Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Daar’s min te kies tussen Pandor en Dlamini-Zuma
Pres. Cyril Ramaphosa nadat hy dr. Nkosazana Dlamini-Zuma in 2017 in die ANC-leierskapstryd geklop het.Foto: Deaan Vivier

Dr. Naledi Pandor is die logiese keuse as adjunkpresident, maar die politieke en pragmatiese keuse is dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, meen dr. Sitembule Mbete, ’n politieke wetenskaplike verbonde aan die Universiteit van Pretoria.

Dr. Naledi PandorFoto: Sarel van der Walt
Lindiwe SisuluFoto: Sarel van der Walt
Dr. Sitembule MbeteFoto: Twitter

Sy sê Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge, is ook ’n kandidaat, maar sy is ’n te groot risiko vir pres. Cyril Ramaphosa.

Adj.pres. David Mabuza kan egter ook nog die spreekwoordelike appelkar omgooi as hy van besluit verander en hom as parlementslid laat beëdig. Dan sal hy ook weer as adjunkpresident oorweeg kan word.

Pandor, tans minister van hoër onderwys, was Ramaphosa se keuse as adjunkpresident toe hy teen Dlamini-Zuma in die presidentskapstryd as ANC-leier gestaan het.

Mbete meen as Ramaphosa ’n ander adjunkpresident as Mabuza moet oorweeg, sal hy beslis ’n vrou kies.

“Pandor sal ’n ooglopende keuse wees omdat sy Ramaphosa se eerste keuse was op Nasrec, waar die ANC se leierskapsverkiesing in 2017 gehou is.

“Hy sal haar vertrou as die leier van regeringsake en haar waarskynlik meer verantwoordelikhede gee.

“Die probleem is dat Pandor nie ’n groot gevolg in die ANC het nie. Daarom sal die president polities moet dink,” meen Mbete.

“Sisulu was een van sy stalmaats by Nasrec, maar dit was meer ’n kompromis as enigiets anders.

“Sy is baie ambisieus en ons het in die naweek gesien sy beweeg nader aan Ace Magashule (sekretaris-generaal van die ANC wat in die teenoorgestelde kamp as Ramaphosa is).

“Dit kan beteken dat Ramaphosa nie baie gemaklik met haar as adjunkpresident sal wees nie.”

Mbete meen die politieke en pragmatiese keuse sal Dlamini-Zuma wees.

“Sy is lojaal aan wie sy ook al dien en sy was die afgelope jaar ’n baie goeie minister in die presidensie.

“En al was sy by Nasrec die kandidaat van die faksie wat teen Ramaphosa was, was sy nooit regtig een van hulle nie.

“Die aanstelling van Dlamini-Zuma as adjunkpresident sou eenheid in die ANC bevorder. Dit sal ook die momentum wegneem van die anti-Ramaphosa-faksie,” meen Mbete.

Sisulu het verlede week in ’n verklaring ten sterkste ontken dat sy deel is van enige faksie wat Ramaphosa wil ontsetel. “Dis ’n fiktiewe teorie,” sê sy.

Theo Venter, ’n politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool in Potchefstroom, sê die groot vraag is wat Mabuza se strategie is.

“Sy bynaam in die ANC is nie verniet ‘The Cat’ nie en ons almal weet ’n kat het nege lewens.”

Venter sê Ramaphosa moet baie versigtig wees om hom nie van Luthuli-huis, die ANC se hoofkwartier in Johannesburg, te vervreem nie.

Die kans bestaan dat Mabuza opnuut sy magsbasis in Luthuli-huis sal herbou tot en met die volgende ANC-leierskapsverkiesing oor net meer as drie jaar.

Venter sê daar is sprake dat Sisulu meen sy is as minister van internasionale betrekkinge en samewerking die senior minister in die kabinet en verdien om adjunkpresident te word.

Volgens hom is daar is min te kies tussen Pandor en Dlamini-Zuma.

“Albei is waarskynlik op die laaste skof van hul politieke loopbaan en het nie ambisie om in die toekoms president te word nie.

“Hulle hou dus geen bedreiging vir Ramaphosa in nie en sal hom nie in die steek laat nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.