Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Dag 2 van Ace vs. ANC

Vrydag was die tweede dag van die hofstryd tussen die beleërde Ace Magashule en die ANC in die hooggeregshof in Johannesburg.

Magashule het hom tot die hof gewend om sy tydelike skorsing as die party se sekretaris-generaal ter syde gestel te kry. Die ANC staan die aansoek teen.

Pres. Cyril Ramaphosa en Jessie Duarte, ANC-adjunk-sekretaris-generaal, is saam met die party respondente in die aansoek.

Magashule vra ook dat die ANC se opsystaan-besluit ter syde gestel word.  Hy en verskeie ander ANC-lede, wat tans in howe op aanklagte van korrupsie en ander ernstige misdade teregstaan, is ingevolge hierdie besluit geskors nadat hulle geweier het om hul poste vrywillig te ontruim.

25 Jun. 14:26:26

Mpofu kla oor lang klagstaat teen Magashule – Llewellyn Prince

Enige dokument wat irrelevant vir Ace Magashule se hofsaak is, moet geskrap word.

Mpofu het namens Magashule so betoog en bygevoeg dat dit “skrikwekkend” is dat Trengove vroeër Vrydag kon betoog het dat dit nie saak maak hoeveel bykomende dokumente daar oor ’n spesifieke onderwerp, soos die CR17-kwessie in hierdie geval, by die aansoek ingedien word nie.

Volgens Mpofu kan dit nie die geval wees nie en moet dit nie deur die hof toegelaat word nie.

“Soos die verslae van die openbare beskermer wat deel van hierdie aansoek gemaak is, wat totaal irrelevant is. Dit het niks te doen met waarmee ons hier besig is nie. Hy (Ramaphosa) het daardie dokumente as staatshoof by die openbare beskermer ingedien. Ons is hier met ANC-sake besig.”

Mpofu sê dit is so dat Ramaphosa en Duarte se dokumente in hul hofsake met mekaar s’n oorvleuel en dat dit op die “onnodige” duplisering van dokumente neerkom.

Mpofu kla ook oor die lang klagstaat teen Magashule, wat ook as deel van die respondente se hofstukke by die hof ingedien is, en voer aan dat dit net gedoen is om Magashule in die verleentheid te stel.

Hy vaar ook uit teen Trengove se argument dat Ramaphosa en Duarte nie om verskoning moes vra vir die laat indiening van hul hofstukke nie.

“Dit maak nie saak of dit die president van die wêreld is nie, elke litigant moet die spertye van die howe gehoorsaam. Hulle moet respek jeens die hof betoon.

“As dit toegelaat word, sal ons howe werklik tot ’n grap gereduseer word. Daar moet geen onderskeid tussen litigante getref word nie. Dit is waarom ons vertel word dat geregtigheid blind is.”

25 Jun. 14:06:35

Die hofverrigtinge word hervat. Adv. Dali Mpofu, SC, vir Magashule, begin nou sy repliek op Trengove se argumente.

25 Jun. 13:24:24

Die hof verdaag tot 14:00.

25 Jun. 13:24:09

CR17-veldtog was 'onskuldig en wettig', sê TrengoveLlewellyn Prince

Die CR17-veldtog was 'n “onskuldige en wettige” veldtog.

“Hy (Ramaphosa) het dit ook voor die openbare beskermer aangevoer toe hy vroeër ook versoek is om daaroor aan haar verslag te doen. Dit is ook sy argument om die CR17-bewerings teen hom in hierdie aansoek te verdedig.”

Volgens Trengove is Magashule se argument, dat hierdie onderwerp irrelevant in hierdie aansoek is, nie geldig nie omdat Magashule júís die CR17-veldtog die grondslag van sy “skorsing” van Ramaphosa gemaak het.

25 Jun. 13:16:43

ANC sê bewerings 'beledigend, onwaar'Llewellyn Prince

Die bewering dat die ANC se opsystaan-reël deur pres. Cyril Ramaphosa en sy faksie in die ANC misbruik word om van politieke vyande in die party ontslae te raak, is beledigend en onwaar.

Volgens Trengove was dit eerder 'n waterskeidingsoomblik op die party se Nasrec-konferensie in 2017 toe die ANC besluit het om positiewe stappe te doen om korrupsie uit te roei.

“Die implementering van die opsystaan-reël het uit daardie waterskeidingsoomblik gespruit. Om dit toe te skryf aan wraaksugtige misbruik deur 'n ANC-faksie, is beledigend en onwaar."

Volgens Trengove voer Ramaphosa dit in sy hofstukke aan en is dit relevant en 'n regstreekse reaksie op Magashule se klag oor faksionalisme in die ANC.

Trengove het bygevoeg dat Magashule in sy hofstukke ook 'n groot aanslag op die ANC en Ramaphosa maak en aanvoer dat die party van faksionalisme deurtrek is.

“Hy voer ook aan dat daar twee hooffaksies in die ANC is en dat die oorheersende een die CR17-faksie onder leiding van die president is. Hy skeur dan die party op hierdie faksionele gronde uitmekaar.”

Volgens Trengove het Magashule ook aangevoer dat die CR17-faksie die opsystaan-reël misbruik om ontslae te raak van politieke vyande in die party, van wie hy die hoofteiken is. Ramaphosa ontken dit.

25 Jun. 12:45:03

Trengove sê Ace was 'oneerlik, wil Cyril op vals gronde skors' – Llewellyn Prince

Ace Magashule was “oneerlik” toe hy probeer het om Ramphosa “op vals gronde” te “skors”, sê Trengove oor Magashule se skorsingsbrief aan die president.

“Hy (Magashule) beweer dat hy die president op magtiging van die NWK en ingevolge Reël 25.70 geskors het en hy het vals bewerings gemaak dat die Valke die CR17-aangeleentheid ondersoek.

“Die president stel dit duidelik dat daardie bewerings vals is. Die president sê ook dat niemand nog ooit beweer het dat daar enige misdadigheid by die CR17-veldtog betrokke was nie. 'n Volbank van die hooggeregshof het ook bevind dat daar geen bewyse van wangedrag was wat die CR17-veldtog betref nie. Magashule se bewerings is vals en word deur die president ontken.

“Behalwe dat Magashule se bewerings vals is, het hy ook geweet dat die president nie daarvoor aangekla is nie of dat daar geen magtiging van die NWK af was nie.

“Dit diskwalifiseer daarom die beweerde skorsing van die president onder Reël 25.70. Dit is 'n oneerlike poging om die president op vals gronde te skors. Nie net is dit oneerlik nie, hy het ook baie vroom en valslik voorgegee dat hy gedink het dat hy net sy pligte uitgevoer het.”

25 Jun. 12:37:43

Ace sê Cyril se 'skorsing' geldig, maar syne onder dieselfde reël ongeldigLlewellyn Prince

Dit is “buitengewoon” dat Ace Magashule 'n hof kan vra om sy “skorsing” van pres. Cyril Ramaphosa uit die ANC onder Reël 25.70 van die party se grondwet te handhaaf, maar terselfdertyd ook vra dat dieselfde reël waaronder hý ook geskors is, ongeldig verklaar word, betoog Trengove, SC, namens pres. Cyril Ramaphosa en die ANC.

“Hy verdedig daardie skorsing ten spyte daarvan dat die president vooraf geen verhoor gegun is nie. Hul voorstelling dat die president 'n verhoor oor sy skorsing voor die integriteitskommissie gegee is, is wensdenkery.

“Hy het ook beweer dat hy die president op magtiging van die nasionale werkkomitee (NWK) geskors het. Hy ontken dan ook nou dat die NWK die mag gehad het om sy eie skorsing te magtig.

“En ten spyte van al hierdie teenstrydighede hou hy aan om aan te voer dat die 'skorsing' van die president geldig was.”

Volgens Trengove is die skorsingsbrief wat Magashule aan Ramaphosa gestuur het, “uit en uit oneerlik, maar ook uit en uit regsgebrekkig”.

“Die feite daarin is verdraai om dit binne Reël 25.70 te plooi, maar ook op valse gronde. Dit omdat Reël 25.670 dit in sy openingsreël duidelik stel dat dit net van toepassing is op mense wat van 'n misdaad aangekla word.

“Magashule beweer daarin dat hy ingevolge Reël 25.70 optree, maar hy kon nie daarin beweer dat die president aangekla is nie. Hy het egter sy bes gedoen om voor te gee dat sy rede aan daardie vereistes voldoen.”

Volgens Trengove beweer Magashule in die brief dat die CR17-kwessie ook deur die Valke ondersoek word en dat dit ook hangend in 'n hof is.

“Dit is 'n vals poging van hom om dit binne die betrokke reël te bring.”

Trengove het bygevoeg dat Magashule “oneerlik” was in die brief omdat hy baie goed geweet het dat die opsystaan-reël net van toepassing is op ANC-lede wat in 'n hof aangekla word.

25 Jun. 12:12:25

'Ace maak nie kapsie toe hy kans gehad het nie,' sê TrengoveLlewellyn Prince

Magashule het talle geleenthede gehad om kapsie te maak teen die NUK van die ANC se opsystaan-reël, ingevolge waarvan hy geskors is, maar hy het dit nie gedoen nie, sê Trengove in reaksie op 'n vraag deur Molahlehi.

“Hy het ook verskeie kere daaroor met die ANC se topsesleiers vergader. Sy spesifieke reaksie daaroor is daartydens ook bespreek en Duarte sê ook (in haar hofstukke) dat hy verskeie geleenthede gehad het om kapsie daarteen te maak.

“Hy was ook in 'n ongewone posisie waarin hy aan die opstel van die resolusie deelgeneem het. Hy was ook deel van die besluitnemingsproses daaroor en kan daarom nie nou aanvoer dat hy nie kans gegun is om voor sy skorsing gehoor te word nie.”

Trengove sê Magashule se argumente hieroor is ook erg teenstrydig wat sy eie “skorsing” van Ramaphosa betref. Volgens Trengove is dit ook 'n buitengewone argument van Magashule dat Duarte hom (Magashule) nie mag geskors het nie.

“Dit is absurd dat Magashule die enigste een is wat homself kon geskors het. Dit omdat hy die laaste persoon in die wêreld sou wees om so 'n besluit oor sy eie lot te neem. Hy kan nie regter in sy eie saak wees nie.

“Die antwoord is met die grootste respek dat die ANC se reëls dit duidelik stel dat Duarte Magashule se funksies kon oorneem indien dit nodig sou wees en die ANC-strukture so sou besluit.”

25 Jun. 11:58:02

'Ace-skorsing is geldig, hy is verhoor en kon kapsie maak,' sê Trengove – Llewellyn Prince

Ace Magashule is 'n regverdige verhoor gegee voordat die ANC hom tydelik geskors het, het Trengove sy betoog voor die volbank regters voortgesit oor onder meer die geldigheid van Magashule se tydelike skorsing.

Magashule voer aan dat sy skorsing onwettig is omdat hy nie 'n regverdige verhoor gekry het nie, dat sy grondwetlike regte daarmee geskend is en dat Jessie Duarte as adjunk-sekretaris-generaal nie gemagtig was om 'n skorsingsbrief aan hom uit te reik nie. Hy voer ook aan dat net hy gemagtig is om 'n ANC-lid te skors.

Volgens Trengove is die vraag of Magashule geregtig was op 'n regverdige verhoor voordat hy geskors was en of hy dit gekry het.

Trengove sê dit is sy kliënte se argument dat iemand wat ingevolge Reël 25.70 van die ANC se grondwet geskors word, nie op 'n regverdige verhoor geregtig is nie.

Volgens Trengove laat die reël die ANC toe om 'n lid in die beste belang van die party te skors.

“Magashule het ook 'n breedvoerige verhoor gehad.”

Trengove sê Magashule is 'n regverdige verhoor gegee deur die ANC se integriteitskommissie, wat 'n aanbeveling aan die NUK gemaak het dat hy weens die hofsaak teen hom onmiddellik opsy moet staan. As dit nie gebeur nie, moet so 'n lid opdrag gegee word om opsy te staan en geskors word as hy weier.

Volgens Trengove het die NUK net daardie aanbeveling geïmplementeer.

Magashule het volgens homself aan die integriteitskommissie gesê dat hy opsy sal staan as die NUK hom sou beveel om dit te doen.

“Hy was ook 'n lid van die NUK gedurende die proses om die opsystaan-riglyne op te stel. Hy kon kapsie gemaak het daarteen. Hy het goed geweet dat die opsystaan-resolusie op hom van toepassing was en dat dit hom regstreeks sou raak. Hy het 'n gulde geleentheid gehad om kapsie daarteen te maak.”

25 Jun. 11:22:16

Die hof verdaag vir 10 minute.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Hof  |  Anc  |  Skorsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.