Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
'Dank Gordhan af of ons ontwrig staatsrede'

Die ontwrigting van pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede deur die EFF eerskomende Donderdag blyk ’n uitgemaakte saak te wees.

Dit was Sondag duidelik toe Julius Malema, EFF-leier, joernaliste op ’n mediakonferensie in Erasmia, Centurion, toegespreek het.

“As die staatsrede vreedsaam moet wees, moet pres. Cyril Ramaphosa die eerbare ding doen en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings afdank.

“Massa-optrede is onderweg teen Gordhan. Dit sal op 13 Februarie in die parlement begin. Wanneer Cyril begin praat, sal ons praat oor Pravin wat moet gaan.”

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings.

Malema het verlede maand al gedreig dat sy party die staatsrede sal ontwrig as Ramaphosa Gordhan nie in die pad steek weens sy aandeel in die huidige Eskom-krisis nie.

Hy het ook ingeklim onder Ramaphosa en gesê die ekonomie is besig om onder sy leierskap “ineen te stort”.

“Sy regering is besig om staatsinstellings – wat die mense se eiendom is – af te takel en te destabiliseer om privatisering en die massa-aflegging van werkers te regverdig. Hy stel effektief witmonopoliekapitaal in staat om staatsinstellings oor te neem en die rol van die staat in die ekonomie en in nywerheidsontwikkeling in die algemeen te beperk.”

Die krisis by Eskom het onder die “onbevoegde en skynbaar onaantasbare” Gordhan vererger.

“Suid-Afrika het daagliks kragonderbrekings wat die sosiale en ekonomiese lewe ontwrig. Tog is daar geen gevolge vir Pravin Gordhan, die minister wat verantwoordelik is vir dié krisis nie.”

Boonop word die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) ook deur ineenstorting bedreig.

Land is uitverkoop

Ramahosa gaan aangevat word, het Malema gesê. Hy het die president daarvan beskuldig dat hy die land aan die “witman” uitverkoop. “Ons het besluit geneem om hulle uit te daag.”

Ramaphosa ontmoet volgens Malema gereeld politieke leiers, maar die EFF glo dit is ’n poging om dié leiers te “neutraliseer.” Die party het dus besluit dat geen EFF-leier ooit vir Ramaphosa of enige bedryfsleiers privaat moet ontmoet nie.

Twee mans – Jabu Mabuza, voormalige Eskom-hoof, en Gordhan – het Ramaphosa volgens Malema mislei.

“Die swartman het geval, maar die Indiër bly omdat dié minderhede nie aangeraak word nie.”

De Klerk mag nie staatsrede bywoon

Die EFF beplan om na die departement van staatsondernemings in Pretoria op te ruk om te eis dat Gordhan bedank. Die party vra ook dat oudpres. F.W. de Klerk nie die staatsrede moet bywoon nie en die Nobelprys vir Vrede “teruggee” omdat hy ’n “onboetvaardige apartheidsapologeet” is.

Malema het ook aangekondig dat die EFF aan die adjunkregterpresident van die hooggeregshof in Pretoria, Aubrey Ledwaba,  gaan skryf om die CR17-dokumente wat verseël is, oop te stel. Die party is bereid om ’n hofaansoek te bring om die dokumente oop te stel.

“Die howe moet die dokumente oopstel. Ons wil weet wie vir Cyril geld gegee het.”

Die SAID-3

Die “irrasionele en faksionele” besluit om die saak teen drie voormalige amptenare van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens terug te trek is ’n verkeerde besluit. Ons gaan daardie besluit uitdaag – hulle was reeds in die hof en het gepleit. Laat ’n hof besluit, nie iemand wat deur Ramaphosa ontplooi is nie.”

Die EFF gaan ook die mosie om adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer, uit haar pos te verwyder, teenstaan en is ook gekant teen die insluiting van regter Robert Nugent in die paneel wat die voorlopige ontleding in dié verband moet doen.

Verskeie betogings word ook deur die EFF bepan. ’n Optog teen die privatisering van Eskom vind op 28 Februarie plaas.

Optogte word ook beplan na die eiendom van Johann Rupert, veral sy plase in Mpumalanga en in die Wes-Kaap, na Stephen Koesheff van Investec weens sy “onbehoorlike invloed” in die politieke sake van die land deur die marionet Ramaphosa” asook na die OR Tambo-lughawe om die sluiting van die Oppenheimers se private aankomsaal te eis, het Malema aangekondig.

• Hy het ook aangekondig dat dr. Mbuyiseni Ndlozi nie meer die nasionale woordvoeder van die EFF is nie. Hy is nou die hoof van politieke onderrig in die party. Die nuwe partywoordvoerders is Delisile Ngwenya en Vuyani Pambo wat naam gemaak het as n #FeesMustFall aktivis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.