Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dan gooi ons eerder die kos weg, sê boere

Boere sal eerder hul voedselskenkings vernietig voordat hulle dit vir die regering gee om dit sentraal te beheer.

Vrugte en groente wat deur boere van Agri Wes-Kaap geskenk is, word die afgelope week aan behoeftige mense in Ravensmead, Bonteheuwel, Bishop Lavis, Atlantis en Parow uitgedeel. Foto: AgriSA

Hulle sal ook voortgaan om voedsel aan nieregeringsorganisasies van hul keuse te skenk om uit te deel “ongeag die regering se diktatoriale pogings om voedselskenkings en die verspreiding daarvan te beheer”.

“Boere weier doodeenvoudig om gehoor te gee aan die regering se eise dat kos sentraal beheer word. Hulle sê hulle sal hul voedselskenkings eerder vernietig as om dit vir die regering te gee om te versprei,” sê Theo de Jager, president van die Wêreldlandbou-organisasie (WLO) en voorsitter van die landbounetwerkorganisasie Saai (Suider-Afrika Agri-inisiatief).

Die hooggeregshof in Kaapstad het Vrydag gelas dat die regering niemand mag keer om kos uit te deel of te ontvang nie. Die DA het die hof gevra om Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, se verbod op sopkombuise en regulasies wat die uitdeel van kospakkies sentraliseer ongeldig te verklaar.

Die hof het gelas dat die uitdeel van voedsel deur nieregeringsorganisasies vir die volgende drie weke normaalweg mag voortgaan totdat hy die saak aanhoor. Die saak is tot 19 Junie uitgestel.

‘Ons kry aanhoudend noodoproepe van kwesbare mense wat vir ons hulp vra omdat hulle nie enige hulp van die staat af kry nie.’

Volgens die DA het die departement reeds konsepregulasies oor die sentralisering van kospakkies begin toepas. Die party voer aan dat heelwat nieregeringsorganisasies wat betrokke is by die uitdeel van kospakkies reeds deur die polisie en amptenare van die departement van maatskaplike ontwikkeling aangesê is om op te hou.

Nieregeringsorganisasies se lede kan in hegtenis geneem word as hulle kos uitdeel, sê die DA. Hy voer in die hof aan dat die minister geen magtiging het om sulke regulasies uit te reik nie, dat die regulasies irrasioneel is, dat sy nie die regte prosedures gevolg het nie en dat die regulasies strydig is met die grondwetlike reg op toegang tot voedsel.

De Jager sê munisipale amptenare het hom reeds oor voedselskenkings gekonfronteer. “Die amptenare wil weet waar ons kos aflaai en hoe ons bepaal wie kos kry.”

Hy sê boere verwag dat hulle presies weet waarheen hul voedselskenkings gaan en dat dit nie vermors word nie. “Boere vrees dat hulle voedselskenkings by stadsraadslede kan eindig wat dit vir politieke redes gebruik of in spazawinkels, waar dit vir ’n wins aan armes verkoop word.

“Ons beskou die sentralisering van voedselskenkings as sinloos en dat ’n ideologiese agenda hierdeur gedryf word. Ons koop eenvoudig nie die staat se verduideliking dat dit vir kwaliteitbeheer is nie.”

Volgens De Jager word heelwat van die boere se voedselskenkings in landelike gebiede uitgedeel, waar mense al vir weke wag dat die regering vir hulle kos gee.

“Ons kry aanhoudend noodoproepe van kwesbare mense wat vir ons hulp vra omdat hulle nie enige hulp van die staat af kry nie.”

Hy sê boere probeer ook verseker dat kospakkies by hul seisoenswerkers uitkom.

Volgens hom is die sentralisering van kosverspreiding boonop onprakties vir boere omdat hulle hul skenkings op eie onkoste na pakhuise sal moet aanry wat deur die regering geïdentifiseer word.

Hy sê Saai het die afgelope week reeds 210 000 maaltye beskikbaar gestel wat deur AfriForum en Solidariteit Helpende Hand uitgedeel is. Die kos is na kerksale geneem wat in pakkamers omgeskep is.

Christo van der Rheede, adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA, sê hulle is sterk gekant teen die departement se riglyne. “Die regering gaan nie vir ons voorskryf vir wie ons kan kos voorsien nie en ons steur ons nie aan Zulu se pogings om haar beleid af te dwing nie.”

Van der Rheede sê hulle is in samewerking met nieregerings- en liefdadigheidsorganisasies by verskeie projekte betrokke om te verseker dat groot getalle mense nie honger ly nie. “Dit is organisasies met bestaande netwerke wat al vir jare bestaan.”

Volgens hom het Agri SA ’n goeie verhouding met die polisie om orde te handhaaf wanneer hulle kos in sekere gebiede aflaai. Hy sê Agri SA het onder meer al duisende maaltye aan die liefdadigheidsorganisasie Food Forward SA geskenk om die behoeftigste mense tydens Covid-19 gevoed te hou.

“As dit nie vir boere was nie, was die land lankal in die moeilikheid.”

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê AfriForum en Solidariteit Helpende Hand sal nie voedselsentralisering of die regulering van voedselskenkings aanvaar nie en sal voortgaan om voedsel aan mense in nood uit te deel.

Meer oor:  Theo De Jager  |  Christo Van Der Rheede  |  Inperking  |  Kospakkies  |  Agri Sa  |  Boere  |  Kosnood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.