Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
De Lille hoor Woensdag oor geheime stemming
Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, groet ondersteuners toe sy Dinsdag by die hooggeregshof in Kaapstad aankom. Foto: Jaco Marais

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, hoor Woensdagmiddag of die hooggeregshof ’n geheime stemming sal toelaat in die mosie van wantroue wat haar party teen haar ingedien het.

Regter Robert Henney het Dinsdag uitspraak in De Lille se dringende aansoek uitgestel tot Woensdag om 14:00 nadat hy ure lank die vertoë van De Lille, die DA en die stad Kaapstad se regspanne aangehoor het.

De Lille se regsadviseur, adv. Dali Mpofu, het in die hof gesê sy kliënt soek ’n hofbevel om te verseker dat DA-raadslede in die geheim kan stem.

Mpofu sê sy kliënt wil nie hê dat die wantrouemosie teen haar gestuit word nie, maar sy wil verseker dat raadslede vryelik kan stem sonder enige druk van die party se leiers.

Ondersteuners omring Patricia de Lille, Kaapstadse burgemeester, op die trappe van die hooggeregshof. Foto: Jaco Marais

Die DA-koukus in die Stad Kaapstad het op die mosie teen De Lille besluit omdat hulle vertroue in haar verloor het.

Mpofu sê om te verwag dat DA-koukuslede in ’n openbare stemming teen die mosie sal stem, is soos ’n selfmoordbomaanvaller wat homself opblaas.

Adv. Ismail Jamie, SC, vir die DA, sê De Lille het haar strategie verander omdat sy besef het sy gaan nie haar sin by die speaker van die stadsraad kry nie.

“Die verligting wat eers teen die stad gesoek is, word nou skielik teen die party gesoek. Omdat hulle nie die resultate kan kry wat hulle eers wou gehad het nie, wil hulle nou hê dat die hof die party moet beveel om sy lede in die stadsraad opdrag te gee om in geheim te stem.”

Volgens Jamie is daar geen rede hoekom die DA dit moet doen nie.

“Omdat die hof nie aan die speaker van die raad kan sê wat om te doen nie, wil hulle (De Lille) nou die party dwing.”

Jamie sê die saak hou met De Lille se politieke oorlewing verband en haar vrees dat as die stemmery nie geheim is nie, sy uitgestem sal word.

Hy sê De Lille se wenslys is nie ’n regsargument nie en gevolglik vra sy kliënt dat die aansoek van die hand gewys word.

Mpofu hou egter vol ’n geheime stemming is die enigste manier om die kwessie op te los.

Adv. Dali Mpofu lei sy kliënt Patricia de Lille na die hofsaal in die hooggeregshof in Kaapstad waar sy ’n hofbevel vra dat die stemmery in die mosie van wantroue teen haar geheim moet wees. Foto: Jaco Marais

De Lille het ná die hofverrigtinge gesê daar is baie intimidasie. Sy het die dringende aansoek ingedien om te verseker dat DA-raadslede vryelik kan stem.

Bonginkosi Madikizela, die DA se provinsiale leier, het ook die hofverrigtinge in die oggend bygewoon. Hy sê hy het nie ’n probleem met ’n geheime stemming nie, maar wel met die feit dat De Lille se regspan glo net ’n geheime stem kan ’n vrye stem wees.

Madikizela is deur die skare uitgejou toe hy en Grant Twigg, die DA se voorsitter in die metro, by die hof opgedaag het.

Ondersteuners van De Lille het hul misnoeë uitgespreek met die DA se drastiese stap om van haar ontslae te raak. Inwoners van Retreat, Imizamo Yetho in Houtbaai, Langa en ander gebiede in die Kaap het hul stem voor die hof dik gemaak dat De Lille as burgemeester moet bly.

Selfs EFF-ondersteuners in volle partydrag het De Lille ondersteun, terwyl die PAC-vlag prominent gewaai is. De Lille was voorheen ’n leier van dié party. Mense het vryheidsliedjies gesing, waaronder “Senzeni na” en “Malibongwe”.

Ziyanda Phandle, een van die ondersteuners, het buite die hof gesê sy ondersteun De Lille omdat sy tydens die verwoestende brand in Imizamo Yetho verlede jaar die mense gehelp het.

Dora Korah van Retreat het gesê De Lille veg vir die regte van die armes en sy gee nie voor dat sy wil help nie. Betogers met plakkate wat lui “De Lille mother of the poor” en “Keep mayor De Lille”, het De Lille omring terwyl sy die hof binnegestap het.

Lulama Bini van Houtbaai het gesê De Lille “het al haar beloftes gehou toe ons huise afgebrand het”.

Baie het bevestig dat hulle nie DA-lede is nie, maar dat hulle De Lille as burgemeester van Kaapstad ondersteun

Meer oor:  Patricia De Lille  |  Da  |  Afdanking  |  Burgemeester  |  Geheime Stemming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.