Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
De Lille se suster bedank uit pos

Patricia de Lille, die minister van openbare werke, se suster Cynthia Jeffreys het uit die departement bedank as assistent-afspraaksekretaresse slegs weke nadat sy aangestel is.

Patricia de Lille, minister van openbare werke, en haar suster Cynthia Jeffreys. Foto: Facebook

Dit kom te midde van ’n ondersoek deur Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer, na bewerings van nepotisme.

Jeffreys is in Julie aangestel en het op 20 September bedank.

Dit is volgens wat De Lille Maandag in die parlement op ’n vraag van die DA geantwoord het.

“Sy het sedertdien uit haar pos bedank weens etiese redes,” het De Lille gesê in ’n skriftelike antwoord op ’n parlementêre vraag deur die DA-LP Samantha Graham-Maré.

Graham-Maré het De Lille gepeper oor of behoorlike prosesse gevolg is, hoeveel ander aansoeke ontvang is, of sy oor die nodige vaardighede beskik, en wat die verhouding tussen die twee was.

De Lille het gesê Jeffreys was ’n familielid en dat behoorlike prosesse gevolg is in terme van die staatsdiensregulasies.

“Geen aansoeke is ontvang vir die pos nie, aangesien die aanstelling van die gespesifiseerde persoon gedoen is sonder om te adverteer soos bepaal in regulasie 66, subregulasie (2) van die Staatsdiensregulasies, 2016,” het sy gesê.

Luidens die antwoord is Jeffreys aangestel met die verslapping van kwalifikasies ingevolge dieselfde wet en was sy onderworpe aan ’n onderhoud-proses om te bepaal of sy geskik is vir die pos.

“Die magtiging om dit goed te keur lê by die direkteur-generaal. Die verslapping van inherente vereistes (kwalifikasies) is ’n standaardpraktyk in die staatsdiens.”

Volgens Jeffreys het sy 14 jaar ervaring as sekretaresse, ontvangsdame en administrateur.

Volgens De Lille is personeel op grond van meriete en ervaring aangestel.

Zara Nicholson, De Lille se woordvoerder, het gesê Jeffreys se bedanking “was ’n gevolg van haar eie introspeksie”.

“Sy het ook drie maande lank bystand in die minister se kantoor gegee terwyl die kantoor besig was om personeel te werf, omdat sy ondervinding as parlementêre sekretaresse het wat sy opgedoen het toe sy voorheen by die DA gewerk het.”

- News24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.