Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Daar’s g’n tyd vir ‘kleuterskool-politiek’ – De Lille

Patricia de Lille, die heraangestelde burgemeester van Kaapstad, is Woensdag weer op haar pos en aan die werk in die Stad Kaapstad. Dit nadat die Wes-Kaapse hooggeregshof haar Dinsdag tydelik in haar pos as burgemeester en as DA-raadslid heraangestel het, hangende die uitspraak in haar hersieningsaansoek, oor die DA se proses om haar uit die party te skop.

De Lille het kort ná die hofuitspraak by haar burgemeesterskantoor ingeloer en getwiet (https://twitter.com/PatriciaDeLille/status/996391330128498689) dat sy terug by die werk is. “Terug by die werk. Terwille van die inwoners van Kaapstad, terwille van goeie regering, laat ons bo ons verskille uitstyg en die behoeftes van die mense eerste stel.”

Patricia de Lille, die heraangestelde burgemeester van Kaapstad, het Dinsdag reeds ’n draai in haar kantoor gaan maak nadat die hooggeregshof in Kaapstad in haar guns beslis het.Foto: Verskaf

Die DA was egter nie so tegemoetkomend nie en het aangedui dat haar terugkeer slegs seremonieel gaan wees.

Die party het in ’n verklaring gesê dat die hofuitspraak nie in die beste belang van die inwoners van Kaapstad is nie en dat bestuursbesluite in elk geval in die tussentyd deur die DA-stadskoukus geneem sal word.

“Ek gaan nie die heel dag sit en tee drink nie en my burgemeestersketting dophou nie. Die werk moet voortgaan, of dit nou seremonieel is al dan nie, daar is werk wat gedoen moet word,” het De Lille Woensdag gesê.

Volgens die burgemeester sal sy die beste van ’n ongemaklike situasie maak, en hoop sy dat alle betrokke party tot die volgende hofuitspraak sal kan saamwerk.

De Lille het gesê dat sy dankbaar is vir die personeel wat haar terugkeer vlot laat verloop het en wat te alle tye hul werk professioneel doen.

“My personeel is nog ’n bietjie getraumatiseerd ná al die drama by die werk, maar hulle weet hulle is hier om die mense van Kaapstad te dien. Ek het reeds vergader met my hoof van personeel om te kyk watter kwessies dringend my aandag nodig het,” het sy gesê.

Oor die DA se kommentaar dat sy slegs ’n seremoniële rol sal vervul, het De Lille gesê: “Die waarnemende burgemeester, Ian Nielson, het toe hy tydelik in die pos aangestel is onder dieselfde wette as ek as burgemeester gehandel. Gister het hy steeds al die magte gehad as waarnemende burgemeester en dis snaaks dat dit vandag (Woensdag) wanneer die ware burgemeester in haar pos is, glo slegs seremonieel van aard is.”

De Lille het gesê sy gaan nie haar tyd met “kleuterskoolpolitiek” mors nie.

”Ongeag my struwelinge met die party, sal ek steeds met die leierskap in verbinding tree en ’n skrywe rig aan die DA-leier om uiteen te sit waarmee ek besig is en wat my planne is, terwyl ek nog in die kantoor is,” het De Lille gesê.

Dit sê sy, sal sy doen ongeag die party se kommentaar ná afloop van die hofuitspraak dat die hof verkeerd beslis het.

Sy het gesê dit is baie ontstellend dat die onafhanklikheid van die hof ook bevraagteken word, maar sy sal steeds daarna strewe om die verskille agter haar te plaas.

De Lille het gesê sy sal haar beywer om haar tyd te gebruik om die stad se geïntegreerde ontwikkelingsplan te implementeer.

Die burgemeester het ook belastingbetalers die versekering gee dat haar huidige hofgeding met die DA geensins uit die stadskoffers kom nie.

“Die dringende hofaansoeke het ek in my persoonlike kapasiteit teen die DA gebring. Die hooggeregshof sal aan die einde van die saak, wat op die 25 Mei aangehoor sal word, ’n kostebevel maak,” het sy gesê.

Meer oor:  Patricia De Lille
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.