Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
De Lille se spook looi steeds die DA – Zille

Die DA betaal nou die prys vir die “onbegryplike” manier waarop dié party in Oktober 2018 van Patricia de Lille ontslae geraak het, het Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, in ’n onderhoud met Rapport gesê.

Helen Zille Foto: Jaco Marais

Dít volg nadat die DA weer in tussenverkiesings Woensdag veral bruin kiesers aan De Lille se Good-party afgestaan het.

Tog, sê Zille, is daar in elke party ’n tyd vir groei en ’n tyd vir konsolideer, en die DA moet nou konsolideer.

Die DA het in Woensdag se 24 tussenverkiesings sterk groei in ANC-wyke in die noorde ervaar, maar kiesers aan Good en die VF Plus afgestaan én sy meerderheid in Oudtshoorn verloor.

Dáár kon die DA slegs een van drie wyke verdedig en is die party – nou met slegs 12 van 25 setels – sy meerderheid van 14 setels kwyt.

‘Dis ’n tyd vir konsolideer.’

Die DA hoop nou sy samewerkingsooreenkomste met kleiner partye soos Icosa en Sarco in dié Klein-Karoo-dorp hou.

Icosa is juis in ’n vennootskap met die ANC in ’n buurmunisipaliteit.

Drie DA-raadslede in Oudtshoorn se wyke 4, 5 en 10 het in Oktober bedank.

In wyk 4 het die DA (43%) kwaai kompetisie van die ANC (42%) afgeweer. In wyk 5 het die ANC (34%) gewen nadat die DA (26%) stemme aan die Good-party afgestaan het.

En in wyk 10 het Good 27% van die steun gekry. Die DA (21%) se steun daar het sedert 2016 met 22 persentasiepunte geval, met die ANC (41%) nou in beheer.

In wyk 10 in die Langeberg-munisipaliteit (Ashton) het die DA net-net genoeg gedoen om beheer te hou, maar die party se steun het steeds met 18 punte gedaal tot 42%.

Zille sê die verlies van steun onder bruin kiesers in landelike gebiede is vir die DA ’n groot bekommernis, maar die party pluk nou die bitter vrugte van hoe hy in 2018 van De Lille ontslae geraak het toe Mmusi Maimane partyleier was.

“Die nadraai van die onbegryplike manier waarop die party van De Lille ontslae geraak het, byt ons steeds.”

Sy sê egter die geskiedenis wys wanneer koalisies breek, verloor die DA gewoonlik eers steun voordat hy dit terugwen.

“Dis ’n geval van drie treë vorentoe en dan twee terug. Kyk in 2000 toe ons met die NP in Kaapstad ’n koalisie gevorm het, en toe daardie ooreenkoms uitmekaargeval het. Ons het aanvanklik kiesers verloor, maar hulle het later teruggekeer.”

Zille meen nie dis vanselfsprekend dat die Good-stemmers sal terugkeer nie. “Identiteitspolitiek speel ’n groot rol op die platteland. Mense stem in groepe saam en ons het nou ’n terugslag beleef met die De Lille-kwessie, maar ons sal hard werk om die kiesers terug te kry.”

Zille is wel tevrede met hoe die DA in metro’s gevaar het.

In Ekurhuleni het die DA wyke 27 en 28 met groot meerderhede behou (onderskeidelik 74% en 79%).

Hoewel die DA daar steun verloor het sedert 2016 (sien grafika) beskou Zille dit as ’n strategiese oorwinning omdat twee onafhanklike kandidate daar teen die DA gestaan het wat die steun van Herman Mashaba, die voormalige DA-burgemeester in Johannesburg, geniet.

Mashaba se ActionSA-party mag nog nie raadslede verkiesbaar gestel het nie weens ’n registrasieprobleem by die Verkiesingskommissie.

Die party het gister bevestig die kommissie het nou sy registrasie aanvaar nadat ’n nuwe logo ontwerp en ingedien is.

Die twee onafhanklike kandidate kon slegs 4% en 6% van die steun kry.

Die VF Plus sal egter tevrede wees dat sy kandidate in hierdie wyke onderskeidelik 20% (+18) en 12% (+10) van die steun kon kry.

Die DA het wyk 42 ook byna-byna by die ANC afgerokkel. In hierdie wyk, wat in Ramaphosa Elspark val en ietwat van ’n ANC-vesting is, het die DA 38% (+2) van die steun gekry teenoor die ANC se 41% (-3).

Volgens Zille is die DA baie tevrede oor hoe hy in wyke gevaar het wat die ANC beheer.

“In vergelyking met 2019 (algemene verkiesing) se persentasies vir dieselfde stemlokale het ons stemme daar met 135% gegroei,” sê sy.

In wyk 115 in die Kaapse metro het die DA 82% (-2%) gekry, terwyl die party in eThekwini se wyk 66 85% van die steun gekry het (van 80% in 2016).

“As ons Woensdag se uitslae met 2019 vergelyk, het ons steun in totaal met 2,3% in dieselfde stemlokale gegroei,” sê Zille. “Dit wys dat ons stabiliseer.”

Benewens die twee wyke wat die ANC in Oudtshoorn by die DA afgerokkel het, het die party drie wyke in Bosbokrand, Mpumalanga, by die Bosbokrand­belastingbetalersvereniging, ’n ANC-splinterparty, oorgeneem. Die party het ook in beheer gebly in wyke in Malalane en Nkomazi (Mpumalanga), in Hopetown en Groblershoop (Noord-Kaap), in Raymond Mhlaba en Engcobo (Oos-Kaap), in Blouberg (Vrystaat), Musina (Limpopo) en Ratou (Noordwes).

Die ANC sal egter bekommerd wees oor sy swak vertoning in wyk 115 in Kaapstad, waar die DA, Good, Al-Jamah en die EFF hul steun vergroot het. Laasgenoemde het, soos in November se tussenverkiesing, nie in een wyk gewen nie.

Meer oor:  Patricia De Lille  |  Helen Zille  |  Good Party  |  Tussenverkiesings  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.