Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Dag 2 van Ace vs. ANC

Vrydag was die tweede dag van die hofstryd tussen die beleërde Ace Magashule en die ANC in die hooggeregshof in Johannesburg.

Magashule het hom tot die hof gewend om sy tydelike skorsing as die party se sekretaris-generaal ter syde gestel te kry. Die ANC staan die aansoek teen.

Pres. Cyril Ramaphosa en Jessie Duarte, ANC-adjunk-sekretaris-generaal, is saam met die party respondente in die aansoek.

Magashule vra ook dat die ANC se opsystaan-besluit ter syde gestel word.  Hy en verskeie ander ANC-lede, wat tans in howe op aanklagte van korrupsie en ander ernstige misdade teregstaan, is ingevolge hierdie besluit geskors nadat hulle geweier het om hul poste vrywillig te ontruim.

25 Jun. 16:02:41

Volgens regter Kollapen sal hulle probeer om so gou moontlik uitspraak te gee omdat die aansoek gewigtige regskwessies opper.

“Ons sal ons werk sonder vrees of begunstiging doen. Dit is wat die Grondwet van ons verwag. Ons sal met die partye kommunikeer oor wanneer die uitspraak gelewer sal word. Ons neem in ag dat Gauteng deur ’n moeilike tyd met Covid-19 gaan en ons sal bepaal hoe ons die uitspraak lewer. Die betooghoofde was nuttig vir ons en ons waardeer die manier hoe die partye die saak hanteer het. Ons behou dus ons uitspraak voor,” het regter Kollapen die verrigtinge afgesluit.

25 Jun. 16:02:10

Regter Kollapen sê dit is dan die einde van die argumente voor die hof.

25 Jun. 16:00:27

Mpofu vra hof moet Ace se skorsing ophefLlewellyn Prince

Niemand kan ontken dat daar faksionalisme in die ANC is nie, voer Mpofu aan.

Volgens hom het selfs pres. Cyril Ramaphosa onlangs gesê dat dit uitgeroei moet word.

“Nou word daar gesê Magashule verbeel hom dat die dinge teen hom weens faksionalisme is.”

Mpofu vra die hof ter afsluiting om Magashule se versoek goed te keur om die skorsing ter syde te stel.

“Ons vra die hof om die regte ding te doen, ongeag wie betrokke is. Daar is oortreding teen ons Grondwet en dit is belangriker om die Grondwet as individue te beskerm.

“Ons vra dat ons aansoek goedgekeur word.”

25 Jun. 15:45:03

Mpofu hou vol Ace is weens faksionalisme geskors Llewellyn Prince

Die ANC het nie vir Ace Magashule op morele gronde uit die party geskors nie, maar eerder weens faksionalisme, hou Mpofu vol.

Hy het voorts aangevoer dat dit nie die geval kon wees nie omdat Magashule op 8 Mei vanjaar uit ’n spesiale NUK-vergadering geskop is “wat deur baie mense bygewoon is teen wie daar ook beweringe van korrupsie is”.

“Onder daardie mense was oudpres. Jacob Zuma, wat van allerhande soorte korrupsie aangekla word. Hy is toegelaat om in die NUK-vergadering te sit waar Magashule uitgeskop is. ’n Mens kan jou nie ’n groter onreg voorstel nie.”

Volgens Mpofu is daar ook ander “soos Gwede Mantashe, Zizi Kodwa, adj.pres. David Mabuza, Cedric Frolick en Thabang Makwetla, wat ook beweringe van korrupsie teen hulle het”.

“Van hulle is vandag ministers en adjunkministers, hoewel hulle ook deur die Nasrec-resolusie oor die opsystaan-besluit geraak word. Ramaphosa ingesluit. Hoekom word hulle ook nie geraak nie? Dit is omdat die nuwe opsystaan-reël aangepas is om net diegene te raak wat aangekla is – sodat hulle nie daardeur geraak kan word nie.”

25 Jun. 15:23:04

Ace word deur ANC 'gestoomroller'Llewellyn Prince

Ace Magashule is duidelik deur die ANC “gestoomroller” om sy skorsingsbrief aan pres. Cyril Ramaphosa terug te trek en ook om verskoning daarvoor te vra, voer Mpofu aan.

Volgens Mpofu is dit tekenend van die “ergste diktatorskappe ter wêreld waar selfs die gedagte om die president te skors as ’n belediging jeens die president beskou word en dat dit net uitgegooi moet word”.

“Dit word beledigingswette in diktatorskappe genoem, waar dit ’n misdaad is om ’n president te beledig.”

Volgens Mpofu is dit wat in Magashule se geval gebeur het. “Die reëls van die ANC se nasionale konferensie was baie duidelik in die sin dat elke kader wat beskuldig word van die of daardie oortreding deur die sekretaris-generaal geskors moet word.”

Volgens Mpofu moet alle ANC-lede, van die president tot gewone taklede, daarom soortgelyk behandel word.

Mpofu het verder betoog dit is daarom steeds Magashule se oortuiging dat sy skorsing van Ramaphosa geldig is.

Ook dat die opdrag dat hy (Magashule) om verskoning moet vra as onafdwingbaar verklaar moet word.

Mpofu het bygevoeg dit is duidelik in die ANC se Reël 25.70 in die party se grondwet dat dit as ’n tugreël ingeskryf is. Hy voer aan dat dit nie net is om die ANC te beskerm nie, soos Trengove vroeër betoog het.

“Daar is geen manier dat jy in dié geval iemand nie ’n regverdige verhoor gee om sy kant van die saak voor ’n skorsing te kan stel nie,” het Mpofu betoog.

25 Jun. 15:04:08

Mpofu sê daar's geen teenstrydigheid in Ace-aansoekLlewellyn Prince

Daar is nie ’n teenstrydigheid in Ace Magashule se hofaansoek teen die ANC nie, voer Mpofu aan.

Magashule hou vol dat Reël 25.70 ongrondwetlik is en dat dit ongeldig verklaar moet word.

Mpofu sê daar is geen teenstrydigheid in Magashule se argumente, soos Trengove beweer het, nie.

Trengove het vroeër gesê Magashule wil die reël ingevolge waarvan hy geskors is, ongeldig laat verklaar, terwyl hy aan die ander kant vra dat sy skorsing van Ramaphosa gehandhaaf moet word, vir wie hy ingevolge dieselfde reël geskors het.

“Hy het op die Nasrec-resolusie staatgemaak om Ramaphosa te skors,” het Mpofu bygevoeg.

Volgens Mpofu spreek Magashule se skorsingsbrief aan Ramaphosa vanself en verduidelik hy daarin waarom hy hom geskors het.

“Laat ons asseblief nou aanvaar dat die sogenaamde teenstrydigheid (waarvan Trengove gepraat het) ’n versinsel is.”

Mpofu voer aan dat dit wel so is dat die Valke en die howe Ramaphosa se CR17-veldtog ondersoek.

“Hy het ook voor die Zondo-kommissie getuig dat daar net R300 miljoen ingesamel is deur die CR17-veldtog. Ander mense sê dit is R1 miljard. Dit maak nie saak hoeveel dit was nie, die punt is dat hy geld gebruik het om die uitslag van ’n konferensie te beïnvloed.

“Hy het vir die openbare beskermer gesê dat hy nie die kwessie met haar kan bespreek nie omdat dit ’n ANC-kwessie is. Dit is nou ’n ANC-kwessie hierdie. Dit gaan oor die sekretaris-generaal van die ANC. Hy moet nou die gevolge dra.”

Volgens Mpofu was Magashule ook nog die sekretaris-generaal toe hy Ramaphosa geskors het.

“Hy het ook onder eed gesê dat sy brief voor sy eie skorsingsbrief gekom het. Die media hou van hierdie invalshoek dat hy uit weerwraak opgetree het deur Ramaphosa te skors. Hoe kan dit wees as hy nie van sy eie skorsing geweet het nie? Hy is nie ’n profeet nie.”

25 Jun. 14:42:44

Mpofu hou vol Cyril se skorsing is geldig – Llewellyn Prince

Pres. Cyril Ramaphosa se “skorsing” uit die ANC is geldig, het Mpofu verder namens Magashule betoog.

Volgens hom kan daardie skorsing nie geïgnoreer word totdat dit deur ’n hof ter syde gestel word nie.

Mpofu voer verder aan dit is dieselfde geval as met ’n hofbevel. “Jy moet die nodige regstappe doen om te verseker dat dit ter syde gestel word. Anders sal daar net ’n chaos wees omdat mense dan net sal doen wat hulle wil. Dit kan nie gebeur nie.

“Ons punt is dat as Ramaphosa gedink het sy skorsing is nie geldig nie, moes hy soos Magashule die hof genader het om dit onwettig te laat verklaar. Hy het dit nie gedoen nie.

“Die skorsingsbrief is geldig en die skorsing is geldig. Die man is geskors soos ons hier praat. Daar is nie aparte wette net omdat jy ’n president is nie.”

Volgens Mpofu spruit die geldigheid van die skorsing uit die gebrek aan optrede deur Ramaphosa. “Hy het net besluit om dit in die asblik te gooi. Dit werk nie so nie. Al neem hy dit ook hof toe, sal hy ook nie suksesvol wees nie omdat die skorsing wettig is omdat dit behoorlik gemagtig is.”

25 Jun. 14:33:30

Mpofu gaan voort met sy repliek op Trengove se argumente.

25 Jun. 14:33:22

Die verrigtinge word hervat.

25 Jun. 14:26:39

Verrigtinge word vir 'n oomblik deur tegniese probleme ontwrig.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Hof  |  Anc  |  Skorsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.