niks te make met die rede waarom hulle aangestel is nie.”

Bantu Holomisa, UDM-leier, wou met verwysing na die “lelike uitval” tussen Ramaphosa en die OB weet of hy die hofsaak teen die OB sal terugtrek. Ramaphosa het toegegee dat die kwessie nie goed vir die demokrasie is nie. Hy het egter gesê die bevindings van die OB kan in ’n hof uitgedaag word op grond van die reg en feite, vandaar die advies dat die kwessie deur die hof besleg word.

Ramaphosa het op ’n ander vraag van Maimane gesê dit is nie nodig om ’n volskaalse onafhanklike ondersoek te doen om die bewerings van staatskaping deur Bosasa te ondersoek nie. Die Zondo-kommissie het die mandaat sowel as die gesag om dit te doen. Hy het reeds ’n beëdigde verklaring by die kommissie ingedien en is bereid om voor die kommissie te getuig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.