Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
De Lille reg ‘om die hel uit enigiemand’ te dagvaar

Klagte van omkopery teen Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, is deur die nasionale vervolgingsgesag teruggetrek, het sy Sondag bevestig.

Haar regspan is ook aangesê om ’n lastersaak van R1 miljoen aanhangig te maak teen die sakeman van Vanderbijlpark wat die aantygings teen De Lille gemaak het.

“Ek is verlig dat geregtigheid geseëvier het en ek weer eens reg bewys is,” het De Lille Sondag in ’n verklaring gesê.

“Dit is ’n bewys van die venynige heksejag wat die afgelope jaar gevoer is om van my ontslae te raak.”

Patricia de Lille, uitgaande burgemeester van Kaapstad. Foto: Adrian de Kock

Volgens De Lille is sy die afgelope week deur die Valke in kennis gestel dat die senior openbare aanklaer die bewyse oorweeg het en besluit het om haar nie te vervolg nie.

De Lille het Sondagmiddag op ’n mediakonferensie ook gesê sy sal nie huiwer om “die hel uit enigiemand te dagvaar” wat haar naam in oneer bring nie, berig Jan Gerber.

Sy sal glo Woensdag ’n aankondiging hieroor maak en ook die name van LP’s bekend maak.

Die DA het in Februarie strafregtelike klagte van korrupsie en omkopery teen De Lille ingedien in verband met die aantygings van Anthony Faul, ’n sakeman, dat sy in 2012 R5 miljoen se omkoopgeld van hom geëis het om sy brandblussers in informele nedersettings te bemark.

“Ek het dié verregaande aantygings uit die staanspoor verwerp toe dit vanjaar uit die bloute verskyn het.

“Dit was op die hoogtepunt van die tyd toe die DA my tot elke prys probeer verwyder het deur allerhande bewerings teen my te maak in die hoop dat dit sou werk.”

De Lille sê die pogings om haar verdag te maak en haar “swaar verdiende integriteit” te verwoes, het weer tot niks gekom nie.

“Ek het ontsaglik baie mishandeling verduur en al die aantygings wat wyd deur die DA versprei is, het my aansien groot skade berokken.”

In Februarie is berig dat Faul geweier het om die omkoopgeld te betaal en De Lille toe haar steun aan sy projek onttrek het.

De Lille het gesê Faul het in November 2012 ’n voorlegging aan die metroraad gedoen oor sy outomatiese brandblussers en gesê hy het ’n brief van ondersteuning of voorneme vir die projek nodig om finansiering te kry.

Dié brief is deur De Lille onderteken en na bewering was daar ’n verstandhouding dat die metroraad 250 000 brandblussers gratis sou kry.

Vroeg in 2013 het dit glo geblyk Faul wou hê die metroraad moet 1 000 blussers by hom koop. De Lille het gesê dit het haar woedend gemaak omdat die aanvanklike voorwaardes van die projek nie nagekom is nie.

Die metroraad se bemarkingsertifikaat om beleggers te help lok, is toe teruggetrek.

De Lille het in Februarie gesê sy het die projek beëindig toe dit duidelik geword het dat daar nie finansiering verkry gaan word nie en dat die metroraad daarvoor sal moet betaal.

Haar regspan het toe aan die DA se federale raad geskryf dat die bewerings teen haar kwaadwillig aan die media uitgelek is om die “maksimum skade” aan haar aansien te veroorsaak.

Meer oor:  Da  |  Patricia De Lille  |  Kaapstad  |  Omkopery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.